Die egpaar van Oregon was vir 14 jaar 'n gelukkig paartjie.

Maar sewe jaar ná hul ontmoeting is die outo-immuunsiekte lupus, asook rumatoïede artritis en fibromialgie, toestande, wat chroniese pyn en moegheid oral in die lyf veroorsaak, in 2014 by haar gediagnoseer. 

Die inhoudskepper en podsendingaanbieder Kellie Wilson (34) het daarna by die dag meer en meer gewig aangesit en was eindelik so te sê bedlêend.

Haar man, Mike (32), het haar versorger geword, want Kellie kon dikwels net 'n paar tree gee voor haar bene onder haar meegegee het. Op haar swaarste het sy 122 kg geweeg.

Maar nadat sy in 2019 'n verslankingsoperasie ondergaan het, was gewig nie die enigste ding wat sy verloor het nie . . .

Met dié dat Kellie nie meer van Mike afhanklik was om haar te versorg nie, het die spanning in hul verhouding toegeneem. Aan die begin van hierdie jaar het Mike haar vir ’n egskeiding gevra.

“Ek was voor die operasie baie afhanklik van my man, en daarna wou ek net onafhanklik wees en my eie besluite neem. Wanneer jy vir so baie jare met ’n sekere dinamika tussen julle geleef het, kan dit baie moeilik wees om dit skielik te verander," vertel Kellie, wat 'n gewilde podsending te midde van haar verslankingsreis op die been gebring het.

“Dis baie moeilik om van daardie rol van versorger te verander na iemand wat jou nie meer op daardie manier nodig het nie. Die gewigsverlies en die podsending het vir my ’n groot ding geword en hy het gevoel ek belê nie meer in ons verhouding nie.

“So hartverskeurend as was dit is, want ons was vir 14 jaar saam en ek het hom werklik lief, is die egskeiding nie noodwendig ’n slegte ding nie."

Kellie en Mike het mekaar ontmoet toe sy 20 jaar oud was.

“Die gewig, wat ek in die tyd daarna aangesit het, is wat ek ‘gelukkige gewig’ sal noem, want ons was gemaklik by mekaar, en ons het graag saans gaan uiteet,” vertel Kellie.

Maar nadat sy siek geword het, het alles uitmekaar begin val. Nie net was sy haar werk kwyt nie; sy moes ook nou op haar man staatmaak om alles vir haar te doen.

“My eks moes my soms selfs na die badkamer dra. Baie van die medisyne wat ek gedrink het om my siektes te beheer, het tot my gewigstoename bygedra, en ek het ook in kos troos gesoek om te probeer onderdruk hoe sleg ek oor myself en my lewe gevoel het."

Kellie erken sy het haarself aan kos vergryp. Sy het borde vol pasta verorber, of laatnag haarself aan roomys en koekies vergryp. 

Die toename in haar gewig was vir haar 'n bitter pil om te sluk.

“Ek het geëet om die feit te hanteer dat ek in my 20's aan die bed gekluister was terwyl al my vriende uit was en hul lewe geniet het soos ek ook moes. Ek sou McDonald’s bestel, maar met ekstra burgers en skyfies, net om dit alles in ’n kwessie van minute te verslind.

“Die enigste opsie wat ek gehad het vir sosialiseer, was as my vriende wou kom kuier en langs my bed uithang. Ek het baie pasta en soet kosse geëet as ’n manier om kop te hou en kombuis toe gegaan wanneer niemand by die huis was nie en ’n hele bak Ben & Jerry's met fyngemaakte koekies daarin eet. 

“Ek het myself nie meer herken wanneer ek in die spieël gekyk het nie, want ek het so baie gewig aangesit. Dit was so verlammend ek wou net hê alles moes verby wees.”

Kellie het ’n rits kitsdiëte op die proef gestel, maar sy sou skaars 10 kg verloor voordat sy weer van die wa afval en die gewig net weer dubbel en dwars aansit.

“Ek dink ek het altesaam drie keer aan Weight Watchers deelgeneem. Daar was ’n keer toe ek na my kleinsus se verjaardagpartytjie gegaan het en my opgetof het en vir die eerste keer in jare goed gevoel het oor myself. Maar toe ek agterna na die foto’s kyk wat daardie dag geneem is, het ek gehaat hoe ek lyk. Ek het geweet ek moes iets drastieser doen om my lewe te verander.” 

Aangesien Kellie weens haar voortslepende gesondheidsprobleme nie kon oefen nie, het sy besef sy het ’n drastiese ingryping nodig as sy haar lewe wil verander.

“In Oktober 2018 het ek vir die eerste keer ’n chirurg gekontak om opsies vir verslankingchirurgie te bespreek. Ek het nie eens geweet of ek sou kwalifiseer nie, maar teen April 2019 was ek onder die mes.”

Met die operasie is 80% van haar maag verwyder, wat sou help om haar eetlus te onderdruk. 

Merkwaardig het die erge liggaamspyn, wat sy weens haar reeks gesondheidsprobleme ervaar het, dadelik ná die operasie verdwyn.

Die chirurg wat die operasie gedoen het, glo die verdowing het dalk haar liggaam se chemiese samestelling verander. Sy ervaar deesdae weinig simptome en drink ook nie meer die pille wat sy voorheen elke dag gedrink het om haar pyn te bestuur nie.

“Voor my operasie het my fibromialgie ’n punt bereik waar mense nie aan my kon raak nie, want dit was so seer. Maar nou voel ek sowat 80% van die tyd goed, al het ek nog af en toe slegte dae. Die grootste verandering as gevolg van my gewigsverlies was die verhouding tussen my en my man wat binnekort my eks sal wees.”

Kellie vertel haar fisieke en geestesgesondheid is vandag beter as ooit. Sedert die operasie het sy bykans 60 kg afgeskud en weeg sy nou net 64 kg. Sy pas in ’n Britse kleregrootte 6 en kry baie komplimente van haar vriende, familie en mense in die verslankingschirurgie-gemeenskap aanlyn.

“Mense sê ek lyk ongelooflik en ek is 'n inspirasie,” vertel sy. “Ek kan nou al die eenvoudige goed doen, wat ek nie voorheen kon doen nie, soos die vullis uitneem en dit vir herwinning uitsorteer.”

Terwyl die skeiding verpletterend is, sê Kellie sy vind meer oor haarself uit as ooit tevore en sy voel vir die eerste keer in ’n lang tyd sy is in beheer van haar eie lot.  

Voor haar gewigsverlies het Kellie se dieet uit hope pasta, kitskos soos McDonald’s en Taco Bell en roomys bestaan. Sy het rofweg 13 000 kJ oftewel 3 000 kalorieë per dag verorber.

Kellie volg vandag ’n proteïenryke dieet van kaas, salami, hoender en proteïenskommels. Dit is sowat 4 000 KJ oftewel 1 000 kalorieë per dag. Kellie hoop sy sal met haar podsending ander mense oor die voordele van verslankingchirurgie kan opvoed en van die mites en wanopvattings daaroor verdryf.

Kellie het die podsending saam met haar vriendin Melanie Gottfried (34) begin. Melanie het ook verslankingchirurgie ondergaan, en die twee praat in die podsending oor die hoogtepunte en laagtepunte wat hulle ná hul operasies ervaar het.

“Ek hou baie daarvan om nou beheer oor my eie lewe te hê terwyl dit vir so lank nie moontlik was nie.”

“Baie mense bedank my en sê ek het vir hulle gewys verslankingchirurgie is nie so skrikwekkend as wat hulle eers gedink het nie,” sê Kellie.

“Daar is baie paniekstokery daaroor, en dit is lekker om mense oor die beskikbare opsies en die proses te kan inlig. 

“My chirurgie het my in staat gestel om weer beheer oor my lewe te kry, en al was dit nie altyd maklik nie vind ek nou meer uit oor myself as ooit in my lewe.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe