Die spanning in die Nasa-beheersentrum was byna ondraaglik terwyl die vlugbeheerder die meters tot by landing aftel.

Toe sy oplaas “Landing bevestig!” roep, het pandemonium uit pure verligting losgebars.

Vir die ruimtewetenskaplikes en -ingenieurs wat in Pasadena, Kalifornië, gevolg het hoe die tuig InSight Mars se oppervlak nader, was dié suksesvolle landing op 26 November vanjaar die beloning op dekades se werk en noukeurige voorbereiding.

Daar was so baie op die spel: Dit kon die triomfantelike begin van ’n nuwe fase in ruimteverkenning inlui of in wrakstukke in Mars se rooi stof eindig. Wat hulle wel met sekerheid geweet het, is dat dit uiters moeilik is om enigiets op die planeet met sy dun atmosfeer en stofstorms te laat land.

Net om dié robotiese Marsbewoner te kry waar hy nou is, was dus reeds ’n enorme ingenieursprestasie. Wat gaan InSight nou vir die volgende Marsjaar, meer as twee aardjare, miljoene kilometers ver doer op die vierde planeet vanaf die son doen?

Toe sy oplaas “Landing bevestig!” roep, het pandemonium uit pure verligting losgebars.

Satelliete en enkele verkenningstuie kon uit beeldmateriaal en monsters van die planeet se oppervlak inligting oor Mars verskaf – data oor sy atmosfeer, wentelbaan, spore van water en vulkane; ook dat dit moontlik is dat daar in die verre verlede dalk lewe op die planeet was.

Met Mars InSight word een van sy groot raaisels nou vir die eerste keer gepak: Wat skuil geologies gesproke onder sy oppervlak? Dié robotiese tuig is vindingryk toegerus om diep binne Mars te kyk.

Eindelik sal die sending wetenskaplikes help verstaan hoe Mars en ander rotsagtige planete soos die aarde en potensieel bewoonbare planete gevorm is en verander het. Dit sal groter begrip bring van prosesse van 4,5 miljard jaar gelede toe ons sonnestelsel nog jonk was.

Onder meer sal skuddings op ’n ander planeet vir die eerste keer gemonitor word; ’n selfbeheerde “meganiese mol” sal die planeetkors diep binnedring; ’n seismometer sal direk op sy oppervlak gebruik word; en dis die eerste ruimtetuig op ’n ander planeet wat ’n robotiese arm inspan om instrumente op te tel.

Die ongelooflike tog

Die lansering: op Atlas se skouers

InSight se tog van meer as 480 miljoen kilometer het op die spits van ’n magtige Atlas V-401-vuurpyl in Kalifornië begin, een van die grootste vuurpyle beskikbaar vir vlugte tussen planete.

Die Atlas is: 

  • 57 m hoog, omtrent so hoog soos ’n 19-verdiepinggebou, en
  • 330 000 kg swaar, vol brandstof en met die InSight-ruimtetuig daaraan gekoppel. 

Die teiken: ‘Mars se grootste parkeerterrein’

Daar is na Elysium Planitia gemik, ’n uitgestrekte, betreklik gelyk vlakte net noord van Mars se ewenaar. Die sendingspan het dit “die grootste parkeerterrein op Mars” gedoop.

Van ons aarde af het dit ­egter fyn berekenings gekos om te verseker die ruimtetuig kom by presies die regte punt bo Mars se atmosfeer aan.  

Die landing: “6,5 minute van verskrikking”

Die laaste deel van die reis, waar die tuig Mars se atmosfeer bereik, het die InSight-span veral hartkloppings gegee.

Die Rooi Planeet se dun atmosfeer, slegs 1% van die aardatmosfeer se digtheid, beteken daar is min wrywing om ’n tuig spoed te laat verminder.

Tussen die Russe, Britte, die Europese Ruimteagentskap en die Amerikaners het nog net laasgenoemde se sendings op suksesvolle Marslandings uitgeloop.

Maar InSight is ’n taai tuig met ’n hitteskild en supersoniese valskerm wat Mars se stofstorms kan weerstaan.

Die tuig het die Marsatmosfeer sowat 120 km bo die oppervlak teen 20 000 km/h ­getref “en daarna het dit net 6½ minute geduur tot landing”, het die projekbestuurder, Tom Hoffman, gesê.

In dié betreklike oogwink moes InSight “dosyne stappe outonoom en foutloos uitvoer”. Rob Manning, ’n Nasa-hoofingenieur, het dit “6½ minute van verskrikking” genoem.

mars
Toonbeeld van innovering

Die hele InSight-ruimtetuig, insluitend sy beskermende dop en brandstof, het by lansering net 700 kg geweeg, en die landingstuig weeg sowat 360 kg.

Laasgenoemde is 108 cm hoog met sy bene uitgestrek en 1,56 m breed. Met sy sonpaneelvlerke uitgevou, is hy 6 m breed. Die robotiese arm met sy robotklou en kamera is 1,8 m lank.

Nasa het egter ’n verstommende wetenskapsvermoë in dié tuigie ingepas. InSight het litiumioonbatterye, maar sal eindelik volkome sonaangedrewe wees.

Op Mars sal sy twee sonpaneelvlerke op ’n helder dag 600-700 watt verskaf, wat genoeg is om ’n huishoudelike versapper aan te dryf. Selfs op ’n stowwerige dag sal dit 200-300 watt verskaf.

Net ná die landing het InSight ’n eerste “selfie” van Mars af gestuur, waarop Mars se rooi oppervlak en ’n deel van die tuig duidelik sigbaar is. Dit wys ook dat van die stelsels werk, soos dat die sonvlerke uitgevou het. 

mars
Die InSight-tuig

Mars: kitsfeite

Die Rooi Planeet is bra onherbergsaam, maar tans die beste opsie vir moontlike toekomstige ruimtekolonies binne bereik van die aarde.

Grootte:

Omtrent die helfte (6 792 km in deursnee) so groot soos die aarde (12 756 km).

Atmosfeer:

Die aarde se atmosfeer (78% stikstof, 21% suurstof) is meer as 100 keer so dig as dié van Mars, wat uit sowat 96% koolstofdioksied bestaan.

Temperatuur:

Minus 140 ºC tot 30 ºC; gemiddeld minus 63 ºC (vergeleke met die aarde se minus 88 ºC tot 58 ºC en ’n gemiddelde 14 ºC).

Marsjaar:

Gelykstaande aan 687 aarddae.

Swaartekrag en gewig:

Jy sal op Mars 62,5% minder swaartekrag ervaar as op die aarde.

Maal jou gewig met 0,38 om uit te werk hoeveel jy op Mars sal weeg. As jy byvoorbeeld 68 kg weeg, sal jy daar net sowat 26 kg weeg.

Hoogste berg:

Mars is die tuiste van die hoogste berg en diepste canyonstelsel in ons sonnestelsel.

Die enorme skildvulkaan Olympus Mons is meer as 22 km hoog (2½ keer die hoogte van die berg Everest) en die Valles Marineris is tot 7 km diep (vergeleke met die Grand Canyon se 1,6 km).

485 m.km – So ver het InSight van die aarde na Mars gereis.

7 maande – Die tog het omtrent so lank geduur.

5 m – So diep gaan InSight se “meganiese mol” in die Marsoppervlak in boor.

40% – Slegs omtrent soveel van al die Marssendings deur enige land was suksesvol.

20 000 km/h – 0 km/h binne 6½ minute! – So vinnig moes die tuig se snelheid verminder vandat dit Mars se atmosfeer getref het tot met die landing. 
mars
Mars is ’n tydmasjien

Volgens Nasa kan ons na die verre verlede reis deur Mars met InSight te bestudeer.

Die aarde en Venus het tektoniese plate wat die meeste getuienis van hul vroeë verlede vernietig het, maar Mars het meer as 3 miljard jaar lank grootliks staties gebly.

Dis heelwat kleiner as die aarde en ­Venus en het minder energie om die prosesse aan te dryf wat pla­neets­truktuur verander. Dis grootliks ’n fossielplaneet wat die geheime van ons sonnestelsel se vroeë geskiedenis diep daarin bewaar.

BRONNE: NASA.GOV, MARS.NASA.GOV, JPL.NASA.GOV, SPACE.COM, YOUTUBENASA/JPL, NASA/BILL INGALLS, NASA/JPL-CALTECH, NASA/JPL-CALTECH/CHARLES BABIR