Fransua Venter (35), wat vir ’n kort ruk bekend was as die verlore seun van Bloemfontein, is vanaf Maandag vermis. 

Vir ’n kort rukkie het mense landwyd gejuig oor die wonderlike sprokiesverhaal van ’n jong man wat ná 31 jaar gevind is. Maar die man wat almal gedink het, is die verlore seun van Bloemfontein, was toe Fransua van Pretoria. 

“Enige iemand al vir Fransua/Dennis gesien? Ek stres regtig en verlang na hom. Elke Saterdag het ek vir hom sy week se kos en goedjies gekoop. Maar nou is hy weet nie waar nie. Asseblief kyk uit vir hom. Hy moet my bel, ek weet hy sal as iemand hom net sal help,” het Desiree Haynes Donderdag op die Bring Dennis Home-Facebook-blad  geskryf. 

Fransua is skoonveld met net sy selfoon in sy besit. Maar die selfoon is intussen afgeskakel. 

Nadine Smal, ’n vriendin van Desiree wat gehelp het om Fransua op te spoor, het Vrydag aan Huisgenoot bevestig Fransua het Maandag spoorloos verdwyn. 

“Hy het Desiree gebel en gesê hy is in Winburg. Sy het toe vir hom gesê hy moet daar wag. Toe sy daar aankom, is hy weg,” vertel Nadia. 

Fransua was intussen by ’n tehuis in Bloemfontein, waar hy saam met nege ander mans gewoon het. Daar het hulle met hul hande gewerk en oor naweke die handgemaakte items vir 'n inkomste verkoop het. 

“Hy was so gelukkig daar. Elke keer wanneer ek gaan kuier, het Fransua gevra dat ek vir hom KFC saambring,” sê Nadine. 

Nadine vertel hulle het nog nie weer van Fransua gehoor nie en vermoed hy het verdwaal.