“Erika, ek mag nie nou huise verkoop nie, en ek gebruik maar die spasie om te sê: ‘Ek is mal lief vir jou,’” lui die oulike boodskap wat op reklameborde teen vier lamppale in Montana aan die noorde van Pretoria staan.

“Dit is heeltemal anders as die norm van wat ons gewoonlik doen; daar was dus beslis ’n bietjie van ’n hol kol op my maag toe ons dit opsit,” vertel Theo Erasmus (41) oor die verrassing aan sy vrou, Erika (43).

Die tydsberekening het perfek uitgewerk aangesien hy en sy twee dogters, Tyla (10) en Kayleen (11), vir Erika op haar verjaardag met die spesiale gebaar kon verras.
“Ons het verlede Vrydag dit laatmiddag teen die pale gaan opsit, en ek het die volgende oggend op 16 Mei dit ook in die sosiale media gedeel,” vertel Theo.

Erika was nie werklik doenig met haar foon op haar verjaardag nie; dus het sy deur familielede van die boodskap teen die lamppale gehoor.
Theo Erasmus
Theo en sy twee dogters, Tyla en Kayleen, by die borde. Foto: Verskaf.
“Sy was eintlik so ’n bietjie skaam-geskok; sy kon nie glo wat gebeur het nie,” vertel Theo oor sy vrou se aanvanklike reaksie.

“Dit is nogal ’n bold statement, maar sy was regtig aangenaam verras,” voeg hy by.

Theo is die stigter en eienaar van Just Imagine Properties, wat binnekort hul 15de bestaansjaar vier, en het reeds vir die reklameborde vir sy maatskappy betaal.

Hoewel dié maatskappy “administratief” besig bly, kan hulle nie tans tydens die inperking werklik huise verkoop nie.

“Ons kan nie nou foto’s by mense se huise gaan neem of saam met mense deur die huise stap nie,” vertel Theo.

Hy en sy vriend Albert Bredenhann, ’n beroepsfotograaf, het oor dié dilemma gesels toe hulle met ’n flink plan vorendag kom om die borde te benut. 

“Ek ken Albert nou al baie jare en hy help ons so af en toe by die onderneming. Hy sê toe: ‘Wel, jy kan nie nou huise verkoop nie, hoekom sê jy nie vir jou vrou hoe lief jy vir haar is nie,’” sê Theo. Hy het baie van dié idee gehou. “Die reklameborde was oud en drie van die vier huise was al verkoop. Ek het gedink dit is nogal ’n oulike idee en dit val perfek saam met haar verjaardag,” voeg hy by.

Theo lag wanneer hy nou aan sy, en ander mans in die omgewing, se nuwe penarie dink.

“Ek het met my pa gesels, toe sê hy nou weer vir my: ‘Ja, jy het nou weer moeilikheid veroorsaak vir die mans, want hierdie hoë verwagtinge is nou vir almal geskep. Nou gaan die manne sê: Wat gaan ’n mens nou doen vir jou vroutjie en hoe gaan ’n mens haar spesiaal laat voel,’” lag hy.

“Die boodskap was nie net vir haar verjaardag nie. Elke persoon het ’n ‘Erika’ of ’n persoon vir wie hulle baie lief is en omgee,” sê Theo.