Thomas Ryder het binne net een dag ’n werkaanbod g
Thomas Ryder het binne net een dag ’n werkaanbod gekry nadat hy by ’n besige verkeerslig aan die Oos-Rand vir ’n werk “gebedel” het. Foto: Leorah Verinque Peterson/Facebook

Hulle het alles verloor in die jaar sedert hy van sy werk afgelê is, sê die verloofde van ’n man wat Vrydag vir die eerste keer in ’n jaar weer gaan werk het nadat hy ’n enkele dag by ’n besige verkeerslig aan die Gautengse Oos-Rand vir ’n werk “gebedel” het.

Dit was ’n laaste uitweg ná hul moeilike jaar, vertel Talita du Toit van haar verloofde, Thomas Ryder. 

Thomas, van Brakpan in Gauteng, was vandeesweek in ’n netjiese knoophemp en ’n formele broek geklee toe motoriste hom gewaar het by ’n besige kruising oorkant Carnival City met ’n wit bord waarop staan: “Not looking for money! Please help. Looking for any available work. Have own transport, as well as a CV I can forward. Thank you, God bless.” 

Eintlik het hulle na strooihalms gegryp, vertel Talita (27). Want nadat Thomas (27) in Desember 2019 sy werk in die logistieke bedryf verloor het, moes die twee al hul besittings verkwansel om aan die lewe te bly.

Thomas Ryder
Thomas en Talita sê hulle sien nou daarna uit om met hul kinders herenig te word. Foto: Verskaf

“Dinge het so erg begin gaan dat ons in een stadium in ons motor geslaap het,” vertel Talita Vrydag aan Huisgenoot.

In die maande sedertdien het Thomas “honderde kere” aansoek gedoen vir werk, sê sy. Maar vergeefs. Hulle het so noustrop getrek dat die twee in een stadium ’n pannekoek- en boereworsrolstalletjie langs die pad bedryf het.

“Ons het twee jong kinders – albei uit vorige verhoudings – en dinge het so sleg begin gaan dat ons genoodsaak was om ons kinders in die toesig van hul grootouers te laat. Dit het gelyk soos ’n hopelose saak, asof ons ons nooit uit hierdie donker gat sou kon grawe nie,” vertel Talita.

“Selfs toe ons die stalletjie gehad het, was daar eindelose bekommernisse. Ons het nooit genoeg kontant gehad om voorraad aan te koop nie;  daarom het daardie poging van ons om kop bo water te hou ook nie geslaag nie.”

Thomas Ryder
Thomas Ryder. Foto: Facebook/Thomas Ryder

Maar nadat Thomas vandeesweek vir net ’n enkele dag met sy bord by die kruising vir werk gevra het, het mense van heinde en ver hulle gekontak.

“Ons kon dit nie glo nie,” sê Talita en begin huil.

“Daar was meer as 2 000 boodskappe op my selfoon. Dit was amper oorweldigend, ons kon nie glo hoe dit ontplof het nie. Dit was asof die Here eindelik ingegryp het.” 

Thomas is vandeesweek “vir seker 30” onderhoude, sê Talita. Hy het ’n werk as ’n fabriekswerker gekry en het sommer Vrydag ingeklok vir sy eerste dag op sy pos.

Thomas Ryder
Thomas en Talita nadat hulle die goeie nuus van sy werkaanbod gehoor het. Foto: Verskaf

“Ons het gehuil,” bieg Talita. “Ek kan nie eens begin om aan jou te beskryf hoeveel emosies jy tegelykertyd beleef nie. Nou is dit asof daar skielik weer lig aan die einde van die tonnel is, asof daar skielik weer hoop is. Want ek kan jou verseker daar was vir ons geen hoop in die maande wat ons alles moes verkoop het net om aan die lewe te probeer bly nie.”

Sy sê terwyl sy en Thomas nou beplan om binnekort ’n groter huurhuis te kry sodat hulle weer saam met hul kinders kan wees, is sy nog verstom in die goedheid van mense. 

“Ek onthou nog soos gister hoe ek en Thomas die eerste keer daaroor gepraat het, om dalk so ’n drastiese stap te moes neem om vir werk te soek . . . Dit was totaal ondenkbaar. Eindelik is ons gedwing om maar ’n kans te vat, en ons kan nie meer dankbaar wees vir mense se goedheid en goeie gesindheid teenoor ons nie.

“Ons het weer hoop, en dis alles te danke aan elke liewe mens wat ’n oproep gemaak of ’n boodskap gestuur het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe