Karl Karlsen (60) van Kalifornië het reeds in 2013 skuldig gepleit vir die moord op sy seun, die 23-jarige Levi Karlson, in 2008.

Levi se dood is eers in 2012 verder ondersoek nadat ’n familielid die polisiekantoor in kennis gestel het hulle vermoed Levi is deur Karl vermoor.

Levi is vergruis toe ’n voertuig van nagenoeg 2 267 kg van ’n wankelrige domkrag afgeval het. Dit was toe glo al die tyd Karl wat die “ongeluk” so bewinpel het om sy seun se lewenspolis van $700 000 in die hande te kry, ’n polis wat hy 17 dae vantevore op sy enigste seun se lewe uitgeneem het.

Die polisie het snuf in die neus gekry toe Karl sy storie drie keer verander het oor hoe Levi gesterf het.

Die eerste storie was dat hy en sy tweede vrou, Cindy, van ’n begrafnis teruggekeer het toe hy vir Levi dood onder die voertuig aangetref het. Maar toe verander hy sy storie en sê hy en sy vrou was op pad na ’n begrafnis toe hy Levi vasgepen onder die voertuig gevind het.

Maar die mees onwaarskynlike storie was sy derde weergawe: Karl het sy seun se lyk onder die voertuig gesien, maar steeds na die begrafnis gegaan. Hulle het eers vier uur later teruggekeer . . .

Karl is ook skuldig bevind aan versekeringsbedrog omdat hy nie die versekeringsagent vertel het dat Levi ’n ernstige gesondheidskwaal onder lede het nie. Levi sou die volgende dag vir die vereiste mediese ondersoek moes gaan om die polisvereistes in werking te laat tree.

Hy het destyds skuldig gepleit in ruil vir ’n vonnis van 15 jaar, wat hy tans besig is om uit te dien. Maar dit sou nie sy eerste moord wees om sy geldlus te voer nie.

Karl is Maandag skuldig bevind aan die moord op sy eerste vrou, Christina Karlsen.

Die saak het op 8 Januarie vanjaar begin. Maar hoekom nou eers?

Die regter het destyds met Levi se saak beslis die dood van Christina was buite perke, maar dat daar gefokus moet word op Levi se moord.

Sy het op Nuwejaarsdag 1991 gesterf, 19 dae nadat Karl ’n lewenspolis van $200 000 op haar uitgeneem het.

Christina was besig om te stort toe hul huis in vlamme gehul is. Die badkamervenster was met laaghout verseël, iets wat Karl glo kort tevore gedoen het.

Haar familie, en selfs Karl en Christina se eie dogter, Erin Deroche (nou 36), het geglo Karl was vir haar dood verantwoordelik.

Tydens ’n voorlopige verhoor in 2016 het Erin gesê haar pa het verskeie kere erken hy het haar ma vermoor.

“Hy het soos ’n Cheshire-kat geglimlag en gesê ‘dis al 20 jaar, hulle het my nog nie gevang nie.’ ” 

Erin het kort ná haar ma se dood sewe geword, maar sy kan onthou hoe haar pa destyds ’n Kersboom met lampolie aan die brand gesteek het om vir haar, haar suster Kati en broer Levi te wys hoe vinnig ’n huis kan afbrand.

Sy onthou goed wat op die dag van haar ma se dood gebeur het. Erin en Kati was in hul slaapkamer.

“Ek onthou hoe my ma geskree het: ‘Karl, kry die kinders.’ ”

Sy kon vlamme sien en sê dat ’n kas, wat gewoonlik elders gestaan het, die slaapkamervenster blokkeer het. Haar pa het deur die venster gebreek, die kas geskuif en hulle twee gehelp om van die vlamme te ontvlug. Hy het ook vir Levi uit die ander kamer gered.

Christina het aan rook-inaseming gesterf.

Terwyl sy haar ma met groot liefde en deernis onthou, was haar pa skynbaar iemand met wie jy op eiers moes loop.

Karl se tweede vrou kan beslis ’n sug van verligting slaak. Hy het ook lewensversekering op háár lewe uitgeneem.

Cindy Karlsen het in die hof getuig sy sou hom $1,2 miljoen in die sak gebring het indien sy te sterwe gekom het.

’n Facebook-blad, Justice for Christina Alexander-Karlsen en Levi Karlsen, wat in 2013 tot stand gebring is, het hul vreugde met die beslissing verklaar.

“Op 3 Februarie 2020 het ons 29 jaar lange geveg vir geregtigheid vir Christina Alexander Karlsen finaal tot ’n einde gekom. ’n Jurie van 12 het Karl skuldig bevind aan moord.

Vonnisoplegging is vir 17 Maart geskeduleer.

Bronne: theuniondemocat.com, abcnews.com, calaverasenterprise.com, syracuse.com, nypost.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.