Toe die Steinhoffbom in Desember 2017 bars, het die inploffing van die eens gerekende kleinhandelsreus die Johannesburgse aandelebeurs sowat R200 miljard armer gelaat, meer as die helfte van die sakemagnaat Christo Wiese se rykdom uitgewis en die pensioenfondse van miljoene Suid-Afrikaners laat krimp.

In Steinheist, ’n nuwe boek deur Rob Rose, redakteur van Financial Mail, lig hy nou, ’n jaar later, die sluier oor Markus Jooste, die man agter die skandaal. Dié verkorte uittreksels kom uit dié opspraakwekkende boek:

In die begindae was die meubels wat Gomma Gomma in groot maat vervaardig het nie juis onvergeetlik nie. Oor die algemeen het dit uit doodgewone gestoffeerde sitkamerstelle, op sommige dae tot 150, en ’n reeks koffietafels bestaan.

Maar buiten sy bekleedsel-en-toonhoutfabriek het die onderneming ’n groot bate gehad wat mettertyd die belangstelling van moontlike beleggers sou lok: Markus Jooste.

Hy het harder as enigiemand anders gewerk en gereeld 16-uur-dae ingesit. Ná ’n moeilike dag het hy dikwels tot soggens eenuur of later wakker gebly en saam met sy personeel brandewyn en whisky gedrink.

Maar hy was ook, soggens om agtuur, die eerste een uit die vere, onberispelik aangetrek, opgeruimd en gretig om aan die gang te kom. “Hy het nooit eintlik baie geslaap nie,” sê iemand wat hom goed geken het.

“Dit het hom gehelp om baie gedoen te kry terwyl die ander gewonder het hoe hy die tyd kry vir wat hy gedoen het.”

Dit het nooit verander nie, selfs toe Markus later die soort pos bereik waar hy kon bekostig om sy voet van die versneller af te haal.

“Hy was die hardwerkendste ou wat ek nog teëgekom het,” sê iemand met wie Markus eenkeer ’n transaksie aangegaan het.

“Ek het eenkeer op dieselfde vlug as Markus na Londen gevlieg en hy het die hele vlug deur gewerk. Hy het deur ’n balansstaat gegaan, en hy het dit eers met ’n swart pen, toe ’n blou pen, toe ’n rooi pen gemerk. Toe ons land, het ek vir hom gevra: ‘Markus, het jy geslaap?’ Hy het geantwoord: ‘Ek het ’n uurtjie gevat.’ ”

Deur die jare het hy ’n reputasie as ’n rateltaai boikie opgebou. “Markus het gehou van hard partytjie hou, laat wakker bly en saam met die ouens drink. Hy was nooit ver van ’n dubbele Johnnie Walker Black nie,” sê ’n gewese sakeman wat baie tyd saam met hom deurgebring het.

Heel vroeg was een van die ondernemings wat Gomma Gomma gekoop het ’n meubelmakery met die naam Bakker & Steyger in Epping, Kaapstad. Hulle het eetkamerstelle, koffietafels, muureenhede en ander houtprodukte in groot maat vervaardig.

Hy het harder as enigiemand anders gewerk en gereeld 16-uur-dae ingesit.
Markus Jooste
Dikwels, selfs op openbare geleenthede, het hy sonder huiwering mense bespot, dikwels binne hoorafstand.

Christopher Rutledge, wat toe ’n direkteur by Bakker & Steyger was, sê dit was duidelik Markus ag lojaliteit hoër as enigiets anders.

“Hy het sy luitenante gehad wat alles vir hom gedoen het. Elke besluit wat geneem is, sou deur hulle na Markus gaan. Dit het alles oor die ou Stellenbosch-klub gegaan.”

Destyds, sê Christopher, was die kultuur onbuigsaam homogeen: onversetlik macho, Afrikaans en patriargaal. Almal het Markus eerbiedig.

“Selfs toe was dit ’n gevaarteken. Die feit dat hy dié nabye groep om hom gehad het wat nie bereid was om sy besluite uit te daag nie, wat almal van dieselfde plek gekom het en die hiërargie in stand wou hou, was kommerwekkend. Hy was onaantasbaar.”

Christopher vertel ’n storie, waaroor hy ook vir ’n nuuswebtuiste geskryf het, wat ’n voorbeeld bied van hoe Markus te werk gegaan het. Een Vrydagaand ná agtuur het Bakker & Steyger se uitvoerende beamptes ’n SMS van Markus ontvang waarin hy hulle opdrag gee om die volgende oggend om agtuur by die fabriek in Kaapstad te wees.

Toe hulle die volgende oggend opdaag, was hy “op die oorlogspad. Hy het die besturende direkteur en die res van die bestuurspan op ’n toer deur die fabriek gesleep, palette uitgewys wat verkeerd gestapel en onegalig gepak is, stof op die vloer en enige klein oortreding wat kon dien as brandstof vir sy verontwaardiging en afkeer oor die gehalte van die bestuur wat hy op die punt was om af te dank.”

Later het Markus na die besturende direkteur gedraai: “Loop uit my f***** fabriek,” het hy vir hom gesê. Dis ’n verhaal wat die enkele definiërende karaktereienskap illustreer waaroor baie mense saamstem: Markus was ’n groot boelie.

Die stories van Markus se grootdoenery is legendaries. Mense in die binnekring sê hy sou gereeld vir sy uitvoerende beamptes sê waar hulle ’n huis moes koop, watter handelsmerk whisky hulle moes drink.

“Hy sou na iemand naby wys en sê: ‘Daardie een is ’n p***,’ ” vertel ’n ander eertydse kollega.

En as enigeen dit gewaag het om enige van hul Steinhoff-aandele te verkoop, sou hy daardie aand aan hul deur klop en vra watter ongelukkige gebeurtenis tot hul vertoon van dislojaliteit aanleiding gegee het.

***

Sosiaal was Markus nooit skaam om selfs sy senior uitvoerende beamptes te kleineer nie.

Iemand vertel so ’n storie: “’n Dinee is gehou, bygewoon deur al Markus se uitvoerende beamptes. Soos ’n mens maak, het almal ’n bottel wyn gebring en een van sy vriende het ’n bottel middelmatige MCC-vonkelwyn gevat.”

(MCC, wat die afkorting vir Méthode Cap Classique is, is eintlik die Suid-Afrikaanse ekwivalent van bottelgefermenteerde vonkelwyn van Frankryk. Anders as sjampanje, wat R500 en meer kos, kan jy ’n redelike bottel MCC vir so R120 kry.)

“Markus het dadelik die bottel omhoog gehou en in ’n bulderende stem vir die ander gaste gesê: ‘Nou watse k** is dit? Wie het dit gebring?’”

Maar Markus het presies geweet wie dit gebring het; die optrede was bedoel om te verneder.

 Steinheist
Die voorblad van die boek Steinheist deur Rob Rose.

Dikwels, selfs op openbare geleenthede, het hy sonder huiwering mense bespot, dikwels binne hoorafstand.

“Hy sou na iemand naby wys en sê: ‘Daardie een is ’n p***,’ ” vertel ’n ander eertydse kollega.

“Hy het skynbaar nie omgegee dat mense hom kon hoor nie.”

***

“As jy vandag ’n klip in Kerkstraat op Stellenbosch afrol, sal jy waarskynlik iemand tref wat iets in Steinhoff se val verloor het,” sê ’n gewese universiteitstudent.

“Party het nooit belê nie. Baie Stellenbosch-oudstudente het van die begin af Markus se windmakery te grof en grootdoenerig gevind en verbygehou.

“Hy sou na een van daardie veilings by die Universiteit Stellenbosch gaan wat vir iets geld insamel, maar op die ou end 100 keer meer gee as wat gevra is. Dit was nie omdat hy op geen ander manier ’n skenking kon maak nie; dit was omdat hy vir die jonger ouens wou wys hoeveel geld hy het.”

Vir party het dit te kenne gegee geld koop straffeloosheid; ’n gevoel dat die gewone gebruike nie vir jou geld nie.

Party van die Steinhoffgrootkoppe vertel ’n opvallende, selfversekerde blondine het in ’n stadium taamlik gereeld aan Markus se sy begin verskyn. Haar naam was Berdine Odendaal.

“Ek het haar saam met Markus in ’n lughawesitkamer ontmoet,” sê een van die Steinhoffdirekteure.

“Agterna het ek gedink iets was vreemd aan die ontmoeting, want hy het haar spesifiek nie aan my voorgestel nie. Ek het eers later uitgepluis dit was sy.”

Berdine Odendaal
Berdine Odendaal, Markus se vermeende minnares. Foto: Facebook

Nog een vertel ’n wit Ferrari het by die Steinhoffparkeerplek op Stellenbosch ingetrek.

“Wie’s dit?” het hy gevra. Die sekretaresses wat dieselfde toneel gadegeslaan het, het net hul oë gerol: Vra vir Markus, het hulle gesê.

Kort nadat die Steinhoffborrel gebars het, het koerantopskrifte onthul Berdine Odendaal is Markus se minnares. Foto’s van Berdine was skielik gewild.

Die joernaliste Angelique Serrao en Pieter du Toit het berig: “Diegene wat Berdine ken, het haar in ’n aangepaste silwer Bentley en wit Ferrari sien ry en hulle het oor haar twee Argentynse poloperde gepraat.”

Vandag weier Berdine om met enigiemand te praat. Haar ou selfoonnommer is ontkoppel; haar Facebookprofiel van waar die foto’s gekom het, is buite werking gestel. Haar vriende praat van hoe sy “onder beleg was en net alleen gelaat wil word”.

Sy het lank binne gebly; party berigte sê by haar ouers. Elke af en toe sou mense haar by die een of ander geleentheid sien; ’n polobyeenkoms of die teater.

Berdine Odendaal mistress of Markus Jooste

Het jy nie gehoor nie, het sy blykbaar by so ’n geleentheid vir iemand gesê, ek het beroemd geword.

Party van haar vriende, soos die Pretoriase argitek Carlu Swart, sê sy “het ’n moeilike tyd beleef, maar sy is ’n lieflike vrou”. Carlu is aangestel om vir Berdine by die Mabalingwe-natuurreservaat in Limpopo ’n huis te ontwerp en bou, maar die planne is skynbaar in die wiele gery.

Dis merkwaardig dat Berdine glo deur Markus onderhou is op ’n manier wat eerder aan ’n 18de-eeuse courtisane as ’n moderne 21ste-eeuse vrou herinner. Sy het in een van Kaapstad se eksklusiefste woonstelle, die Bantry, gewoon.

Maar die woonstel is besit deur Coy’s Properties, wie se enigste direkteur Markus se Britse vennoot, Malcolm King, was. Stefan Potgieter, Markus se skoonseun, het glo die woonstel vir Malcolm “bestuur”. Toe alles ineenstort, is die Bantrywoonstel vir R57 miljoen verkoop.

Berdine word as die eienaar van ses eiendomme by Val de Vie gelys. Dit sluit ’n eenheid van 109 m² by die Polo in, wat in 2016 vir R3,3 miljoen gekoop is. Maar sy word ook as die eienaar van twee eiendomme in die Mabalingwenatuurreservaat gelys, vermoedelik waar die bouwerk gestaak is.

Die datums van baie van die Val de Vie-aankope in haar naam strek terug tot die begin van 2016. Dit gee te kenne haar verhouding met Markus was toe taamlik nuut.

Christo Wiese sê hy het nooit ’n benul van Berdine se bestaan gehad nie. “As hy ’n meisie gehad het van wie sy vrou nie geweet het nie, sou dit vir my ’n rooi lig gewees het,” sê hy.

“Want as hy jare lank vir sy vrou kon lieg, hoekom kon hy nie vir my ook lieg nie?”

So ’n jaar voor die inploffing het een van Christo se vriende van Pretoria vir hom gesê: Christo, weet jy Markus het ’n woonstel in die Bantry? En weet jy hy het ’n meisie daar? Christo was dronkgeslaan. Sekerlik sou hy hiervan geweet het, veral aangesien Christo se eie seun daar ’n woonstel het.

Ek bedoel, Markus was nie verplig om dit te noem nie, maar hy sou tog sekerlik.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Paar weke later het Christo hom gevra: Markus, iemand vertel my jy het ’n woonstel in die Bantry? Ja, het Markus gesê, dis ’n uitstekende belegging.

Christo het geantwoord: Wel, hoekom laat jy nie een van jou kinders daar woon nie? Dis ’n baie mooi plek om te woon. Hulle sal daarvan hou.

Nee, nee, het Markus gesê. Dis veels te weelderig vir ’n kind om daar te woon.

Christo het volgehou: Markus, iemand sê vir my jy het ’n meisie daar.

Markus se reaksie: Christo, jy is seker mal, man. Waar sou ek tyd kry vir ’n meisie?

Vir Christo het dit sin gemaak. Dit verg tyd om ’n meisie aan te hou. En dis immers die een ding wat Markus nie gehad het nie.

  • Geredigeerde uittreksels uit Steinheist deur Rob Rose (Tafelberg, R225* by Takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.