Volgens iemand na aan die familie het Marnuwico net die Saterdag voor sy dood die fiets gekry en die volgende oggend is hy na wat verneem word op slag dood.

“Jis, môre se bike-ry gaan flippen lekker wees,” het Marnuwico nog die aand voor sy dood op Instagram geskryf. Hy het glo van sy eie resieskarretjies (go-karts) verkoop om dié nuwe fiets te koop. In foto’s en video’s op sosiale media kan Maruwico, wat nog altyd lief was vir motorsport, gesien word waar hy met ’n bree glimlag in ’n parkeerterrein vaardig daarmee op en af ry.

View this post on Instagram

Got a new motorbike today????

A post shared by Marnuwico (@marnuwico99) on

Op Instagram by een van die video’s skryf hy: “Got a new motorbike today,” met gelukkige hartjieoog-emoji’s.

Kol. Thandeka Mbele, ’n KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, het Maandag aan Huisgenoot bevestig hy het na bewering beheer verloor en in ’n boom vasgery en het bevestig hy is op die toneel dood verklaar.

Huisgenoot het verneem die ongeluk het op ’n veldbaan op dié kusdorp plaasgevind en sy au pair was by hom om toesig te hou.

View this post on Instagram

????‍??????‍??????‍??was lekker tho

A post shared by Marnuwico (@marnuwico99) on

Marnuwico se stukkende ouers, Mike en Marietjie Vosloo, moes Maandag sy lyk gaan uitken. Hy het glo ernstige inwendige bloeding gehad.

Mike het Sondagmiddag laat by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg vanuit die buiteland teruggekeer. Van daar het hy en Marietjie en nóg ’n familielid van haar na KwaZulu-Natal gery.

“Marietjie het bitterlik gehuil,” het ’n vriendin anoniem aan Huisgenoot vertel nadat hulle Marnuwico se lyk gaan uitken het. “Geen woorde gaan dit beter maak nie.” 

Dit is die tweede tragedie wat die vervreemde egpaar in twee jaar getref het.

Mike se dogter uit ’n vorige huwelik, die 17-jarige Mundolene, het in Oktober 2016  gesterf toe die gesin in Mauritius op vakansie was.

Marnuwico, Mike en Marietjie se seuntjie saam, asook Mundolene se boetie (nou 15), uit Mike se vorige huwelik was saam by die oord Riu Creole, toe dit gebeur.

Mundolene en Marietjie, wat gereeld vasgesit het, het stry gekry. Marietjie het Mundolene geklap. Talle mense op eie bodem het Marietjie toe gekruisig, maar dit sou later bewys word Marietjie was nie vir haar stiefdogter se dood verantwoordelik nie. Die nadoodse ondersoek het eindelik getoon Mundolene is aan ’n soort massiewe bloeding aan die basis van die brein dood wat deur enigiets van ’n harde stamp aan die agterkop vroeër in die swembad of deur ’n bestaande aneurisme veroorsaak kon wees.

Die vriendin vertel sy wonder hoekom die tragedie ook die gesin moes tref.

“Ek bid en vra dat die Here iets goed uit die hartseer moet laat kom."