Misheck Nyandoro
Die uitgetrede oorlogsveteraan van Zimbabwe sê hy “werk nie”, want sy voltydse werk is “om sy vroue te bevredig”. En hy sê as hy dit kon baasraak, sou hy ’n 100 vroue en ’n 1 000 kinders wou hê. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die meeste manne sal sekerlik dink dit klink darem maar baie dapper om 16 vroue te wil gelukkig hou, maar nie Misheck Nyandoro nie!

Die bejaarde Zimbabwiese man spog hy bevind homself in die land van melk en heuning met soveel vroue. Hulle spring as hy sy vingers klap, en sy 151-stuks kinders dra geld en geskenke aan. 

Trouens, hy sien kans vir nog een . . . 

Die super-poligamis het wêreldwyd opslae gemaak toe hy aan die Zimbabwiese koerant The Herald vertel het hy is nou op soek na sy 17de eggenoot. Mense kon nie besluit of hy dapper of stapelgek is nie.

“As ek dit kon baasraak, sou ek 100 vroue en 1 000 kinders wou hê!” het hy grootpraterig vertel.

Sy enigste klagte is dat hy nou jonger vroue sal moet begin vat, want die oueres kan glo nie meer byhou met hom in die slaapkamer by nie: “Hulle kla ek kafoefel te veel.”

Hy vertel sy bruide is almal gelukkig en twee is tans swanger.

Dis vir hom 'n “veeleisende en voltydse taak om sy vroue te bevredig”, en daarom werk hy nie, vertel die “uitgetrede oorlogsveteraan” van Mbire, in die Mashonaland-provinsie. 

“Wat ek hier doen, is om my projek (om voort te plant) te voltooi,” het Nyandoro aan The Herald vertel. “Ek beplan nou my 17de troue en die plegtigheid sal waarskynlik hierdie winter plaasvind.” 

Nyandoro sê dit is vir hom geen las om meer as 150 kinders te hê nie, en eintlik trek hy voordeel uit sy tamaai gesin.

“My kinders bederf my,” sê hy. “Ek ontvang gereeld geskenke en geld van hulle en my stiefseuns.” 

Hy vertel sy bruide is almal gelukkig en twee is tans swanger.

Die veelwywer beweer hy het geen stres in die lewe nie. Sy bestaansboerdery en maandelikse pensioen is verder genoeg, al is 50 van sy kinders nog op skool.

Elkeen van my vroue kook elke dag vir my, maar die reël is ek eet net heerlike kos. Enigiets wat ek voel nie aan die standaard voldoen nie, word weggegooi.

Altesame 13 van sy dogters en 23 van sy seuns is reeds getroud. Ses van hulle werk vir die Zimbawiese weermag. En een volg in sy pa se uitgetrapte huwelikspad: Hy het reeds vier vroue. 

Nyandoro verheerlik homself daarin dat sy vroue hom op die hande dra, en elkeen vir hom ’n afsonderlike maaltyd kook. Hulle maak ook vir hom skoon en is daar om aan al sy begeertes te voldoen.  

“Elkeen van my vroue kook elke dag vir my, maar die reël is ek eet net heerlike kos,” sê hy. “Enigiets wat ek voel nie aan die standaard voldoen nie, word weggegooi. 

“Hulle ken die reëls. Hulle het belowe hulle sal nie kwaad raak as ek hul kos terugstuur nie. Enigiets wat teruggestuur word, moet ’n les wees wat hulle help verbeter.”

Wat slaapreëlings betref, het Nyandoro ’n program uitgewerk wat hom in staat stel om minstens vier van sy vroue per aand gelukkig te hou. 

“Ek gaan na die slaapkamers wat ek op my program het. Ek bevredig dan my vrou en beweeg aan na die volgende kamer. Dit is my werk. Ek het geen ander werk nie.” 

“Ek pas my gedrag in die slaapkamer aan om by die ourderdom van elkeen van my vroue te pas. Ek tree nie dieselfde op met die jonges as met die oueres nie.” 

Maar hy kla ook oor sy ouer vroue. 

“Hulle stel nie altyd belang in seks hê nie.” 

Hy spog al sy vroue is baie gelukkig met hul lewe, maar hy wil in die toekoms met jonger vroue trou oor hul hoër libido.

Ekstra bron: Daily Mail.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe