Van daardie voorval onthou hy byna niks nie, sê Llewellyn van der Linde (18).

Maar dít wat op 5 Maart verlede jaar in ’n klaskamer van Hoërskool Bergvlam in Mbombela vasgevang is, vul hom vandag met diep berou: ’n Toe minderjarige skoolseun wat die Engels-onderwyser Richard Prinsloo (49) met die vuiste takel en hom bebloed en gekneus op die vloer laat.

Dis ’n swaar las om te dra, sê hy. Om te weet dis hý wat ’n man se lewe verwoes het . . .

“Ek is vandag gevul met diep berou. Om daardie video te sien . . . Dis erg. Jy loop rond met hierdie ongelooflike swaar skuldgevoel. Dit vreet jou op. Ek is spyt oor dit wat ek gedoen het. Ek weet vandag dit was nie die regte oplossing vir konflik nie.”

Een en ’n half jaar ná die voorval het hy besluit om vorendag te kom – en om verskoning te vra vir sy dade wat die land met skok en afgryse gevul het.

Richard Prinsloo, die onderwyser van Mbombela wat
Richard Prinsloo, die onderwyser van Mbombela wat verlede jaar deur ’n leerder (toe 17) in sy klaskamer aangerand is. Foto: Fanie Mahuntsi

Tog, meen Llewellyn, verskil sy weergawe oor die gebeure wat die voorval voorafgeloop het steeds met dié van Richard.

“Ek en die onnie het stry gekry toe ons buite die klaskamer praat, want ek wou my probleme self hanteer. Ek wou dit nie aan die groot klok hang nie. En toe het hy neerhalend na my ma verwys,” beweer Llewellyn.

Maar Richard hou vol hy het nooit neerhalend na Llewellyn se ma verwys nie. Volgens hom was sy aanvaller ’n gekwelde tiener.

“Hy het sedert sy eerste dag in die klas aggressiewe gedrag getoon. Ek was bang vir hom. Dit het kort-kort gevoel of ’n bom gaan ontplof. En toe ek uitvind van sy ma se dood, het ek onmiddellik met die maatskaplike werker by die skool gereël om met hom te praat. Maar toe ontplof daardie bom. Dit is wat hom oor die randjie gestuur het.”

Llewellyn se ma, wie se naam hy wil weerhou, is op 23 Januarie in ’n motorongeluk dood. Sy is in die middel van die pad deur ’n bakkie getref – en die ongeluk het voor Llewellyn afgespeel. 

“Om so iets met jou eie oë te moet sien . . . Hoe jou ma deur die lug geslinger word. Die angsgille. Dit breek mens. Dis pynlik. Ek onthou hoe ons met haar hospitaal toe gejaag het. Sy is dood in die teater. Dit was vir my ongelooflik moeilik om te hoor dat sy dit nie gemaak het nie. 

“Ná haar dood het ek met baie pyn rondgeloop. Ek was kwaad vir die wêreld. Ek wou skreeu . . . en ek wou niks van niemand weet nie. Ek wou net in ’n donker plek wegkruip. En dit was erg, maar dis deur soveel jare van seer voorafgeloop. Soos jare se mishandeling en haat van diegene wat vir my die liefste moes wees.”

Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’
Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’n kring­tele­visie­kamera in Richard se klaskamer opgeneem is.
Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’
Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’n kring­tele­visie­kamera in Richard se klaskamer opgeneem is.
Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’
Skermgrepe van die aanval uit die video wat deur ’n kring­tele­visie­kamera in Richard se klaskamer opgeneem is.

Buite die huis het hy dieselfde gedoen: geboelie. En op daardie dag in die klaskamer – toe Richard hom met ’n brief nader om die skool se maatskaplike werker te spreek – het sy woede oorgekook, beweer hy.

“Baie ander dinge van daardie dag is waar: Dat ek agressief was en dat ek kwaad was. Ek het baie seer gehad – oor die dinge wat in my lewe gebeur het; oor my omstandighede by die huis. Ek het blank geslaan en wou alles voor my stukkend slaan. Dis alles vir my ’n waas.”

Llewellyn is op daardie dag deur medeleerders van Richard afgetrek en uit die klaskamer vergesel. Richard het onder meer gekneusde ribbes en bloeding in die linkeroog gehad. Llewellyn is ná die voorval geskors en moes ses maande lank berading ontvang.

Die Sentrum vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders (Nicro) het later aanbeveel dat ’n aanrandingsaak – wat Richard teen Llewellyn aanhangig gemaak het – teruggetrek word.

In Augustus vanjaar het Richard aan Huisgenoot gesê hy is geestelik geknak en sal nie weer skoolhou nie. Hy het einde verlede jaar uit sy pos bedank.

Maar, sê Llewellyn, hy het lank geboet vir die gebeure van daardie dag – en hoop om nou met sy lewe te kan aangaan.

“Ek weet nou wat dit aan ’n mens doen om wrokke te koester. Dit haal jou in, en op ’n dag kry dit die oorhand. Ek is jammer oor wat daardie dag gebeur het, en ek sal Richard nog nader om persoonlik ook verskoning te vra. Maar nou wil ek aanbeweeg.”

In die laaste maande moes hy harde lesse leer, sê hy. Soos dat dit belangrik is om seer te verwerk en daaroor te praat.

“Ek moes leer dat my probleme eenvoudig groter word wanneer ek dit vir myself hou. Maar dat dit verander wanneer jy iemand het met wie jy kan praat; iemand wat jy kan vertrou en wat nooit sal ophou om jou te ondersteun nie.

“Ek moes leer om nie hardkoppig te wees nie, want kyk waar het dit mý gebring. My raad is: Deel jou seer met iemand – anders gaan dit jou eendag tot breekpunt dryf. Praat met die Here; praat met enigiemand. En wees bereid om jou eie foute raak te sien, daaruit te leer en te verander.”

En wanneer hy eers self heel is, wil hy ook ander help. Hy werk deesdae op ’n plaas in die Karoo-distrik – en droom nou van een van sy eie.

“Ek werk nog elke dag aan myself en my toekoms. Ek wil my eie plaas besit – en ander kinders met dieselfde probleme as ek help. Kinders wat verwerping, seer en haat aanvaar. Jongmense wat iemand nodig het om hulle te ondersteun.”

• Richard se eis teen die onderwysminister vir pyn, lyding en ’n onveilige werkomgewing gaan steeds voort.