Die swanger Joyce Silva (21) het op 17 Oktober hospitaal toe gegaan omdat sy gedink het die tyd is naby vir haar baba om gebore te word. Maar die dokters het vir haar gesê daar is nog tyd en het haar huis toe gestuur. 

Joyce en haar man
Joyce, haar man en hul nuwe spruit kort na sy geboorte. Foto: Joyce Silva/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Terug by haar huis in Votorantim in Brasilië, het Joyce besef die geboorte is naby en besluit om maar eerder terug te gaan hospitaal toe. Maar haar baba het ander planne gehad.

Joyce wou net by die deur uitstap toe sy die deurraam vasgryp en haar man en ma roep om haar te kom help.

"Binne sekondes" het klein Miguel Davi da Silva Pereira met sy pa en ouma se hulp die lig gesien.

“Toe ek by die deur kom, het ek ’n baie sterk kontraksie gehad en my liggaam het tot aksie oorgegaan,” het Joyce aan plaaslike media vertel.

Miguel Davi da Silva Pereira
Miguel Davi da Silva Pereira. Foto: Joyce Silva/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

“Ek het gevoel die baba word reeds gebore. Toe my ma en man kyk, was die baba se kop reeds uit. Ek het gevra hulle moet die koppie net vashou.”

Volgens Joyce het haar ma die baba se kop vasgehou en haar man het die lyf gevat. Nadat Miguel gebore is, het die gesin die nooddienste gebel om die jong vrou en haar baba hospitaal toe te neem.

Die baba het 3,37 kg geweeg en was 49 cm lank met geboorte. Hy was twee dae in die hospitaal voor hy saam met sy ma ontslaan is. Miguel is Joyce se tweede kind. Haar eersteling, Rebecca, is twee jaar gelede deur ’n keisersnee die wêreld ingebring.

Miguel
Miguel het 3,37 kg geweeg en was 49 cm lank by geboorte. Foto: Joyce Silva/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Joyce het vertel sy was bang sy sou flou raak voor die nooddienste opdaag, want sy het toe nog nie geëet nie en was moeg. Die jong vrou het ook baie bloed verloor. 

Op ’n positiewe noot voeg sy by: “Ek het nie verwag dit sou so by die huis gebeur nie. Wat nog te sê dat dit so vinnig sou wees."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe