Hy het Dinsdagmiddag in die Weld County-hof in die deelstaat Colorado skuldig gepleit op nege aanklagte: vyf van moord, een van die onregmatige beëindiging van ’n swangerskap, en drie klagte van peutery met ’n lyk.

Hoekom vyf aanklagte van moord?

Benewens die drie klagte van moord (Shanann en die dogtertjies), word Watts ook volgens ’n wet wat in dié deelstaat van toepassing is, aangekla van twee moorde van ’n persoon jonger as 12 jaar oud terwyl hy ’n persoon in ’n vertrouensverhouding was.

Watts het skuldig gepleit op die aanklagte om te verhoed dat hy die doodstraf opgelê word en volgens die pleitooreenkoms sal die vonnisse opeenvolgend uitgedien word.

Wat van die doodstraf?

Shanann (34) se ouers, Frank en Sandra Rzucek, het ’n tydjie gelede met die Weld County-staatsaanklaer Michael Rourke die doodstraf en die risiko’s en emosies wat daarmee gepaard gaan, bespreek.

Volgens Rourke het die egpaar besluit om nie die doodstraf te versoek nie, en het hy Sandra se besluit daaroor tydens ’n mediakonferensie verduidelik: “Sy het gesê hy (Watts) het die keuse gemaak om hul lewe te beëindig, maar sy wil nie in ’n posisie geplaas word waar sy oor Watts se lewe moet besluit nie.”

Verder is die wolk van verdenking wat Watts doelbewus oor Shanann laat hang het, ook nou finaal uit die prentjie.

"Die kollig wat Watts vals en verkeerd op Shanann wou laat skyn — 'n blatante leuen — is nou reggestel. Hy is nou in die kollig," het Rourke gesê.

Wat vooraf gebeur het

Shanann in die vroeë oggendure van haar “verdwyning” van ’n sakebesoek in Arizona teruggekeer.

Terwyl Watts aanvanklik beweer het hy het haar ongeveer 05:15 dieselfde oggend vir oulaas gesien, was dit een van haar vriende, Nickole Utoft, wat onraad vermoed het toe Shanann omstreeks 12:10 daardie dag nie haar huis se deur vir haar oopmaak nie.

Sy was bekommerd, want Shanann het ’n belangrike doktersafspraak misgeloop, iets wat die swanger vrou volgens haar nie sou doen nie. Hulle het reeds ’n naam vir hul seuntjie gehad: Niko Lee.

Maar niks kon vriende en familie van Chris en Shanann op die skokkende onthulling wat die dag daarna gevolg het, voorberei nie.

Chris het erken hy het sy gesin vermoor. En op Donderdag, 16 Augustus, het hy aan die polisie gewys waar hul liggame versteek is: Shanann se lyk was in ’n vlak graf en die twee dogtertjies s'n in oliedromme — op die perseel van Anadarko Petrolium – die maatskappy waar hy gewerk het.

Maar toe begin Chris ’n ander deuntjie sing en plaas die blaam vir hul dogtertjies se dood, vierkantig op die skouers van sy 15 weke swanger vrou, Shanann.

Volgens hom het Bella (4) en Celeste (3) gesterf omdat hy Shanann wou los. Meer nog, hy het in ’n stadium beweer hy het gesien hoe Shanann vir Celeste verwurg.

Hy het haar toe in ’n woedebui vermoor . . .

Watts het in ’n verklaring aan die polisie erken hy was by ’n affair met ’n medewerker betrokke, iets wat hy ook voorheen ontken het.

Maar nog ’n vrou het beweer sy het hom op die aanlyn afspraakapp Tinder ontmoet en dat hul verhouding ’n paar weke voor die moorde tot ’n einde gekom het.

In hierdie stadium word aangedui dat Watts se volledige vonnisoplegging op 19 November sal plaasvind.

Die doodstraf in Colorado
  • In totaal is 101 mense (almal mans, almal skuldig aan moord) in die deelstaat tereggestel. Sover bekend was John Stoefel, ’n mynwerker, die eerste persoon wat in April 1859, die doodstraf opgelê is. Hy is gehang.
  • Sedert die doodstraf in die 1970's heringestel is, is nog net een persoon in Colorado tereggestel. Dit is Gary Lee Davis wat in 1986 ’n vrou ontvoer en verkrag het. Hy het in Oktober 1997 sy laaste asem uitgeblaas nadat hy daardie dodelike inspuiting ontvang het.
  • Daar is wel nog drie mense in Colorado wat jare reeds wag om tereggestel te word: Nathan Dunlap (hy het in 1993 vier mense in ’n Denver-restaurant doodgemaak), Sir Mario Owens (hy het 3 mense in Aurora-park vermoor) en Robert Ray wat in 2005 twee getuies in ’n moordsaak teen hom laat uitwis het.
  • Een van die berugste moordenaars in die deelstaat wat die galg vrygespring het, is James Holmes, ’n student aan die Universiteit van Colorado, wat onderskeidelik as die “flek-skieter” en die “Batman-moordenaar” bekend gestaan het nadat hy op 20 Julie 2012 12 mense doodgeskiet en 70 beseer het toe hy hulle by die middernag-prèmiere van Batman by die Aurora-fliekteater aanval.


Bronne: denverpost.com, statelaws.findlaw.com, thedenverchannel.com, coloradoan.com