Dié skoonheid, wat in 1978 as Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal gekroon is, het op die dag van die operasie verklap dat sy al vir ’n rukkie van die kanker weet en bang is hoe die operasie haar voorkoms sal verander.

Sy is toe op dieselfde dag ontslaan en baie gelukkig dat haar neusgate en die kraakbeen van haar neus ongeskonde gebly het.

"Ek is vol hoop dat die ergste verby is, mits hulle al die kanker kon verwyder," het sy ná die operasie aan Huisgenoot vertel.

"Die littekens is beperk tot my neus, maar hoe groot of klein die skade is, moet nog vasgestel word. Ek sal eers die volle omvang van die wond weet as die verbande afgehaal word," sê Margaret.

"Vergewe my omdat ek nie foto's van myself vir ’n wyle gaan deel nie. Ek sal ou foto's deel tot ek die moed bymekaar kan skraap om weer voor ’n kamera te verskyn," het Margaret aanvanklik Donderdag op Facebook gesê.

Sy bly egter toegewyd om mense te bemoedig en deel te wees van haar herstelpad en het daarom reeds Saterdag foto's op Facebook gelaai, vertel Margaret.

"Ek deel ook my ervaring om mense te waarsku, sodat hulle waaksaam sal wees oor die veranderinge op hul vel."

"Ons is ’n generasie wat die son aanbid het, wat in die hartjie van die middag uitgegaan het en olyfolie op ons lywe gesmeer het juis sodat ons kon brand. Deesdae is ons meer opgelese en ek sorg baie goed vir my vel," skryf Margaret. 

Die 59-jarige is nou trots daarop dat sy ’n kampvegter vir voorsorgmaatreëls kan wees en haar storie met die jeug te deel om hulle te waarsku om produkte te gebruik wat ook hul vel sal beskerm.

Margaret sê dat die dokters vel van een deel van haar neus na die wond moes oorplant. “Ek is nie seker wat die gevolge van die pad na herstel gaan wees of hoe dit sal werk om die wond toe te maak nie.”

Sy is wel seker dat sy dié dapper stryd op ’n positiewe manier sal aandurf. Sy put krag uit die wete dat sy nie alleen is nie en dat talle ander mense ook in ’n stryd met kanker gewikkel is.  

Margaret wil ander kankerlyers bemoedig om met moed en nuwe uithouvermoë die stryd te veg, en is dankbaar vir “Suid-Afrikaners se hartlikheid en gebede” wat sy ervaar het.