“'n Mens het gemengde gevoelens. Jy wens natuurlik jou kind was daar om dit self te ontvang, maar voel ook so geëer dat jy kan deel in die oorwinning, want hy het so hard daarvoor gewerk,” vertel Amanda.

Kolonkanker is in April 2017 by Gerbrandt Kotzé (26) gediagnoseer en op 28 Mei 2018 is hy daaraan oorlede, net ’n paar dae voor sy 27ste verjaardag.

Amanda Kotze ontvang haar oorlede seun, Gerbrandt,
Amanda Kotze ontvang haar oorlede seun, Gerbrandt, se graad namens hom by die Universiteit van Stellenbosch se gradeplegtigheid van 11 Desember. Foto: Stefan Els
Amanda Kotze ontvang haar oorlede seun, Gerbrandt,

“Dit is nie algemeen vir iemand so jonk om met kanker gediagnoseer te word nie en veral dat dit na die lewer versprei, soos wat met hom gebeur het. Maar ons weet kanker is lankal nie meer ’n oumenssiekte nie; dit verwoes ook die lewe van ons jong mense en ons het vrede gemaak daarmee,” vertel Amanda. 

“Dit was vir ons ’n groot skok. Die dokters het aanvanklik nie daarvoor gesoek nie, hy was baie siek maar ons het gedink dit is griep of die gevolg van stres.”

Sy vertel hy het aanvanklik baie goed gereageer op chemoterapie, maar eindelik het dit nie die gewenste uitwerking gehad nie. 

“Maar hy was dapper en altyd vol humor. Hy het nooit sy diagnose geleef nie.” 

Gerbrandt saam met ma Amanda, pa Gerhard, ouboet D
Gerbrandt saam met ma Amanda, pa Gerhard, ouboet Dawid en sy aangenome kleinsus, Elizabeth.
Dr. Rehana Malgas-Enus het die SUNCOI projek begin
Dr. Rehana Malgas-Enus het die SUNCOI projek begin

Ten spyte van sy toestand het Gerbrandt aangehou om kliphard aan sy meesterstesis te werk, en twee weke ná sy dood het sy familie die goeie nuus ontvang dat hy sy graad geslaag het. Ná die gradeplegtigheid het Gerbrandt se ouers en broer, Dawid, saam met sy vriende en ander familie die geleentheid gaan vier.

“Melkskommels was sy gunsteling; dus het ons almal gaan sjokolademelkskommels drink,” vertel Amanda laggend.

Haar kind was lief vir mense en wou net altyd teruggee; daarom vermoed sy hy sou met sy wetenskapsgraad die akademie of onderwys betree het.

“Enige plek waar hy mense kan ophef en by hulle ’n liefde vir wetenskap kon kweek.

“Om die waarheid te sê, as hy sy sin kon kry, sou hy waarskynlik ’n kinderhuis begin het.”  

Amanda saam met haar man Gerhard en Gerbrandt se s
Amanda saam met haar man, Gerhard, en Gerbrandt se studieleier, dr. Rehana Malgas-Enus. Sy het die SUNCOI-projek begin om leerders van minderbevoorregte skole die geleentheid te gee om hul liefde vir wetenskap te ontwikkel. Gerbrandt was baie nou betrokke by dié opheffingsprojek.

Om dié rede het hulle vanjaar op sy verjaardag, 1 Julie, ’n gedenkdag gehou waar hulle klere en niebederfbare produkte ingesamel en aan die Andrew Murray-kinderhuis in die Paarl geskenk het. Gerbrandt is op 2 Julie begrawe. 

“Natuurlik verlang 'n mens na jou kind. Ons gesin het vanoggend weer trane gepink. Maar hy sou nie wou hê sy ma moet in sak en as sit nie. Hy sou wou hê ons moet met ons lewe aangaan. Want hy leef nou in die hemel by die Here.”

Amanda met Gerbrandt se MSc-graad. Foto: Stefan El
Amanda met Gerbrandt se M.Sc.-graad. Foto: Stefan Els
Amanda en Gerhard Kotze met Gerbrandt se MSc-graad
Amanda en Gerhard Kotze met Gerbrandt se MSc-graad. Foto: Stefan Els

’n Groot ligpunt vir haar is die stories wat nou uitkom ná sy dood. “ 'n Mens dink jy ken jou kind, maar soveel van sy vriende van die kerk en universiteit het sedertdien na ons toe gekom met die mooiste stories van wie hy vir hulle was.”

En wat gaan met sy graad gebeur? 

Gerbrandt Kotzé
Gerbrandt se graad.

“Ons sal dit beslis laat raam” vertel sy. “Om ons altyd aan sy deursettingsvermoë te herinner.” 

  • Gerbrandt word oorleef deur sy ouers, Amanda en Gerhard, ouer broer, Dawid, skoonsuster Cecilia en sy aangenome suster, Elizabeth.