Sedert die voorval verlede week is die tenger 16-jarige meisie te bang om terug te gaan skool toe.

Jenny is in die George Campbell Tegniese Skool in Durban. 

Haar ma, Jo-Ann Scott*, het aan Huisgenoot.com gesê dit was ontstellend om te sien hoe haar dogter aangerand word.

“Die afknouery gaan nie lank aan nie. Dit was die eerste voorval van sy soort waarin Jenny geteiken was,” sê sy. 

Jo-Ann vertel 'n meisie, wie se identiteit weerhou word omdat sy minderjarig is, het Jenny daarvan beskuldig dat sy ’n gerug oor haar versprei.

“Jenny wou nog verduidelik dis nie sy nie, toe begin die klappe.” 

In die video kan 'n mens sien hoe talle leerlinge staan en toekyk hoe Jenny aangerand word en niemand tussenbeide tree nie. “Dit was verskriklik om te sien. Almal staan en kyk hoe my kind aangerand word.” 

Jo-Ann sê Jenny was nog nie weer skool toe nie. “Sy begin Vrydag met haar eksamen en sal daarvoor ingaan. Ek sal vir haar wag terwyl sy eksamen skryf. Sy gaan ook apart van die ander leerlinge eksamen skryf,” sê Jo-Ann. 

Die skool het by navraag gesê hulle is besig met ’n tugproses teen die meisie wat Jenny na bewering geteiken het. “Ons moet 'n prosedure volg. Ná ’n ondersoek sal die departement van onderwys die finale besluit neem rakende die leerling. Enige vorm van boelie is ontoelaatbaar en ons is besig om die skool te stabiliseer,” sê die onderhoof, W.S Roy. 

Jo-Ann sê ná die eksamen sal sy vir Jenny ’n ander skool moet soek. “Sy is bloot te bang daar.” 

Die skool was volgens Netwerk24 al voorheen ook in die nuus toe drie leerlinge geskors is nadat hulle beweer het 'n onderwyser was rassisties. 

*Skuilname