Hy is nie eens 'n meter lank nie en sy gesondheidsuitdagings hou hom terug. En sy is 'n blosende jong vrou.

Maar moenie dink dit skeel Winston Clements (34) nie. Trouens, hy verwelkom die kyke en verbasing van vreemdelinge. 

“Sulke goed pla my nie – ek het nog altyd daarvan gehou om die middelpunt van aandag te wees,” vertel hy. En aandag het hy beslis oor die jare gekry as gevolg van sy gesondheidstoestand.

Winston is met osteogenesis imperfecta gebore, ’n seldsame afwyking wat sy bene uiters bros en breekbaar maak. Die toestand, wat ook as brosbeensiekte bekendstaan, het ook sy groei beperk. 

In sy leeftyd het hy al sowat 200 pynlike beenfrakture opgedoen.

Met al die uitdagings wat hy al in sy lewe oorkom het, het hy nooit gedink hy sou ware liefde vind nie.

Maar drie jaar gelede het die pragtige Mayfair in sy lewe ingestap. En alles verander.

Ná ’n warrelwindromanse is hulle in Augustus verlede jaar getroud, omring deur ’n hand vol familie en vriende. Maar hul troue het meer as die gewone boodskappe van viering en beste wense ontlok. Hoe kan ’n gesonde vrou by Winston wees?, wou party mense weet. 

Kan hulle seks hê? Kan hulle kinders kry? Die kwetsende vrae het ingestroom. Mayfair sê sy en Winston probeer dit ignoreer en op die positiewe, opbouende kommentaar fokus, maar dit is soms moeilik. 

“Ons kry ook ’n paar negatiewe boodskappe wat daarop sinspeel dat ons om geldelike redes by mekaar is. Dit is natuurlik alles verkeerde aannames.” 

Mayfair (23) sê sy weier dat kuberboelies verhoed dat hulle hul ongewone liefde vier. 

“Ons kies om eerder mense met ons storie aan te moedig,” sê sy. 

Mayfair het dadelik geweet sy het haar sielsgenoot ontmoet.

“Winston is een van daardie ouens – as jy hom van nader ken, is jy lief vir hom,” sê sy.

Sy was bekoor toe hul paadjies drie jaar gelede by ’n geleentheid vir persoonlike ontwikkeling in Londen kruis.

Winston, ’n aktivis vir diversiteit en inklusiwiteit, was ’n gasspreker by die geleentheid en het ’n persoonlikheid wat sy nie kon weerstaan nie. 

Mayfair, wat opleiding gekry het om ’n lewensafrigter te word, was so beïndruk met sy motiveringspraatjie dat sy na hom uitgereik het om ’n groep te stig om mede-entrepreneurs te steun.

Winston was maklik om mee te praat en sy was nie verbaas toe die gesprek persoonlik raak nie. Kort voor lank het hulle vir mekaar ander goed begin vertel wat hulle nog met niemand anders gedeel het nie en soms ure lank gesels.

“Winston het vir my gesê hy is verlief op my. Ek wou dit nie in daardie stadium sê nie, maar ek het dieselfde gevoel.”

Mayfair erken sy het bedenkings gehad oor uitgaan met ’n ou wat in ’n rolstoel is, maar hoe meer sy oor sy toestand te wete gekom het, hoe meer het sy op hom verlief geraak. 


Winston se vroeë jare was besonder moeilik.

Sy kinderjare was vol pyn en trauma, want hy het “elke tweede maand” ’n been gebreek, sê hy.

Terwyl sy suster en haar maats maklik met hul dae voortgegaan het, het Winston met eensaamheid geworstel, vasgekeer in ’n lyf wat nie kon doen wat hulle s’n kon doen nie.  

“Teen 12 jaar oud het ek sowat 150 bene gebreek,” vertel hy. “Destyds kon ek nie veel doen nie, maar ek het geweet ek het baie om te doen. 

“Ek het myself altyd as vurig onafhanklik gesien en dit was baie moeilik om beperk te wees deur ’n lyf wat nie daardie onafhanklikheid ondersteun het nie.”

Maar Winston het nie toegelaat dat sy liggaamlike beperkings hom daarvan weerhou om sy drome na te jaag nie. Sy ouers het hom nie anders as sy suster, Mariam, behandel nie en daar is van albei verwag om uit te blink.

Sy ouers was trots toe hy in 2009 ’n universiteitsgraad in rekenaarwetenskap behaal het. Hy het die volgende 10 jaar as ’n konsultant vir ’n wêreldwye tegno-korporasie gewerk voor hy ’n motiveringspreker geword het.

“Ek het aanvanklik as ’n stokperdjie begin toesprake lewer, maar die vraag na my toesprake het toegeneem,” sê Winston, wat al ’n TEDx Talk met die titel Your Limitations are an Illusion aangebied het.

“My tyd is nou daarop gefokus om my storie te deel.”

Winston deel sy motiverende reis op verhoë en mediaplatforms en op konferensies oral ter wêreld. Hy skryf sy sukses aan veerkragtigheid toe. “Dit gaan oor aanhou, al sien ek nie dadelik die resultate nie,” sê hy.

“Een van my mentors het my help verstaan my gestremdheid is my gawe – dit gaan oor ’n groter prentjie en om ander mense te ondersteun.

”Maar soos almal anders is daar dae wanneer hy ook broos voel.

“Dan omring ek my met mense wat met my eerlik is, my optrek en nie bang is om my verantwoordelik te hou nie.”

Sy vrou, saam met wie hy in Londen, Engeland, woon, is sy grootste ondersteuner en noem hom haar superheld in die sosiale media.

Winston het moeite gedoen met sy huweliksaanbod en sy gesin se hulp gevra om dit reg te kry.

Hy het Mayfair genooi om sy ouers te ontmoet en Mariam toe gevra om haar na ’n winkel te neem terwyl hy ’n romantiese middagete agtermekaar gekry het. 

Die twee is in die pragtige tuin van ’n 18de-eeuse huis in die distrik Wokefield getroud.

“Die hoogtepunt was toe ek Mayfair in haar trourok sien,” sê hy. Die bruid het asemrowend gelyk, maar dit was ’n bittersoet oomblik vir die pasgetroudes, want die bruidegom het sy ma ’n paar weke voor die troue verloor. Mayfair het ’n roerende huldeblyk aan haar geskryf.

“Dankie dat jy die ongelooflikse man grootgemaak het waarvoor ek kon vra en dat jy vir my die wonderlikste suster gegee het,” skryf sy. Nadat hulle na Spanje gevlieg het vir hul wittebrood, het die pasgetroudes tatoes gekry.

Markus 10 vers 8 is aan hul gewrigte getatoeëer. Dit verwys na die Bybelvers wat sê dat twee mense een word. Winston en Mayfair werk steeds sy aan sy en deel hul reis in die sosiale media.

Hulle hoop hul storie inspireer ander mense om ten spyte van hul omstandighede in hulself en hul drome te glo. “Ek raak eintlik opgewonde wanneer ek die trolle sien uitkom,” sê Winston.

“Wanneer jy jou doel vind, is dit baie ongemaklik vir mense wat buite hul doel optree.”

BRONNE: THESUNONLINE.COM, WWW.OMNY.FM, NEWS24.COM, DAILYSTAR.CO.UK