Feridun Alkan was woedend toe sy vrou, Melek Alkan (32), vir hom sê sy wil skei en toe uit die huis trek om by haar ouers te gaan bly.

pa en dogter deur man vergiftig
Melek Alkan by haar pa. Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Toe hy uitvind sy is weg, het hy na Melek se ouerhuis in die stad Antalya, Turkye, gegaan en met ’n haelgeweer op die blyplek losgebrand. 

Dit het daartoe gelei dat die verdagte, wie se ouderdom nie bekendgemaak is nie, by die polisie aangegee is.

Die familie het 'n interdik teen Feridun Alkan gekry, en hy moes óf van hul huis af wegbly, óf vir twee maande tronk toe gaan.

Alkan het toe twee vriende oorreed om hulle as maatskaplike werkers voor te doen en baklava met gif in op 27 November by die gesin te gaan aflewer. (Baklava, gemaak van filodeeg, fyngemaalde neute en heuning, is ’n gewilde soetgebak in Turkye.)

pa en dogter deur man vergiftig
Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Die twee kamma- maatskaplike werkers het by Melek se ouerhuis gaan aanklop en beweer die nagereg is 'n gebaar om gesinne tydens die covid-19-krisis te ondersteun.

Hulle is toe ingenooi en moes toekyk hoe Melek se pa, Metin Kabakci (57), twee stukke van die koek eet, terwyl sy nie eens 'n krummeltjie wou proe nie.   

Metin het kort daarna weens ondraaglike pyn op die vloer neergesak. Mediese personeel is ontbied en het hom na die Antalya-opleidings-en-navorsingshospitaal gehaas.

Nadat hy die poging tot moord oorleef het, het Metin gesê: “Ek wil hê hy (Feridun Alkan) moet nooit weer uit die tronk kom nie. Ek het nie geld nie, ek is afgetree, maar ek wil goeie regsverteenwoordiging hê. Ek sal baie bly wees as ’n prokureur my kan help.”  

 Feridun Alkan het sy vrou en skoonpa vergiftig
Feridun Alkan wou sy vrou vergiftig na sy van hom wil skei. Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Melek sê sy wil hê haar man moet swaar gestraf word. “Feridun het my al tevore ook probeer vergiftig. Hy het gif in my sap gesit. Gelukkig het ek ná vier dae herstel. 

“Enigiemand in die huis kon van die baklava geëet en doodgegaan het! My pa was dae lank in die waaksaal.” 

kos wat deur man vergiftig is
Haar pa het die baklava geëet en dadelik siek geraak. Foto: Newsflash/Magazinefeature.co.za

Die polisie het die verdagte weer in hegtenis geneem en sy twee vriende is ook kort daarna opgespoor. Die vriende, wat net op hul voorletters, O.G. en M.E., geïdentifiseer is, is ook in hegtenis geneem nadat 10 g gifstof in hul besit gevind is. 

Al drie is nou in aanhouding en die ondersoek duur voort.