Hy was glo jaloers omdat sy met iemand ander in die sosiale media gesels het. 

Haar man sal na verwagting vandag in die landdroshof in Roodepoort verskyn op ’n aanklag van poging tot moord nadat hy Donderdag weer in hegtenis geneem is.

Dit is onduidelik hoekom hy aanvanklik vrygelaat is. “Ons is net bly hy’s weer in hegtenis geneem en dat dit nou ’n aanklag van poging tot moord is,” het Tracy se oom, Leonard Scott-Turner, aan Huisgenoot gesê. 

Annerie du Plooy van die Hero Burn Foundation het gevra dat die publiek voor die hof byeenkom ter ondersteuning van Tracy. 

“Ons is net dankbaar hy is weer vasgetrek. Dit gaan onder die omstandighede goed met Tracy; haar wonde herstel ongelooflik goed,” sê sy. 

Tracy het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig opgedoen en haar bolyf het grotendeels ernstiger derdegraadse brandwonde. Annerie sê Tracy was in ’n plek van veiligheid nadat sy ontslaan is uit die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto, maar sal huis toe gaan wanneer haar man agter tralies bly.

“Dié is so ’n vreeslike geval – ons hoop geregtigheid geskiet,” sê Annerie.  

*Die beskuldigde se naam mag eers genoem word wanneer hy in die hof verskyn het.