Sy brandwonde was plek-plek so diep en sy toestand so ernstig toe hy by die hospitaal aankom dat hy in 'n kunsmatige koma geplaas moes word.

"Franck het 'n baie klein kans op oorlewing gehad. Waar die brandskade so ernstig is soos in sy geval, word die verbrande vel byvoorbeeld soos 'n gif vir die pasiënt . . . stel dit gifstowwe vry wat die lewensorgane kan aantas en hom in 'n skoktoestand dompel. Die ander groot risiko is uiteraard infeksie," het prof. Maurice Mimoun, hoofchirug by die St. Louis-hospitaal in Parys aan Franse media verduidelik.

Dis hier waar die chirurgie uitgevoer is wat Franck se lewe sou red – behandeling wat as 'n wêreld-eerste beskou word.

Franck se verbrande vel moes verwyder word, maar hy het bloot nie gesonde vel oorgehad vir enige oorplantings nie. Die algemene prosedure waar vel afkomstig van gestorwe skenkers oorgeplant word, sou waarskynlik ook nie in so 'n kritieke geval werk nie.

En net daar besluit Franck se identiese tweelingbroer, Eric, om sy geliefde boet 'n veel beter kans op oorlewing te bied deur vel vanaf nie minder nie as 50% van sy liggaamsoppervlak te skenk.

Franck het binne 'n week ná die ongeluk sy eerste oorplanting van Eric se geskenkte vel ondergaan en eindelik altesaam 'n dosyn operasies in sy vier en 'n half maande in die hospitaal ondergaan.

Daarna het die 33-jarige Fransman, wat nou vir die eerste keer saam met sy mediese span van sy merkwaardige behandeling en herstel vertel het, 'n intensiewe rehabilitasieprogram begin volg.

" 'n Reuse-voordeel van die gebruik van die vel van 'n identiese tweeling (wat uit dieselfde eier ontwikkel het), is dat die vel nooit deur die ontvanger se liggaam verwerp sal word nie," sê die St. Louis-hospitaal in 'n verklaring.

Omdat die Dufourmantelle-broers dus geneties identies is en sy liggaam Eric se skenkervel aanvaar het, kon die herstel van Franck se brandwonde en die vorming van nuwe vel veel vinniger plaasvind.

Om dieselfde rede hoef Franck ook nie immuunonderdrukkende medisyne (met newe-effekte) te gebruik het nie.

Vel van ander skenkers sou ook gebruik kon word, maar dan verwerp die liggaam dit tipies binne weke. En met die graad en omvang van Franck se brandskade sou dit waarskynlik te gou gebeur het vir die genoegsame vorming van nuwe vel.

Danksy gevorderde tegnieke het Eric, as die skenker, ook nie littekens ontwikkel nadat dun lae vel van sy rug, bobene en kopvel verwyder is om aan sy broer oor te plant nie. Die enigste gevolg was 'n klein verskil in sy velpigmentasie.

Die geskenkte vel is ook eers met 'n spesiale masjien gerek, "amper soos sykouse", sodat dit 'n heelwat groter area kon bedek.

Franck ondergaan steeds intensiewe rehabilitasie, maar kan weer loop en kon onlangs selfs sonder pynstillers begin klaarkom. "Dis nie meer so seer nie," het hy opgemerk. Deur die genade het sy gesig, buiten sy ore, omtrent die minste skade in daardie vlammehel opgedoen.

Hy is ook dankbaar oor hoeveel van sy handgebruik hy al herwin het. "Ek kan goed met my linkerhand vasknyp, soos met 'n klou." En sy regterhand, met gelukkig heelwat minder skade, het sodanig herstel dat hy grootliks met 'n pen kan skryf.

Veloorplantings tussen tweelinge is al voorheen uitgevoer, maar nog nooit aan so 'n groot area nie, het Mimoun gesê.

Bronne:  lemonde.fr, bbc.com, theguardian.com, Facebook