Keagan Rossouw, die klein sanger met Fanconi se anemie, is vroegoggend in die Unitas-hospitaal in Centurion oorlede.

Die sanger Manie Jackson het die nuus op sy Facebookblad gedeel. “Klein Keagan Rossouw, my maatjie, is vanoggend oorlede op 11-jarige ouderdom, Sy pa het ons 4:20 vanoggend geskakel met die slegte nuus,” skryf Manie. 

“Baie sterkte aan sy ouers, sy sussie en ook die familie en vriende. Dankie, my seun, dat jy deel was van my lewe,” sluit Manie die inskrywing af.

Keagan Rossouw
Keagan het aan Fanconi se anemie gelei. Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.

’n Droom is bewaarheid toe Keagan in 2016 die geleentheid gekry het om saam met Manie Jackson, dié se treffer Die Hemel Weet saam kon opneem. Keagan het toe aan Huisgenoot vertel dat Manie soos ’n pa vir hom is.

“Ek en Keagan het ’n baie spesiale band gehad, hy het my gesien as sy held en ek was vir hom ’n tweede pa gewees,” vertel Manie. “Maar wat Keagan nie altyd besef het nie, is dat hy eintlik my held was.”

Manie het veral bewonder hoe niks Keagan kon onderkry nie. “Hy was hierdie dapper seun wat ten spyte van sy siekte die meeste van sy lewe gemaak het,” vertel Manie.

“Ek het nog ’n WhatsApp gekry vyf minute voordat hy oorlede is: ‘Bid asb. vir Boeta’,” vertel hy.

Keagan se toestand is ’n baie skaars oorerflike siekte wat hoofsaaklik die beenmurg en die produksie van rooi bloedselle affekteer.

Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.

Keagan se pa, Steph, vertel dat Keagan se maag Woensdag nie lekker was nie en hulle hom dokter toe gevat het. Hy is met ’n onbekende virus opgeneem en teen 01:00 Vrydagoggend het die dokters hom met adrenalien aan die lewe probeer hou, vertel sy pa.

“Die dokter het gesê ons moet sy handjie vashou en met hom praat. Maar toe het hy sy ogies vir die laaste keer oopgemaak,” vertel Steph en huil.

Keagan Rossouw
Die laaste foto wat Manie saam met Keagan geneem het, sowat twee weke gelede. Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.
Keagan Rossouw
Foto: Verskaf.

Hy sal nooit vergeet nie hoe Keagan al op vierjarige ouderdom gesê het dat hy vir ’n lewe wil sing. “En daardie seun het in sy sewe jaar as sanger meer bereik as wat baie ander mense al het,” sê hy met trots wat deur die trane breek.

“Ek wens dat hy nou die kans sal kry om saam met al sy legendes, soos Gé Korsten en Bles Bridges, in die hemel te sing,” vertel Steph en sluk die trane af.