Verskeie operateurs in die hommeltuigbedryf is ontevrede en voer aan Steve se span het die wet oortree deur ’n hommeltuig in te span. 

Ingevolge die burgerlugvaartwet word dit verbied om ’n hommeltuig oor ’n openbare pad, binne 50 m van mense of geboue of binne ’n radius van 10 km van ’n lughawe af te vlieg sonder dat jy ’n gelisensieerde hommeltuigoperateur is en toestemming van die burgerlugvaartowerheid het. 

Operateurs voer aan al dié bepalings is in die vervaardiging van die musiekvideo oortree.

Van die hommeltuig-videomateriaal wat operateurs aanvoer laer as 50 meter bo mense se koppe geneem is.

Die bekende rolprentvervaardiger en gelisensieerde hommeltuig-operateur FC Hamman sê dit skep ’n slegte voorbeeld. “Dit sê vir die publiek dat die wetgewing nie saak maak nie; dat hulle kan maak nes hulle wil.”

FC en ander gelisensieerde hommeltuigoperateurs word streng beperk deur die wet en hy sê dit kos ’n enorme bedrag geld om ’n lisensie te bekom. Om toestemming te verkry vereis dan ook ’n lywige hoeveelheid papierwerk. 

“Hulle besef ook nie die risiko’s nie,” vertel FC. “Indien die operateur nie gelisensieerd is en nie toestemming verkry het nie, sal geen derdepartyversekering uitbetaal as die operateur per ongeluk in iemand of iets vasvlieg nie.”

En in dié geval was die risiko’s groot. 

“Oorsee was al talle voorvalle. Die groot probleem hier is dat die hommeltuig reg in die pad tussen inkomende vliegtuie en die Wonderboom-lughawe gevlieg is. As die hommeltuig in ’n vliegtuig se enjin beland, kan dit ’n ongeluk veroorsaak en veral by die Wonderboom-lughawe is heelwat kleiner vliegtuie wat inkom. Dit kon iemand se lewe geëis het.”   

Van die hoë hommeltuigskote wat operateurs aanvoer onwettig en ’n bedreiging inkomende vliegtuige was.

Volgens Steve se agent, Liza Mulder, dra hulle nie kennis van die relevante wetgewing en prosedures nie. Hulle het Huisgenoot na die produksiemaatskappy wat hulle gehuur het, Gerhard van Rooyen (GVR), verwys. 

“Ons het vertrou die maatskappy sal al die nodige reëlings tref.”

Gerhard van Rooyen van GVR sê hulle het kontrakteurs gehuur om die hommeltuigskote te verfilm en dat dié wel gelisensieerd is.

“Ek kan bevestig dat die kontrakteur wel gelisensieerd is. Ek het hulle ook gevra oor dit voordat ons die video geskiet het omrede ons die regte roete wou volg met 'n wel vooraf beplande video.”

Dit is steeds onduidelik wie die operateur was en of hulle toestemming gehad het om die musiekvideo daar te verfilm. 

Om wettig te kan opereer moet ’n operateur vyf verskillende lisensies hê en onder een van die 16 gelisenieerde maatskappye werk. 

Die wet stipuleer ook dat vir ’n produksie soos dié musiekvideo die pad afgeblokkeer sou moes wees. 

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid, sê dié organisasie ondersoek tans die voorval en kyk of ’n gelisensieerde hommeltuigoperateur die video verfilm het. 

“Die ondersoek sal vasstel of enige stappe teen die betrokke hommeltuigoperateur gedoen moet word.”

Indien hulle skuldig bevind word, kan die operateur met R50 000 beboet of 10 jaar tronkstraf opgelê word – of albei.