Marnuwico Vosloo (13), die seun van die vervreemde egpaar Mike en Marietjie Vosloo, was saam met sy aupair toe die ongeluk op die renbaan gebeur. Hy is na wat verneem word op slag dood.

“Marnuwico het elke naweek op die baan gaan ry,” het ’n familielid bevestig. “Ons is almal nog so geskok. Dit voel nie dit kan waar wees nie.”

Marietjie het Sondag op haar Facebook-blad by ’n foto van haar enigste kind geskryf:  “Jesus het een van Sy mooiste engeltjies kom haal. Mamma sal jou altyd in my hart hê. Gaan jou so baie mis my kind. Ek is so baie lief vir jou.”

Dit was 5 Oktober presies twee jaar sedert die eerste soortgelyke tragedie die Vosloo’s getref het.  

Marnuwico Vosloo (13). Foto: Verskaf

Mundolene (17), van Springs aan die Oos-Rand, is op die eerste dag van wat ’n idilliese eilandvakansie moes wees, oorlede.

Sy en Marietjie het stry gekry en die het haar in ’n onbesonne oomblik deur die gesig geklap. Mundolene het kort daarna ineengestort en is in die dokterskamers van die luukse Hotel Riu Creole in ’n skokwending dood verklaar. 

Dit sou Marietjie uiteindelik 18 maande agter tralies in Mauritius kos voor sy vroeër vanjaar vrygespreek is.

Die Vosloo-gesin in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

Die nadoodse ondersoek sou eindelik toon Mundolene is dood aan bloeding aan die onderkant van die brein, wat deur enigiets van ’n harde stamp aan die agterkop (soos vroeër die dag in die swembad) of selfs ’n bestaande aneurisme veroorsaak kon word.

Marietjie het vroeër in ’n onderhoud aan Huisgenoot gesê: “Ek het altyd gesê ’n mens moet val om te leer, maar ek kan vandag met ’n eerlike hart sê: jy moet so hard soos ek val om rerig jou lewe te verander, andersins kan jy dit maar los!”

Marnuwico en Marietjie Vosloo, Foto: Verskaf

Mike, wat nou in twee jaar twee kinders verloor het, was na verneem word Sondagmiddag op pad terug na Suid-Afrika van waar hy in die buiteland in die mynwese werk.

Hy kon nie onmiddelik vir kommentaar bereik word nie.