Suné Hoon
Mari Hoon en haar verloofde, Jean Vosloo, is op 26 April dood weens koolstofmonoksiedvergiftiging. Foto: Verskaf

’n Jaar lank het dit gevoel asof geregtigheid hulle bly ontwyk. Oor en oor het dieselfde onbeantwoorde vraag hulle bly teister: Hoe sterf ’n jong paartjie saam in ’n stort? Dit wou amper lyk asof daar nooit werklik vir hulle antwoorde sou wees nie . . . 

Maar vandag, net twee weke kort van ’n jaar ná die voorval, voel dit vir die geliefdes van Mari Hoon (28) oplaas asof daar dalk vir hulle geregtigheid sal wees.

Mari en haar verloofde, Jean Vosloo (25), se liggame is op 26 April 2020 in die stort van ’n gastehuis op die plaas Zuuranys net buite Kareedouw in die Oos-Kaap aangetref. ’n Toksikologieverslag het later getoon albei is dood weens koolstofmonoksiedvergiftiging.

Byna ’n jaar ná die voorval het die saak sy eerste groot wending geneem: Kevin Pretorius (47), die eienaar van die gasteplaas, is Dinsdag in hegtenis geneem. Daarby saam ondersoek die polisie nou twee aanklagte van moord – en nié meer strafbare manslag soos voorheen nie.

Suné Hoon
Van links is Michelle Green, ma Maria, pa Sakkie en Suné Hoon. Foto: Lubabalo Lesolle

“My ma het my gister van sy inhegtenisneming laat weet nadat die ondersoekbeampte haar daarvan in kennis gestel het,” vertel Suné Hoon (30), Mari se suster, oor die boodskap van haar ma, Maria Hoon.

“Ek weet amper nie hoe om die emosies te beskryf wat ons ervaar het nie. Ons was bly en verlig – nou is daar eindelik momentum in die saak.” 

In Maart het Maria en haar man, Sakkie (61), saam met Suné en haar ander suster, Michelle Green (35), vertel hoe die dood van hulle dogter en suster verwoesting in hulle lewe saai. Vir hulle was daar net te veel vrae oor wat daardie dag op die Zuuranys-plaas gebeur het – die gesoek na antwoorde was by tye so erg, dat die onbeantwoorde vrae soos ’n tronk geword het waarin hulle daagliks vasgevang is.

Maar nou, ná Kevin se inhegtenisneming, hoop hulle opnuut op antwoorde. 

Suné Hoon
Een van die laaste foto’s van Jean en Mari saam wat geneem is by die gastehuis op die plaas Zuuranys. Foto: Verskaf

“Omdat die saak vir so lank gesloer het sonder dat daar eintlik enigiets merkwaardig gebeur het, bereik mens amper ’n punt waar jy dink dat jy nooit die hoofstuk sal kan afsluit nie. Maar nou het ons weer hoop dat iemand verantwoording sal doen vir my sussie se dood,” sê Suné.

Kevin is Dinsdag aangekeer en het reeds in die landdroshof op Humansdorp op twee aanklagte van moord verskyn, sê sers. Majola Nkolhi. Hy is vrygelaat op borgtog van R1000. Die aanklagte is van strafbare manslag na moord verander omdat die ondersoek getoon het Kevin is deur vorige persone gewaarsku oor ’n moontlike gaslek in sy stort, sê hy.

Minstens twee van dié pare – Taryn Jankes en haar kêrel, Jonathan Hill, en Louis en Monita Nel – het ook in Maart aan Huisgenoot vertel hoe hulle soortgelyke ervarings by die gastehuis gehad het. Van albei pare het minstens een hul bewussyn in die stort verloor en stuiptrekkings gekry en al vier beweer dit was weens die hoë vlakke koolstofmonoksied in hul bloedstroom.

Suné Hoon
Taryn Jankes en haar kêrel, Jonathan Hill. Foto: Verskaf

“Ons het dadelik vermoed dis die gasgeiser en is daarom na die eienaar om met hom te praat,” het Monita nog vertel. “Maar ses maande later het ons gehoor ’n paartjie is dood.”

Dis nog onseker wat nou vir hulle voorlê, sê Suné. Maar almal hoop op dieselfde ding: dat hulle hierdie hoofstuk kan afsluit.

“Ek hoop daar gaan vir ons ’n mate van afsluiting wees,” sê sy. “Want elke keer wanneer daar iets in die saak gebeur – veral met groot wendings soos dié – is ons van voor af platgeslaan. Ons hoop die saak sal sy gang loop en dat ons eindelik kan aanbeweeg van hierdie moeilik hoofstuk in ons lewe.” 

Die saak teen Kevin is uitgestel tot 24 Mei en sal in die streekhof op Humansdorp aangehoor word.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe