Dit is 'n nagmerrie wat geen ouer wil beleef nie. Jare nadat jy jou bondeltjie vreugde huis toe bring en met liefde grootmaak, moet jy uitvind dit is 'n ander ma se kind.

Maar dit is presies wat twee Russiese ma's oorgekom het.

Die twee inwoners, Vasilya Baimurzina en Valentina Baulina, van die Kizilsky-distrik in Chelyabinsk Oblast in Rusland, het jare lank hul vermoedens gehad dat iets nie pluis nie. Die tergende raaisel het 38 jaar lank onopgelos bly.

Vasilya en Valentina het elkeen dogters grootgemaak, wat geensins soos hulle lyk nie.

Op die Russiese dorpe, waar hulle onderskeidelik gewoon het, het mense agter bakhande daaroor gefluister.

Gulsina, die dogter van die donkerkop Vasilya, was een van die enigste mense in haar familie met ligte hare.

Valentina, die ma wat ligte hare het, het weer die donkerkop Alyona grootgemaak.

Die vroue het lank onraad vermoed, maar het nie dieper gekrap nie. Dit was eindelik Alyona wat ondersoek ingestel het.

Alyona het aan die Russiese Televisiekanaal NTV vertel sy was 12 jaar oud toe sy al van haar ma se vermoedens gehoor het. Sy het uitgevind waar haar ware familie moontlik kan wees en het hulle gaan opsoek.

Vasilya het geweier om te glo Gulsina is nie haar kind nie.

Die twee families het eindelik ingestem om saam DNS-toetse te laat doen. Die uitslae is regstreeks op televisie bevestig: die twee dogters is inderdaad met geboorte omgeruil in die hospitaal in Kizilskoye waar hulle byna vier dekades gelede albei die lewe geskenk het.

Die verpletterde vroue eis elkeen R 1,9 miljoen se skadevergoeding van die Russiese departement van finansies nadat hulle van die fout uitgevind het.

Valentina, wat ligte hare het, het die donkerkop A
Valentina, wat ligte hare het, het die donkerkop Alyona grootgemaak. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die bestuurder van die betrokke hospitaal, Alla Vasilyeva, het voor die verhoor ’n amptelike verskoning aan die vroue uitgereik. Sy het hulle daarop gewys dat die personeel wat destyds betrokke was, nie meer lewe nie. 

Vasilya is Alyona se geboortema.
Vasilya is Alyona se geboortema. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Alla het ook gesê sy is nie seker hoe dit wesenlik moontlik kon gebeur het dat die babas se naamkaartjies per ongeluk kon loskom en verkeerd teruggeplaas is nie. 

Volgens die plaaslike media is die gewone vergoedingsbedrag vir sulke gevalle tussen R193 000 en R290 000 per persoon. 

Valentina is Gulsina se geboortema.
Valentina is Gulsina se geboortema. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Alyona is vandag ’n entrepreneur en Gulsina werk as opsigter by ’n skool. Die families het glo besluit om vriende te wees.

Die saak word nou in die hof aangehoor en nog 'n rondte DNS-toetse word gedoen.

EKSTRA BRONNE: Metro.co.uk; Mirror.co.uk; News.co.au