Nadat Richard Mason van Rhos in Noord-Wallis, Brittanje, sy eksvrou, Kate (54), in ’n seldsame vaderskapsaak gedagvaar het, het ’n hof beslis sy moet vir hom R4,4 miljoen (£250 000) betaal, berig The Mirror

Sy is wel toegelaat om die identiteit van die regte pa geheim te hou. Die paartjie is in 2008 geskei en Kate het met die egskeiding 'n skikkingsbedrag van R71 miljoen gekry. 

Richard, ’n sakeman, het tot in 2016 geen benul gehad dat hy nie die seuns se biologiese pa is nie. Sistiese fibrose – ’n oorerflike siekte wat verhoed dat manlike lyers kinders kan verwerk – is daardie jaar by hom gediagnoseer.

Dokters het toe vir hom gesê hy kan onmoontlik die pa van die drie seuns wees, aangesien hy die siekte sedert geboorte het. Richard het Kate oor die diagnose gekonfronteer.

Sy het aanvanklik die bewerings ontken, maar later erken dat sy in die laat 1990’s vir vier jaar ’n affair met ’n ander man gehad het. DNS-toetse het bevestig die sakeman is nie biologiese verbind met hul oudste (nou 23) en ’n 19-jarige tweeling nie. 

Toe hy die waarheid uitvind, het dit Richard se lewe en sy verhouding met sy seuns in onstuimige waters laat beland, berig Daily Mail.

“Jy weet nie wat is werklik en wat is nie – dis asof ek in The Matrix leef,” het hy gesê.

“Iemand sê vir jou: ‘Alles wat jy ken en alles wat jy gedink het is standvastig en waar, is nie werklik nie en het nooit bestaan nie. Jy is nie ’n pa nie, jy kan nie kinders hê nie en jou naam gaan nie voortleef nie.

“Ek stap verby ’n speelgoedwinkel en dit herinner my daaraan dat ek vir hulle Kersgeskenke moet koop en aan ander familie-aangeleenthede.

“En wanneer vriende goed oor hul gesinne op Facebook deel, soos hul eerste kleinkind of sê hulle is trots op hul seun of iets, dan dink ek: ‘My genade, dit is alles van my weggeneem’.”

 Richard het regstappe teen sy eksvrou geneem om die skikkingsbedrag terug te kry en haar vir vaderskapsbedrog gedagvaar, berig The Telegraph.

Hy hoop ook die uitpraat oor sy beproewing sal die biologiese pa na vore laat kom, vir die kinders se onthalwe. Maar ’n bron na aan die gesin het aan The Telegraph gesê die seuns wil nie hul biologiese pa ken nie en beskou Richard steeds as hul regte pa.

Hoewel twee van die seuns steeds met hom gepraat het nadat hulle uitgevind het van die regsaksie, het die derde geweier. Maar Richard was in die wolke toe hy verlede maand ’n teksboodskap van hom ontvang.

“Pa, soos ek van die begin af verduidelik het, ek sal jou nooit nié as my pa beskou nie, ten spyte van alles. Natuurlik sal ek in kontak bly, dit sal nooit verander nie . . . ek is altyd hier vir jou en jy sal altyd my Pa wees. Lief vir jou, X.” 

Richard sê die uitbetaling het nie veel gedoen om die pyn te verlig wat die lewensveranderende nuus veroorsaak het nie. 

“Ek het binne ’n oogwink uitgevind ek het nie werklik enige kinders nie. As ek ’n towerstaf kon swaai, sou ek graag in hul almal se lewens wou wees.”

Bronne: The Telegraph, Daily Mail, The Mirror