Voormalige Mev. Suid-Afrika deelnemer Amber Wright
Borskanker is verlede jaar by die voormalige Mev. Suid-Afrika-deelnemer Amber Denae Wright gediagnoseer. Foto: Instagram

Borskanker is vroeg verlede jaar by die voormalige Mev. Suid-Afrika-deelnemer Amber Denae Wright (28) gediagnoseer. 

“Dit was die grootste skok van my lewe,” vertel Amber. “My onmiddellike gedagtes was dat dit onmoontlik is. Ek was net 27 jaar oud in daardie stadium en niemand in my familie het borskanker gehad nie. Dit het gevoel asof my hele lewe ineenstort. Hoe kon dit met my gebeur?”

View this post on Instagram

A post shared by Amber Denae Wright (@amberdenae22)

Amber is ’n Kapenaar wat binneversiering doen. Sy het in 2018 onder die toptien-finaliste van Mev. Suid-Afrika geëindig.  

Toe die dokter haar inlig oor die soort kanker wat sy het en watter behandeling sy moet kry, het die vrees haar beetgepak dat sy haar hare gaan verloor. “Die flieks en televisiereekse met die kaalkop siek kankerpasiënte was my enigste verwysing . . . Ek gaan so lyk, het ek gedink.”

In die eerste paar dae was dit vir haar geweldig moeilik om die skok te absorbeer, vertel Amber. Haar man, Nick, ouers en susters het hul bes gedoen om haar te ondersteun. 

“Ek het in ’n warrelwind skanderings, bloedtoetse en afsprake met verskeie dokters beland. Ek het gesukkel om te slaap en in die vroeë oggendure op die bank gaan sit en lofprysingsmusiek geluister. Ek het ook in ’n dagboek geskryf wat ek begin het toe dit by my gediagnoseer is. 

“Ek was nie regtig aan die begin in staat om te praat oor hoe ek voel nie,” sê sy. “Ek was in skok en kon nie glo dit is ’n werklikheid nie. Tog het ek krag en vrede gevind in die woorde en lirieke van lofprysingsliedere wat toe vir my groter betekenis gekry het.”

Amber het in Maart verlede jaar vir die eerste keer ’n knop in haar bors gevoel. ’n Ginekoloog het jare gelede vir haar gesê sy het fibro-adenoom in haar borste wat sy sal moet laat uitsny as dit groei.

Fibro-adenoom is nie-kwaadaardige bindweefsel wat gewoonlik in vroue se borste voorkom.

Dit was aan die begin van die covid-19-pandemie en sy het tot Mei gewag voor sy dokter toe is. Die dokter was ook onder die indruk dat dit ’n fibro-adenoom is en hulle het nog twee maande gewag voor dit in Augustus chirurgies verwyder is. Met die opvolgbesoek het die dokter haar meegedeel dat die knop wat sy gevoel het ’n gewas is. 

Fase 1 tipe 2 mammakarsinoom is by haar gediagnoseer.

Hulle het haar dadelik op vrugbaarheidsbehandeling geplaas sodat haar eierselle gevries kan word aangesien chemoterapie jou eierstokke kan beskadig.  

’n Maand ná haar diagnose op 7 September is haar chemoterapie begin. Sy het 16 sessies oor 20 weke gekry. 

“In die tweede week het my hare uitgeval en aan die einde van die week was dit so erg dat ek my kop moes kaal skeer. Dit was ’n geweldige moeilike oomblik vir my. Dit was die een ding wat ek van die begin af die meeste gevrees het en dit bly een van die moeilikste goed op hierdie reis.”

Amber vertel gedurende chemo was sy baie moeg en nie in staat om die dinge te doen waarvoor sy lief is nie. “Die verrassende ding van chemo is die klomp klein goedjies wat dit wegneem. Alles proe laf en dinge waaroor jy mal is, laat jou siek voel. Daar is ook sekere kos wat jy nie gedurende 'n chemobehandeling moet eet nie – een daarvan is my gunsteling, soesji.”

Sy het haar chemoterapiebehandeling in Januarie voltooi en sal in April met bestraling begin wat sy elke weekdag vir vier weke sal kry. Haar kanker is hormoonverwant; daarom sal sy ook vir die volgende vyf jaar op hormoonbehandeling wees. 

Amber het ook ’n lumpektomie ondergaan waar weefsel rondom die oorspronklike gewas verwyder is sodat hulle seker is al die kankeragtige weefsel is weg. 

Dit gaan nou baie goed met haar, sê sy. “Die newe-effekte het begin minder raak en ek is grotendeels gesond ná my operasies. Ek voel meer soos myself. Die moegheid en slapeloosheid van die chemo is nog uitdagend, maar oor die algemeen is my simptome baie minder intens. 

“Om te weet die ergste deel van my behandeling is verby, help my om positief te voel en asof ek stadig besig is om my lewe terug te kry. Ek reageer goed op my behandelingsplan en die dokters is baie tevrede met waar ek is.”

Sy sê die beste ding wat vir haar uit hierdie proses gekom het is haar hernude waardering vir alles in haar lewe.

“Die reis het my vir altyd verander. Ek sal nooit weer dieselfde mens wees nie. Ek sal nooit weer dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Dinge soos om trappe te klim en nie uitasem te wees nie, om uit te gaan vir ete en my hare te borsel. Dit het gemaak dat ek die klein goedjies in die lewe waardeer en die groot goed soveel meer.” 

Amber moedig enigeen aan wat dieselfde of 'n soortgelyke pad moet stap. “Dit is ’n uitsonderlik moeilike pad, maar dit hoef jou nie te stop nie. Dit gaan nie maklik wees nie, maar jy kán daardeur kom. Omring jouself met mense wat jou sal dra as jy swak is en elke tree van die pad sal aanmoedig. 

“Word wakker elke dag en kies om te baklei. En, asseblief, ondersoek jouself. Vroeë diagnose red werklik lewens.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe