Hoewel dié episode van Wie’s My Liefie? reeds op 1 November verfilm is, sal die episode op Vrydag 2 Februarie op VIA uitgesaai word.

In die sesde seisoen van dié reeks neem Marilyn deel, wat vir haarself werk as rekenmeester.

“Sy sê sy hou van reis en sy hou van bak vir liefdadigheid. Sy hou van ’n ou wat langer is as sy, met ’n mooi glimlag en ’n sterk persoonlikheid," sê die aanbieder, Martin Bester aan die begin van die episode oor Marilyn.

"So kom ons kyk of ons vir Marilyn ’n man kan vind vanaand,” voeg Martin dan by.

Kykers van Boer Soek ’n Vrou het onlangs uitgevind boer Johan het vir Marilyn gekies.

In die vorige episode van die reeks moes die boere hul plaas verlaat om by die ouers van die vroue wat hulle gekies het te gaan kuier.

In Donderdag se episode het die boere weer hul plaas verlaat, dié keer om hul gekose vroue op vakansie te neem.

Groot was die verrassing dus toe kykers hierdie week uitvind Johan en Marilyn se liefdesbootjie het sommer kort ná daardie kuiertjie op die rotse beland.

Marilyn was ontsteld omdat Johan die dag ná die familiekuier laat was vir 'n ontbytafspraak met haar ouers. Sy vertel hul reëling was dat hy om negeuur die oggend sou opdaag, maar hy het 'n boodskap gestuur om te sê hy sal 'n halfuur laat wees. Toe Johan eers om 10:00 opdaag, was die gort gaar.

Dit gaan vir hom meer oor homself as oor ander mense, sê Marilyn.

Johan, wat naby Carolina in Mpumalanga boer, het al in dié program gesê hy het ’n sagte kant, maar ook ’n baie “gedetermineerde kant”.

(Die 13de en laaste episode van Boer Soek 'n Vrou word op Donderdag 25 Januarie om 20:00 op kykNET uitgesaai.) 

Kyk hier na ’n voorsmakie van Marilyn se episode: