Op die sokkerveld het die oud-Kovsie haar slag gewys net soos op die loopplank. Sy het voorverlede jaar onderwys aan die Universiteit in die Vrystaat geswot en gee nou skool aan die Laerskool Barkly-Oos.
 
Sy het op 11 maande breinvliesontsteking opgedoen en byna heeltemal doof geraak. Maar met ’n kogleêre inplanting kon sy ’n hoofstroomskool, die Hoërskool Elliot, bywoon.

“Elke mens het ’n storie. En hier staan ek baie bevoorreg om een van my stories te vertel. Die storie van ’n gehoorgestremde kultuur,” skryf Chantelle. “En julle wonder seker waar pas ek nou in . . . ek wat so wydsbeen in twee wêrelde moet vastrapplek kry?

“Sit die lig aan dat ek jou kan hoor. Dowe mense is soos motte. Hulle volg die lig; sonder lig is dit moeilik om te kommunikeer. Dowes is normaal, hulle kan alles doen behalwe hoor. Daar is oningeligte massas daarbuite wat moet kennis neem. Ek bid elke dag vir wysheid. Wel, gelukkig het ek skerp-skerp oë – met my oë lees ek jou liggaamshouding – ek lees jou lippe op ’n afstand: Oppas dat ek jou vang.

“Praat direk met ’n dowe. Gee jou oë en mond vir ’n dowe. My doenlys vir elke dag: Sit apparaat aan. Eet. Drink. Oefen sport. Bid sonder ophou. Leef jou droom.

“Almal het drome. Maar wat vir jou die belangrikste is, is wat jy met die drome doen. As jy eers besluit om iets daaromtrent te doen, kan jou drome werklikheid word!

“Bou jou droomhuis. Sukses is nie toevallig nie. Van kleindogtertjietyd was ek gefokus om hard te werk, nooit moed op te gee nie. Jy is nooit te jonk of te oud om te leer nie.

“Ek het groot genot daaruit geput om miere dop te hou. Hulle hou nooit op nie – hulle is sterk en dra aanmekaar kos aan met hul knypers. Hulle is onversteurbaar – kom daar ’n struikelblok of hindernis op hul pad, vind hulle ’n ander roete.

“Deursettingsvermoë laat my dink aan ’n klippie wat jy gooi in stilstaande water. Sodra dit plons in die water, kring die golfies al wyer en wyer uit. Hoe meer jy gee, opoffer, hard werk, word jy op die ou end beloon met ’n sukses van vrede en vreugde wat leef in jou binneste.

My wens is dat elke kind – gestremd of nie, dieselfde geleenthede sal kry. Ek doen ’n beroep op elke landsburger – belê van jouself in jou land, elke dag, enige plek...
Ek het nie in weelde grootgeword nie, maar was omarm met liefde, vreugde en nederigheid.

“Op eenjarige ouderdom het ek my gehoor verloor weens breinvliesontsteking. Ná ’n breinstamtoets is doofheid met ’n desibelverlies in die ergste graad by my gediagnoseer en het ek ingeskakel by die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde kinders.

“Dit was harde werk en opoffering vir die hele gesin. My ouer broer, Ulrich, het gepraat van vakansie hou in die Kaap. Elke drie maande is ons Kaap toe vir twee weke vir ouerleiding-sessies, spraakterapie en berge huiswerk en oefeninge wat elke dag gedoen moes word.

“Ek het leer liplees en praat. By die Carel du Toit-sentrum leer hulle ouers van oor die land heen hoe om hul dowe kinders te leer praat sonder gebare.

“Met finansiële ondersteuning van familie, vriende en die gemeenskappe van Indwe, Dordrecht, Elliot, Queenstown, Barkly-Oos, Ugie en Maclear, en geleenthede onder leiding van Elliot-Tafelronde, was ek bevoorreg om op vierjarige ouderdom ’n kogleêre inplanting te ontvang wat ’n reuseverskil in my lewe gemaak het.

“Twee weke ná my aanskakeling kon ek hoor hoe klink die gekraak van harde aartappelskyfies, die geritsel van blare en voetstappe. Ek het nuwe klanke aangeleer en kon ’n ‘s’ sê op vyfjarige ouderdom.

“My ma moes net keer, want voor elke woord wou ek ’n ‘s’ sê . . . sek seet smy skos. In gr. 1 was ek in die Elliot Hoërskool in ’n hoofstroomskool met ondersteuning en begrip van wonderlike onderwysers en onderwyseresse.

“Ek voltooi my hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Hangklip in Queenstown. My horende vriende het altyd seker gemaak ek verstaan alles. Ek het normaal gefunksioneer en nooit hoekom-vrae gevra nie. Ek het aan verskeie sportsoorte deelgeneem – hokkie, tennis, netbal en atletiek.

“My gehoorgestremdheid het my nooit teruggehou van iets nie. Dit het my net meer gemotiveer. My grootste droom is om altyd die beste uit die lewe te haal. Wees aanpasbaar en stel jou oop vir nuwe uitdagings.

“ ’n Mens moet self oplossings vir probleme vind. Die vreugde is soveel groter. Toegewydheid, entoesiasme, dapperheid en sukses is nie geskenke nie, dit is lewenskeuses.

“Ná matriek studeer ek onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat en nadat ek my graad voltooi het, aanvaar ek ’n onderwyspos in Barkly-Oos. Ek hou van kinders en onderwys stimuleer ’n mens op soveel gebiede. Dit is deel van God se plan met my lewe. Ek is trots op my dowe-kultuur . . .

“Om heeltyd agtertoe te kyk gee jou net ’n stywe nek. Natuurlik is daar blapse, soos byvoorbeeld om woorde verkeerd te hoor. Gelukkig het ek geleer om verby hierdie dinge te kyk – en selfs daaroor te lag.

“ ’n Sin vir humor maak jou eie lewe en ook die lewe van ander rondom jou makliker. Gelukkig het ek ook geleer om die frustrasies eerder as geleenthede te sien om ander te inspireer. Ons moet leer om meer te lag, meer te onderneem, ons grensgebiede te vergroot en ’n lewe vol opwinding te leef.

“Gebruik slegs jou verlede as ’n leerskool en nie om skuldgevoelens mee te versamel nie. Skuldgevoelens is nutteloos en hou die son uit jou lewe uit. Ek het al sprakeloos gestaan oor God se krag, voorsiening en sy oneindige liefde oor ons.

“My ma, met my pa aan haar sy, is nie net ’n ma wat berge vir haar kinders sal versit nie; sy is ’n bittereinder wat negatiwiteit in positiwiteit omskep. Dowe mense kan enigiets doen wat normaal horende mense kan doen.

“Waar daar ’n wil is, is ’n weg. Gehoorgestremdes werk drie keer so hard om te kommunikeer, want dit verg meer inspanning. Ek gebruik nie my gehoor as verskoning nie, en ek laat dit nie toe om my terug te hou nie.

“Omdat ek staat maak op liplees, lag mense soms as ek sê: ‘Sit die lig aan, ek kan nie hoor nie.’ Sien elke uitdaging as ’n geleentheid, pleks van ’n hindernis. Ek wil graag eendag weet ek het probeer om die wêreld ’n beter plek te maak. Horendes verstaan nie altyd die gehoorgestremde se wêreld nie, maar: Life is about attitude.

“Ek is nog steeds verwonderd oor my kroning. Ek het gevoel soos Sneeuwitjie in my ontwerpersrok.