So beskryf Christopher Bonus (34) sy gemoedstoestand nadat ’n inbreker sy verloofde, Kelly Bain (26), Woensdagmiddag in hul huis in Brymore, Port Elizabeth, vermoor het.

"Ek staan sterk, want my familie, vriende en kollegas by die werk ondersteun my," het Christopher in ’n telefoniese onderhoud aan Huisgenoot gesê.

’n Inbreker het Kelly omstreeks 12:30 met ’n mes in die nek en arm gesteek, volgens kapt. Johan Rheerder, ’n woordvoerder van die polisie.

"Kelly was met kraamverlof en ek wou met middagete van die werk af huis toe gaan om haar en ons dogter te sien," verduidelik ’n emosionele Christopher. Hy het die inbreker in hul huis betrap en, volgens hom, met die man gestoei voor hy weggekom het. Christopher is nie in die voorval beseer nie. 

Die trauma lê steeds vlak by die eienaar van ’n plastiekmaatskappy en Christopher sê dat hy vir eers nie weer by hul huis, waar die tragiese gebeure afgespeel het, gaan bly nie, maar saam met sy babadogtertjie by familie sal tuisgaan.

Kelly Bain. Foto: Facebook.

Die baba is ongeskonde in die sitkamer gekry, terwyl die huiswerker glo in die badkamer toegesluit was met die inbraak.

"Ons huiswerker is ook ongedeerd, maar ek het nog nie regtig met haar gepraat nie, want ek los die verklarings vir die polisie," sê Christopher.

Christopher moes ook, met die hulp van haar familie, die nuus aan Kelly se vyfjarige dogter uit ’n vorige verhouding breek.

"Sy is geskok, maar ek dink sy gaan oukei wees. Ek dink nie dit het al heeltemal ingesink nie," vertel hy.

Johan sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en dat alle leidrade opgevolg word.

"Beeldmateriaal van ’n onbekende man wat vermoedelik met Christopher se beskrywing ooreenstem, is naby die toneel opgeneem," sê hy.

Christopher sê dié beeldmateriaal is moontlik deur geslotekringtelevisie en ADT-kameras vasgevang, maar dat die polisie nie enige verdere inligting vir hom gegee het nie.

Foto: Facebook.

Christopher sê hy is nie seker wat alles vermis word nie, maar dat hy wel agtergekom het dat die verloofring en ander juweliersware wat Kelly aangehad het weg is.

Hoewel hulle nog nie ’n datum vasgestel het nie, sou hy en Kelly binnekort trou, vertel Christopher. 

"Ek is sterk, want ek het my dogter en sy sal my altyd aan Kelly herinner," sê Christopher.

"Sy het my meer van ’n man en pa gemaak as wat ek ooit sou kon wees."