Die broer wat Marietjie Vosloo deurgaans deur haar 18 maande van hel in ’n tronk in Mauritius bygestaan het, is dood.

Jan Jacobs (45) het verlede Sondag 4 Augustus in die Verre Oos Rand-hospitaal in Springs gesterf nadat hy in die oggendure skielik baie siek geword het en per ambulans hospitaal toe is.

“Ek hoop net dit was nou die laaste. Ek weet nie . . . Hoeveel skokke kan een mens vat?” het Marietjie (36) Woensdag vanuit Rustenburg, Noordwes, telefonies aan Huisgenoot gesê.

Die laaste foto wat van Jan Jacobs, Marietjies se
Die laaste foto wat van Jan Jacobs, Marietjie se broer geneem is. Foto: Verskaf

Dit is reeds drie jaar sedert die opspraakwekkende voorval in Mauritius toe Marietjie se stiefdogter, Mundolene Vosloo (17), op die eerste dag van die gesin se vakansie dood is.

Marietjie, wat Mundolene ten tyde van n rusie op 5 Oktober 2016 deur die gesig geklap het, het 18 maande agter tralies deurgebring voor ’n hof bevind het ’n klap deur die gesig sou op sigself nie die massiewe bloeding aan die basis van Mundolene se brein kon veroorsaak nie.

Van links is Marnuwico, Mundolene, Marietjie en Mi
Van links is Marnuwico, Mundolene, Marietjie en Mike voor albei sibbes in fratson­gelukke dood is. Foto: Verskaf
Marnuwico en sy ma, Marietjie Vosloo. Foto verskaf
Marnuwico en sy ma, Marietjie Vosloo. Foto verskaf
Wyle Mundolene Vosloo (17)

Toe almal Marietjie as ’n “monster-stiefma” en “moordenaar” uitgekryt het, was Jan die een wat vir haar opgestaan het. Hy was een van Marietjie se enigste oorlewende familielede.

Die doodsengel het Marietjie al van kleintyd af besoek. Albei haar ouers asook haar ouer broer en suster was toe reeds dood. Dit was net Jan en hul middelste broer (nou 37 – Marietjie verkies om nie sy naam te noem nie), en sy wat oor was van hulle vyf kinders.

Jan het in Januarie 2018 in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel sy suster sou nooit opsetlik Mundolene se dood wou veroorsaak nie: “As dit met my moes gebeur het, sou ek dit nooit oorleef nie.”

Dit was ’n blye weersiens toe Marietjie Vosloo, wat 18 maande lank ná die dood van haar stief­dogter, Mundo­lene, op Mau­ritius aan­gehou is, op 4 April met haar broer Jan Jacobs van Springs op die O.R. Tambo-­lug­hawe in Johannesburg herenig word
Jan wasop die lughawe toe Marietjie uit Mauritius
Jan wasop die lughawe toe Marietjie uit Mauritius na Suid-Afrika teruggekeer het. Foto: Huisgenoot-argief

Marietjie het daardie April met haar terugkeer by hom in Springs gaan bly. Sy het skaars geland toe sy moes hoor haar man en Mundolene se pa, Mike, wil haar om ’n egskeiding dagvaar.

Jan was ook die een wat haar getroos het toe haar en Mike se geliefde seuntjie, Marnuwico (13), in November verlede in Margate, KwaZulu-Natal, in ’n fratsongeluk op sy veldfiets dood is.

Nou moet sy ook Jan se dood verwerk.

“Ek en Jan was baie close. Ek het elke tweede naweek deurgegaan na hom toe.”

Sy en haar enigste oorlewende broer, was die naweek by hom toe hy skielik siek raak.

“Ons is almal geskok. Jan was die Saterdagaand toe hy gaan slaap heeltemal fine. Hy het nog jokes gemaak...”

Sondag 4 Augustus, omstreeks tweeuur die oggend, het hy haar kom wakker maak. Sy het gedink hy het dalk die aand iets verkeerd geëet.

“Hy het gesê hy voel nie lekker nie en het in die badkamer naar geword. Hy het my geroep en gevra of ek nie asseblief vir hom water kan bring nie. Hy het weer opgegooi en vir nog water gevra.”

Kort voor lank het sy toestand so versleg dat hulle ’n ambulans ontbied het. Jan het nie ’n mediese fonds nie en hy is toe na die Verre Oos-Rand-staatshospitaal gebring.

Die dag kon sy nie by sy kamer ingaan nie.

“Ek het net daar in die deur gestaan. Hy het oukei gelyk. Ek het vir hom gekyk en ek is seker hy het my gesien. Die middag het die dokter gesê hy is baie siek. Hy het aan hoë bloeddruk gely. Die amptelike oorsaak sê hulle was hipertensie en dehidrasie, maar ek dink maar hy het ’n hartaanval gehad.”

Sy bly moedig toe sy vertel die saggeaarde Jan was ’n baie spontane mens. “Hy was maar skaam en teruggetrokke, maar wanneer hy by ons was, was dit never a dull moment.”

Sy glo Mundolene, Marnuwico en Jan is nou almal saam in die hemel.

Marietjie aanvaar Jan is nou op ’n beter plek. “Sy lewensmaat is in Desember 2016 dood. Hy het altyd vertel hoe baie hy hom mis.”

Sy glo Mundolene, Marnuwico en Jan is nou almal saam in die hemel.

“Die dooddinge pla my nie so baie nie. Mense dink seker ek is onemosioneel, maar my geloof dra my. Ek glo nie die Here kom jou haal as dit nie vir n rede is nie; jou tyd is jou tyd. Ek glo hulle hou nou almal ’n party daar bo.”

Toe sy oor Marnuwico praat, is die gemis egter steeds onmiskenbaar.

“Dit is nou al agt maande. Dit vat elke keer aan my as ek dalk ’n fliek kyk of liedjie hoor waarvan ek weet hy sou van hou. Wat my gerusstel, is dat hy uit hierdie wrede wêreld is. Weg van die seer, die pyn, die boelies. Hy’s nou forever 13 en die gelukkigste wat hy kán wees.”

Nuwe liefde

Marietjie, wat haar vandag toespits om baie mense te help wat deur verlies gaan, glo die enigste manier om deur verlies te werk is om dit te aanvaar.

Sy onthul ook sy het darem een ligpunt in die lewe: Sy het nuwe liefde gevind.

“Ons gesels al die laaste sewe maande op sosiale media. Hy is 39 jaar oud en van Ventersdorp. Hy werk op ’n plaas in Amerika.”

Sy oorweeg dit om eendag by hom aan te sluit as die rekord van aanranding teen haar naam nie teen haar sal tel nie.

“Ek dink ek kort die wegbreek.”

Kom neem deel aan die gesprek
Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en WhatsApp, en teken in op ons nuusbriewe.