'n Man van Londen, wat drie dae lank in 'n rioolpyp vasgesit het nadat hy in 'n afvoergat geval het, is gevind toe mense sy hulpkrete van onder die grondhoor, berig Daily Mail.

Die man kon nie uitklim toe hy in Barking, in die ooste van die Britse hoofstad, in die rioolpyp val nie, en moes toe byna 10 km ondergronds deur tonnels stap tot iemand hom in Romford hoor skree om hulp. 

Volgens die berig het die 48-jarige man, wat op 5 Februarie in die rioolpyp geval het, sowat 72 uur gestap deur die tonnels in die hoop om 'n uitgang te vind.

Sam Palmer, 'n ooggetuie op die toneel, sê sy en haar buurvrou het dadelik die owerheid in kennis gestel toe dié haar kom vertel sy het 'n man om hulp hoor roep buite Sam se werkplek. "Ons het 'n dowwe hulpkreet gehoor en begin soek," vertel sy.

Die man het heeltyd "help" geskree, maar het nie vertel hy is in 'n rioolpyp nie. "Ons het toe op die ou end opgegee en weer gaan werk, maar 'n ruk later het twee polisievoertuie buite my werkplek gestop. Toe hulle vir my sê hoekom hulle hier is, het ek hulle geneem na die plek waar ek die geskree gehoor het."

Toe hy later gered is en die daglig sien, was die man se eerste woorde: “Het jy dalk 'n sigaret?” vertel sy.

Hy het verwilderd en deurmekaar gelyk en was kaalvoet, vertel nog 'n ooggetuie.

Volgens 'n woordvoerder van die Londense ambulansdiens is die man op die toneel vir ligte beserings aan sy voete behandel.

Die naam van die man is steeds onbekend. Die saak is ondersoek, maar is intussen gesluit. 

Bronne: Daily Mail, Mirror.uk