“Dit gaan maar nog moeilik,” sê Sarel aan Huisgenoot. “Ek sukkel om my balans te hou en kan nog nie lang afstande loop nie.” 

Meer as 50 dae lank het dié jong man verbete vir sy lewe teen die coronavirus geveg. 

“Dit is genade van Bo dat ek vandag nog leef,” sê Sarel. 

Sarel is op 4 Februarie in die Robert Managliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley opgeneem nadat hy positief vir covid-19 getoets het. 

“Ek het sowat ’n week voor die tyd begin sleg voel. Ek het gesukkel om asem te kry en het myself gaan toets. Toe ek positief toets, het hulle vir my antibiotika gegee en ek het myself by die huis versorg, maar ek het nie beter geword nie.” 

’n Vriend van Sarel het hom toe na die hospitaal toe gevat waar hy dadelik opgeneem is. 

“Ek kan nie veel onthou van daardie tyd nie. Ek onthou net hoe die dokters heeltyd om my bed was.” 

Sarel, wat sy eie tuindienste-onderneming bedryf, is in die intensiewesorgeenheid aan ’n ventilator gekoppel. 

“Ek onthou net ek het heeltyd hierdie drome gehad waar my een vriend heeltyd by my is. Daar was ook ’n droom waar ek die Here ontmoet het. Ons het voor ’n groot oseaan gestaan en Hy het die see vir my oopgemaak. Ek weet nie of Hy vir my die pad oopgemaak het hemel toe of wat die boodskap agter die droom was nie.” 

Hy was sowat 30 dae aan die ventilator gekoppel en is toe na die hoësorgeenheid geskuif, maar toe ervaar hy weer ’n terugslag. 

Sarel het sepsis in sy longe opgedoen en moes wéér aan ’n ventilator gekoppel word. 

“Eintlik onthou ek net sewe of agt van die 53 dae. Die res is alles ’n blur.” 

Sy liggaam het terugbaklei, en Sarel is 40 dae nadat hy in die hospitaal opgeneem is van die ventilator ontkoppel. 

“Ek was swak. Ek het orals bedsere gehad. Ek kon nie praat, loop of regop sit nie. My hare het agter ook begin uitval omdat ek so lank bedleênd was.” 

Sarel is op 29 Maart uit die hospitaal ontslaan. 

“Ek kon nie self eet nie. My familie moes my voer. Ek kon darem al regop sit en my arms gebruik.” 

Sarel moes opnuut leer loop en het gereeld fisiosessies gehad en met ’n loopraam oor die weg gekom. 

Vandag kan hy weer self loop en vir homself sorg. Hy beplan om oor twee weke weer te begin werk. 

Sy hare het egter nog nie teruggegroei nie.

“Ag, ek bid maar dat die hare moet groei,” lag hy. “Ek is te jonk om nou al bles te word.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe