Die seun, slegs bekend as Norman (24), het sy pa agt jaar laas gesien. Verlede Kersfees het hy besluit om ’n daadwerklike poging aan te wend om hom op te spoor.

Norman, wat nou in Boston, Massachusetts woon, het vermoed sy pa, Klaus, woon iewers in hul geboorteland, Duitsland, op straat.

Die twee het mekaar omhels toe Norman vir Klaus in Hamburg in die noorde van Duitsland opspoor.

Hulle is bymekaargebring danksy Norman se pleidooi in die sosiale media wat meer as 20 000 keer gedeel is.

Die deurbraak het gekom toe ’n verbyganger Klaus op een van Norman se foto’s herken. Hy het Klaus onmiddellik na sy huis geneem om ’n oproep tussen hom en Norman te reël.

Pa Klaus wat op straat bly. Foto: Magazine Features

Norman was diep geraak deur die oproep, maar het tyd nodig gehad om sy emosies te verwerk.

Norman het geskryf: “Hier is pa. En hy het nie geklink soos die hawelose ou in die foto waarna ek so lank gestaar het nie. Hy het soos pappa geklink.”

Hy en sy beste vriendin, Lisa, het van Boston na Hamburg gevlieg om sy pa in ’n noodskuiling vir haweloses te ontmoet.

“Ek het nie woorde nie. Ek is so dankbaar. Ek het my eie pa teruggekry,” het Norman gesê.

Foto: Magazine Features

Hy het egter bygevoeg hy kon nie by sy pa agterbly nie.

“Ek beplan nie tans om daar te gaan woon nie. Ons het vir eers vir hom warm klere gekry. Dis al wat ons nou kan doen.

“Die kontak help om vir hom finansiële hulp te kry. Ons opsies is ongelukkig beperk sonder ’n groot bedrag geld.”