Zander is steeds in ’n kritieke maar stabiele toestand nadat hy Woensdag van die Mediclinic Nelspruit na die Mediclinic Muelmed in Johannesburg oorgeplaas is.

Zander en sy vrou, Mienkie, was verlede maand op 7 Julie by die Mbombela-gholfklub toe hy en ’n plaaslike inwoner na bewering stry gekry het. 

Volgens ’n bron na aan die ondersoek toon kringtelevisiebeeldmateriaal dat klappe tussen Zander en die man uitgedeel is en hoe die struweling na die parkeerterrein beweeg.

’n 40-jarige man het na bewering in die parkeerterrein by die bakleiery betrokke geraak.

Volgens die bron het Zander in ’n stadium geval en sy kop gestamp.

“Hoewel hy stabiel is, weet die dokter nie of hy ooit uit die koma gaan wakker word nie,” sê die bron. 

Die polisie het aan Huisgenoot bevestig die man in die parkeerterrein het homself aan die polisie oorgegee. Hy is op borgtog van R2 500 vrygelaat.

Hy moet weer op 9 September in die streekhof in Nelspruit op aanklag van poging tot moord verskyn. 

Huisgenoot weerhou sy naam omdat hy nie vir kommentaar bereik kon word nie.

Die familie van Zander het ’n beloning van R10 000 aangebied vir enigiemand wat met enige nuwe inligting rakende die voorval na vore kom. 

“Mienkie wil ook nie met iemand oor die voorval praat nie. Dit gaan nie baie goed met haar nie,” sê die bron. 

“Zander se pa vat dit ook baie moeilik. Ek kan sien hoe hy by die dag ouer word.” 

Kapt. Zandile Gwaqa, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die ondersoek is steeds aan die gang.