Louise en Tersius Brits was albei jare lank metropolisiebeamptes. Louise was vir ’n ruk ook woordvoerder van die metropolisie.

Hulle was al op talle ongelukstonele, maar Sondagaand moes hulle sien hoe hul jongste kind, Rian, in ’n motor vasgekeer is. 

“My dogter, Elané, het ons laat weet ons moet kom. Dit het nie goed gelyk nie. Toe ons daar aankom, was hy al geïntubeer en was hulle besig om hom uit die motor te sny. Hulle het CPR gedoen en hom geskok, maar kon hom nie red nie,” vertel Louise aan Huisgenoot.com. 

Sy het gevra dat melding gemaak word van die uitstekende noodhulppersoneel. “Hulle kon regtig niks meer doen nie. Hulle het alles probeer,” sê sy. 

Rian en ’n vriend se motor is deur ’n bestuurder getref wat in Sefako Makgatho-rylaan in Pretoria-Noord na bewering oor ’n rooi verkeerslig gejaag het. “Hy het Rian aan sy kant getref,” sê Louise.

Rian se vriend is in ’n ernstige toestand in die hospitaal. 

Louise sê God het haar gehelp om kalm te bly. “Ek het altyd as ek op pad was na sulke tonele my emosies eenkant toe geskuif, want ek moes werk. God het my Sondagaand ook gehelp,” sê sy. 

Sy sê die familie treur oor hul “gentle giant met 'n groot liefde vir die lewe”, maar hulle gaan eerder sy lewe vier. “Hy sou volgende jaar politieke wetenskap begin studeer en wou ook kriminologie doen. Hy was ons almal se hero en sy ouma was syne,” sê sy. “Ek het altyd gewag dat hy rebelleer of stout is, maar hy het nie,” sê Louise laggend. 

Rian se ouer suster, Elané (25), sê sy wil nie hê mense moet Rian aan sy tragiese einde onthou nie. “Hy was ’n teddiebeer. Hy was so lief vir musiek maak en vir mense. Hy het nooit kwade gevoelens gehad nie en as hy vies was, het hy sy kitaar opgetel,” vertel sy.  

Elané se verloofde, Xander Flynn, het altyd saam met Rian musiek gemaak. “Hy was jonger as ek, maar ek het altyd na hom opgekyk. As ek eendag soos hy kan wees, sal ek gelukkig wees,” sê hy. 

Die familie het gevra dat Huisgenoot.com dié video deel wat Rian enkele dae voor sy dood opgeneem het. 

Rian se begrafnis is Donderdag om elfuur by die NG Kerk Villieria in Pretoria.

Dit is onduidelik of die bestuurder van die ander voertuig deur klagte in die gesig gestaar word. Sodra kommentaar van die polisie verkry word, sal dit bygewerk word by hierdie berig.