Heitor Márcio Schiave van Brasilië het homself as sy ma vermom in ’n poging om haar bestuurslisensie namens haar te gaan skryf. 

Dit kom nadat die Brasiliaanse dwelmbaas Clauvina de Silva hom in Augustus as sy 19-jarige dogter Ana vermom het, in ’n poging om uit die Gerichinó-tronk in Rio de Janeiro te probeer stap. Hy is uitgevang toe bewaarders agterdogtig raak omdat hy te veel soos ’n jong meisie probeer stap en het vir Ana se ID gevra.

Dié keer het Heitor homself as sy ma, Dona Maria (60), voorgedoen nadat sy haar bestuurslisensie drie keer gedruip het. Hy en sy vermomming het twee ure laat by die bestuurstoets in die klein dorpie Novo Mutum Paraná in die Brasiliaanse Amasone opgedaag.

Die eksaminator Aline Mendonça het aan The Guardian gesê sy kon nie glo wat hy sien nie. “Dit was ’n man in ’n lang uitrusting met baie grimering aan.

"Aanvanklik het dit nie vir my vreemd voorgekom nie, want ek het al vyf kanidate getoets en my aandag was verdeeld. Maar die oomblik toe ek gaan sit het ek besef dit is nie 'n vrou nie."

Deel van Heitor se vermomming was ’n handsak, oorbelle, geblomde hemp, opgestopte bra en geverfde naels. 

“Ek kon dit nie glo nie,” sê Aline. “Die was onwerklik.”

Heitor – ’n motorwerktuigkundige – is in hegtenis geneem en het aangevoer dat sy ma nie van sy planne bewus was nie.

Mense in die sosiale media het gemengde reaksies oor die voorval gehad. Sommige het gemeen dit is “eerbaar” en dat hy dit uit liefde gedoen het, terwyl ander gevoel het dat iemand wat hulle bestuurslisensie drie keer druip ’n risiko op die pad is.

Heitor Schiave
Heitor Schiave sonder sy vermomming. Foto: Polisie

Heitor is op borgtog vrygelaat.

Bykomende bronne: Daily Mail; G1