Johnny Walker (40), van Queensland in Australië, het sy agtjarige bredli-luislange, Jasper en Cairo, al twee jaar lank en wil graag ’n wyfie kry sodat hulle kan teel.

Maar Johnny, 'n verkoper van elektriese ware, sê hy sukkel om vir homself ’n maat te vind, want vroue dink hy is mal as hy vir hulle foto’s wys waarop die twee glibberige gediertes saam met hom in die bed opgekrul lê. 

Al is hy al ’n hele paar keer lelik gebyt in die vier jaar dat hy slange hanteer, sê Johnny sy troetelluislange is soos familie, en hy soek ’n vrou wat hulle as deel van die pakket sal aanvaar. 

slangman
Foto: Mercury Press & Media Ltd./Magazinefeatures.co.za

“Mense is doodbang om te kom kuier, maar ek weet nie hoekom nie,” sê hy. “Vorige meisies sou my soos ’n warmpatat los en sê hulle sien nie kans vir die twee nie. Wanneer ek nou vir meisies die foto’s wys, dink baie van hulle ek is stapelgek. 

“Die slange seil tot in die bed, en ek los hulle daar, want hulle hou daarvan om onder die lakens en warm te wees. Wanneer ek gaan slaap, is een van hulle gewoonlik reeds in die bed.

“Dan gaan haal ek net die ander een en hulle krul gewoonlik saam op. Ek bekommer my nooit daaroor dat hulle my sal byt of om my nek draai nie. Hulle bly net heelnag daar en hulle is dol daaroor.”

slangman
Foto: Mercury Press & Media Ltd./Magazinefeatures.co.za

“Wanneer ek soggens wakker word, het hulle nie eens beweeg nie.” 

Johnny is dol oor slange sedert hy ses jaar oud was en het Indonesië die afgelope twee jaar 12 keer besoek om wilde slange te vang en hanteer.

Hy het al meer as 100 slange in sy lewe hanteer en is ’n paar keer lelik gebyt, maar hy hou vol elke bytplek wat hy opgedoen het, was sy eie skuld. Nou het Johnny ’n tweeverdiepinghok in sy leefvertrek vir Jasper en Cairo.

slangman
Foto: Mercury Press & Media Ltd./Magazinefeatures.co.za

Die twee reptiele bly daarin terwyl hy by die werk is, maar beweeg vrylik in die huis rond wanneer hy by die huis is. Hy voer die slange ’n rot elk, wat hulle vir 10 dae versadig hou.

Maar die gladde kalante maak steeds baie van Johnny se gaste senuagtig. Selfs sy pa kuier selde by hom oor die reptiele kan maak soos hulle lus kry.  “Almal kry die piep wanneer hulle kom kuier,” sê Johnny.

slangman
Foto: Mercury Press & Media Ltd./Magazinefeatures.co.za

“Ek vat hulle in die sonskyn op die voorste grasperk uit, en ’n paar geskokte mense het al stilgehou en gevra of ek oukei is, want hulle dink die slange val my aan. My eie pa is skrikkerig om na my huis toe te kom.

“Maar die slange sal my nooit opsetlik seermaak nie. Hulle is net soos gesinstroeteldiere, en ek is lief vir hulle soos enigiemand anders vir ’n troeteldier sou lief wees – wat dit ook al is. Net soos ’n hond sou maak, kom groet hulle my dadelik wanneer ek van die huis af kom en hulle uit hul hok laat.”