Crescencio Gomez Mamani het net een plan gehad op Saterdag 10 April en dit was om twee mans te betaal sodat hulle sy eksvrou en seun kan vermoor.

Alles was afgespreek.

Die plan was om die Colombiaanse burgers Marvin Estupinan Hurtado en Brayan Diaz Ardila in Alto Hospicio in die Chileense streek Tarapaca te ontmoet, hulle te betaal en vir hulle die aanwysings te gee waar om hul teikens te kry.

Volgens berigte het Marvin en Brayan beweer die man het hulle gehuur om sy eksvrou te vermoor omdat hy beweer het sy skuld hom sowat R60 000. Hulle het nie inligting verskaf oor hoekom die seun ook ’n teiken was nie.

Maar toe besluit Marvin en Brayan om nie voort te gaan met die plan nie en Crescencio te beroof en te vermoor.

Die voorval is eers op 28 April aangemeld.

Volgens die plaaslike media het die slagoffer die twee verdagtes gehuur om sy eksvrou en seun vir R12 000 te vermoor.

Die polisie het in ’n amptelike verklaring gesê: “Brayan Diaz het die slagoffer op verskeie dele van sy lyf met ’n skerp voorwerp gesteek wat 16 steekwonde in sy bolyf veroorsaak het, terwyl Marvin Estupinan hom aan sy nek vasgehou het.”

Daar word in die verklaring beweer die mans het Crescencio se selfoon en beursie, met R600 daarin, gesteel. Die polisie het Crescencio se gesteelde selfoon gebruik, wat aan ’n derde party verkoop is, om die moordenaars vas te trek. 

’n Regter het ondersoekbeamptes 80 dae gegee om hul saak teen die twee beweerde moordenaars af te handel. Hulle sal intussen in aanhouding bly.

Die ondersoek duur voort.