Dit is amper ’n maand sedert die dag dat Jaco Geldenhuys (24) van Christiana in Noordwes se lewe verander het toe hy meer as 4 m ver deur ’n dak by sy werk geval het.

Van waar Jaco in die Potchefstroomse Witrand-hospitaal rehabilitasie ná die voorval van 27 Februarie ontvang, sê hy: “Ek kan alles onthou. Ek onthou toe ek geval het, hoe die elektrisiteit deur my lyf skiet. Ek het geweet ek het my nek gebreek nog voor ek die grond geslaan het.” Jaco kan dit nie verklaar nie, maar hy vermoed hy het dalk een van die balke getref op pad grond toe.“Ek het niks gevoel toe ek die grond tref nie,” vertel hy moedig.

Jaco Geldenhuys na die ongeluk
Jaco Geldenhuys na die ongeluk
Die stellasie van waar Jaco Geldenhuys sowat 4m geval het.

Hy was besig om by sy werkplek, ’n konstruksiemaatskappy, as ketelmaker ’n stellasie op te stel waar hulle werkstoerusting sou stoor. “Ek het nog nie eens ’n maand daar gewerk nie. Ek en nog twee werkers was besig om die sinkdakke op te sit.” Dit was toe hy een van die staalplate skuif, dat hy deur ’n gaping geval het.

“Dit was ’n fratsongeluk.”

Jaco Geldenhuys en sy verloofde, Trisha Potgieter
Jaco Geldenhuys en sy verloofde, Trisha Potgieter voor die ongeluk.

Benewens sy nek, het Jaco ook verskeie ribbes gebreek. Trisha Potgieter (34), sy verloofde, vertel Jaco het van daar waar hy gelê het, vir haar ’n stemboodskap op WhatsApp gestuur. “Ek het eers gedink hy maak ’n grap. Hy het gesê ek moet gou maak. Ek moet kom en die kinders bring. Hy dink nie hy gaan ons weer sien nie.”

Jaco Geldenhuys na die ongeluk.

Die paartjie het elkeen twee kinders. Sy kinders, Jakes en Elena, is onderskeidelik vier en twee jaar oud. Trisha het vir Tristan (15) en Toinette (13), oor wie hy baie erg is.

Sy het Jaco by die hospitaal gekry toe die ambulans hom daar aanbring. “Jy weet jy kry hierdie bewerasies. Asof dit wat gebeur nie werklik gebeur nie. Eers toe ek hom sien, toe tref dit my.” Jaco vertel hy was het ’n paar uur in die staatshospitaal op Christiana. Van daar is hy na ’n staatshospitaal in Klerksdorp oorgeplaas. Trisha het hier op die grond onder sy bed geslaap en by hom gewaak.

Jaco Geldenhuys in die hospitaal.
Jaco Geldenhuys in die hospitaal.

Sy ouers het ingegryp en hy is na die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Potchefstroom oorgeplaas. Hy was drie weke hier, waarvan twee in die hoësorgeenheid was. Hy is die afgelope Maandag na Witrand vir rehabilitasie oorgeplaas. Hy is van die bors af ondertoe verlam en kan sy regterarm net gedeeltelik beweeg. Sy linkerarm het beweging, maar is nog te swak.

Jaco Geldenhuys, hier by sy verloofde, Trisha Potgieter, is verlam gelaat na die ongeluk.

“Ek het dit seker maar aanvaar, maar ek glo ook die Here sal en kan my ten volle genees. Ek is ’n positiewe mens. Die Here het my 'n tweede kans gegee. 'n Tweede kans op die lewe. Ek is bevoorreg... ek kan nog praat en self eet. My grootste wens is net nog om ’n goeie lewe vir my vrou en kinders te gee.”

Jaco praat van Trisha as sy vrou, al sou hulle eers aan die einde van die jaar trou. Hulle het gehoop op 'n “plain plaastroue”, maar nou moet hy eers beter word.

Dis vir Trisha sleg om hom so te sien wetend hoe lief hy nog altyd vir die buitelewe was. "Jaco het toe hy jonger was gehengel. Hy is 'n groot visserman en lief vir die buitelewe en diere. Hy is ook 'n goeie jagter. Sy ma, Charmaine, het hom nie verniet haar boskind genoem nie."

Jaco Geldenhuys voor die ongeluk. Hy was 'n ywerige hengelaar en lief vir die buitelewe.

“Al wat ek nou kan doen, is om daar vir hom te wees,” sê Trisha.