Elke keer dat sy haar seun ná ’n kuiertjie moes groet, was dit met ’n swaar hart, maar nooit het Marietjie Vosloo kon dink dat sy die heel laaste keer in ’n lykhuis van hom sal moet afskeid neem nie.

Hy was net 13 jaar oud – haar oog­appel; haar enigste.

Toe sy klein Marnuwico se lyk die Maandag ná die fratsongeluk met sy splinternuwe veldfiets deur ’n glas­venster moes gaan uitken, was dit haar laaste groet.

“Dit was vir my die moeilikste toe hy met daardie perfekte lippies daar lê. Ek het my lippe teen die glas gesit en dit het gevoel asof ek my lippe teen syne sit. Ek het gesê: ‘Vat mamma se asem. Vat my asem, want jy het nog so ’n lang lewe oor.’ ”

'Dit was vir my die moeilikste toe hy met daardie perfekte lippies daar lê. Ek het my lippe teen die glas gesit en dit het gevoel asof ek my lippe teen syne sit. Ek het gesê: ‘Vat mamma se asem. Vat my asem, want jy het nog so ’n lang lewe oor.’' Foto: Rowyn Lombard

Dit is die eerste keer dat Marietjie (35) openhartig met die media praat sedert die lewe van haar enigste kind op Sondag 11 November wreed kortgeknip is – dit boonop ná ’n vorige gesinstragedie.

Dit was net meer as twee jaar ná sy halfsuster, Mundolene (17), se dood tydens ’n gesinsvakansie op Mauritius. Sy het ineengestort kort nadat Marietjie, haar stiefma, haar tydens ’n rusie geklap het.

Marietjie is daarna 18 maande lank op die eiland aangehou voor ’n hof bevind het dat sy nie vir haar stiefdogter se dood verantwoordelik gehou kan word nie.

In haar karig gemeubileerde tweeslaapkamerwoonstel in Rustenburg, waar Marietjie ná haar vrylating in April vanjaar ingetrek het, sê sy nou die moeilikste was om ná Marnuwico se dood alleen na haar nuwe tuiste terug te keer met die wete dat haar klein Kierie, soos sy hom genoem het, nou nooit hier vir haar sal kom kuier nie.

Sedert sy ousus se dood was hy in ’n au pair se sorg op Margate aan die kus van KwaZulu-Natal terwyl sy pa, Mike, in die mynwese in die Demokratiese Republiek van die Kongo werk.

Marnuwico is nes sy halfsuster, Mundolene, tragies
Marnuwico is nes sy halfsuster, Mundolene, tragies dood. Foto: Verskaf

'Hy was nooit hier nie'

Marietjie kyk verslae om haar rond.

“Die moeilikste ding was om weer hier in te stap en te weet ek het ’n kamer vir my kind probeer gereed kry, maar hy was nooit hier nie . . .

“Die eerste ding wat ek gedoen het, was om die kamer te verander. Ek kon nie daarin vaskyk nie,” vertel sy.

Marietjie het die rooi beddegoed met karretjies weg­gepak wat sy vir Marnuwico uit­gesoek het omdat hy so lief vir wiele was. Die outydse karretjies wat sy vir hom versamel het en in sy kamer wou uitstal, sal nou nooit hul plek kry op die rakke wat sy wou aanbring nie.

Die trane loop. Saggies sê sy dit was asof iets ha
Die trane loop. Saggies sê sy dit was asof iets haar “weggetrek” het elke keer dat sy daardie rakke met karretjies wou laat aanbring. Foto: Rowyn Lombard

Die trane loop.

Saggies sê sy dit was asof iets haar “weggetrek” het elke keer dat sy daardie rakke met karretjies wou laat aanbring.

“En Marnuwico wou nie na my toe kom nie. Dit was asof die Here hom teruggehou het, want Hy het geweet dit sou vir my moeilik gewees het om na ’n kamer terug te kom waar hy nooit weer sou wees nie.”

Maar van moeilik is daar niks wat ?Marietjie nie weet nie.

'Dis asof die Here my op hierdie dag voorberei het'

Dis vyf dae ná haar terugkeer uit Margate, waar Marnuwico verongeluk en Marietjie en haar vervreemde man, Mike (48), vir hom ’n troosdiens gehou het. Haar rooibruin hare is in ’n stywe bolla teruggetrek en sy dra geen grimering nie.

“Ek het net nie die krag vir enigiets nie,” maak sy verleë verskoning.

“Dit voel asof ek rond­sweef. Ek worry nie daaroor om my hare te doen nie, oor wat ek aantrek en wat en of ek eet nie.”

Dan skud sy haar kop.

'Dit voel asof ek rond­sweef. Ek worry nie daaroor
'Dit voel asof ek rond­sweef. Ek worry nie daaroor om my hare te doen nie, oor wat ek aantrek en wat en of ek eet nie.' Foto: Rowyn Lombard

“Dit was asof die Here my op hierdie dag voorberei het. Ek en Marnuwico was close, maar dit was asof dié twee jaar se skeiding sy manier was om te sê: ‘Dis tyd om jul band te breek, want Ek het ander planne vir julle.’ ”

Die laaste keer dat sy haar seun gesien het, was in die Septemberskoolvakansie. Weens moeilike omstandighede was dit maar die vierde keer sedert haar terugkeer na Suid-Afrika dat sy hom sien.

Dit het haar swaar getref dat hulle so vervreemd van mekaar gevoel het.

“Ek was hartseer toe ek terugkom, want ek het twee jaar misgeloop.”

Sy het haar daaraan getroos dat Marnuwico gelukkig was.

“Dit maak nie saak wat die omstandighede was nie, hy was ’n kind wat altyd gelukkig was.”

Sy vertel sy is dankbaar teenoor die au pair in wie se sorg haar kind was, en vertel dié vrou “vat dit baie swaar”.

Sondag 11 November 2018

Die au pair, Marnuwico se 15-jarige halfbroer uit sy pa se vorige huwelik en ’n paar van hul vriende was by toe hy die eerste keer op sy nuwe KTM-veldmotorfiets ry.

Sy ouers het hom die fiets beloof as Marnuwico, wat in gr. 7 was en tuis­onderrig ontvang het, met sy skoolwerk presteer. Hy het ook twee van sy knortjorre verkoop om daarvoor te help betaal.

Marietjie het nog die vorige aand meer as ’n uur lank telefonies met hom gepraat, min wetend dat dit die laaste keer sou wees dat sy sy stem hoor.

“Hy was so gelukkig oor daai bike, want hy het twee jaar lank daarvoor gewag.”

Besorg het sy hom gewaarsku: “Seuna, wees altyd versigtig.”

Die Sondagoggend het sy hom probeer bel, maar die groepie was toe reeds in die veld. Marnuwico het om ’n draai hom met die spoed misreken en die fiets het ’n boom getref nadat hy ’n toertjie – ’n wheelie – daarmee uitgevoer het. Hy het sy nek gebreek en is op slag dood.

“Hy het meer in 13 jaar gedoen as wat ek in my 35 jaar gedoen het,” sê Marietjie nou.

Asof trooswoorde aan haarself mymer sy: “Die dag dat jy geskape is, is jou dag reeds bepaal – en dit was sy dag.”

Marietjie het nuwe tatoes van Marnuwico aangebring
Marietjie het nuwe tatoes van Marnuwico aangebring wat sy sterfdatum insluit. Foto: Rowyn Lombard
Marietjie het nuwe tatoes van Marietjie se bynaam
Marietjie het nuwe tatoes van Marietjie se bynaam vir Marnuwico was Kieries. Foto: Rowyn Lombard

'Die lewe klap jou 20 keer neer'

Met Mundolene se dood destyds was dit vir haar asof sy haar eie kind verloor het, sê Marietjie. Agter tralies het sy oor haar gerou. Maar toe het sy nog vir Marnuwico gehad – iemand om voor te leef, selfs toe haar huwelik met Mike verbrokkel.

Al wat sy nou van hom oorhet, is sy as; sy en Mike het dit tussen hulle verdeel.

“Ek wou hom wys: ‘Seun, al is die lewe hóé moeilik, staan op, hou uit, want beter dae wag. Die lewe klap jou 20 keer neer, maar staan 40 keer op.’

“En noudat hy nie meer hier is nie, volg ek nie my eie raad nie, want vir wie sal ek nou opstaan?” sê sy en die trane vloei.

Al wat sy nou van hom oorhet, is sy as; sy en Mike het dit tussen hulle verdeel. Haar bietjie sal sy bêre in die spesiale kissie wat sy laat maak het.

Marietjie koester ook ’n armband van Marnuwico, die kussing waarop hy geslaap het en sy kombers.

Ná sy dood het Mike vir haar ’n dagboekie gegee waarin Marnuwico vir haar geskryf het terwyl sy in die gevangenis was. “Love mom lots,” het hy voorop geskryf.

“Ek het nog nie die krag gehad om dit te lees nie,” sê Marietjie.

'Nie 'n moordenaar nie'

Sy het skaars die energie om uit haar woonstel te gaan. Toe sy die eerste keer ná sy dood terug in Rustenburg na ’n plaaslike supermark is, het ’n vreemde vrou haar op die skouer getik.

“Ja, jy’s mos die een wat op Mauritius was en jou stiefdogter vermoor het?” het dié vir haar gesê. “Laat jy nou voel hoe dit voel om jou eie kind te verloor.”

Marietjie is daar weg sonder om iets te koop.

“Hoe kan iemand vir jou iets so onmensliks sê?” vra sy verbluf.

“Ek is nie ’n moordenaar nie.”

Die nadoodse onder­soek het gewys Mundolene het weens bloeding op die brein gesterf, maar ’n aneurisme of enige harde stamp vroeër die dag kon die oorsaak daarvan gewees het. Marietjie is vrygespreek van moord.

Sy vind troos in die wete dat Marnuwico en sy geliefde ousus nou saam is. Asof sy skielik krag kry, glimlag sy vir die eerste keer.

“Ek dink nie die engele het nou meer ’n pouse daar waar hulle is nie. Mundolene sal die jolplekke loop soek en Marnuwico die wiele. Die twee het nou die hemel op hol . . .”  

Sy vind troos in die wete dat Marnuwico en sy geli
Sy vind troos in die wete dat Marnuwico en sy geliefde ousus nou saam is. Foto: Rowyn Lombard