Sonia Oosthuizen
Sonia Oosthuizen sê haar grootste vrees is om nie haar kinders, klein Sonlia en Aubrey, te sien grootword nie. Foto: Verskaf

Die ergste is die wete dat sy enige oomblik haar laaste asem kan uitblaas. Dat sy haar twee minderjarige kinders – albei onder die ouderdom van vyf jaar – dalk nooit sal sien grootword nie . . .

Dit was soos ’n doodsvonnis toe sy verlede jaar hoor sy ly aan vier lewensgevaarlike siektetoestande, sê Sonia Oosthuizen (25) van Meyerton in Gauteng.

Long- en lewerkanker, ’n disfunksionele hart wat net meer as 50% funksioneer en Hodgkin-limfoon – ’n kanker met sy oorsprong in die limfstelsel – is by Sonia gediagnoseer.

“Dit was soos ’n vuishou in die maag,” onthou Sonia vandag oor haar diagnose op 9 Junie verlede jaar.

Sonia Oosthuizen
Sonia is gediagnoseer met long- en lewerkanker, ’n disfunksionele hart en Hodgkin-limfoon. Foto: Verskaf

Haar gesondheid het maande lank kommer gewek nadat sy vir lang tye afgerem en moeg gevoel het. Haar eetlus het ook heeltemal verdwyn, verduidelik Sonia, en daarmee saam het sy baie gewig verloor. 

“Ek was met tye so moeg dat ek myself glad nie uit die bed kon sleep nie. Ek het nie krag gehad om te beweeg nie en het geen eetlus gehad nie,” vertel sy.

Omdat sy en haar man, Braam (26), nie lede van ’n mediese fonds is nie, het sy by ’n provinsiale hospitaal aangeklop vir hulp. Dis eers nadat Sonia na ’n velspesialis verwys is weens ’n toestand wat haar aanhoudend laat jeuk het, dat sy na ’n tweede spesialis verwys is – en dié het haar diagnose gemaak.

Sonia Oosthuizen
Sonia en haar man, Braam. Foto: Verskaf

“Ek onthou die dag nog soos gister. Die spesialis het my gevra of ek alleen wil wees wanneer sy die nuus met my gaan deel en of ek graag my man by my wil hê. Dit het my bang gemaak en ek het versoek dat Braam by my is. Toe vertel sy my: Daar is nie net een lewensgevaarlike siektes nie, maar vier.” 

Sonia is skielik bewoë. “Dit was ’n enorme skok. Ek was natuurlik eers verskriklik ontsteld en hartseer, maar later het ek besef daar is niks wat ek daaraan kan doen nie – ek kan net terugbaklei.”

Sy het agt maande lank chemoterapie ontvang voor die behandeling weens covid-19-gevalle by die provinsiale hospitaal onderbreek is. Meer onlangs het Sonia ook bestraling ontvang omdat die kanker volgens dokters nie genoegsaam op die chemoterapie reageer nie.

“Ek lewe elke dag asof daar nie ’n môre is nie,” sê sy opnuut emosioneel.

Wanneer sy moed verloor, probeer sy sterk bly vir haar kinders, Sonlia (4) en Aubrey (21 maande).

Sonia Oosthuizen
Sonlia saam met haar kleinboet, Aubrey. Haar kinders is haar álles, sê Sonia. Foto: Verskaf

“Dit is die verskriklikste ding om met hierdie diagnose te leef. Dis asof jy elke oomblik die dood verwag; asof jy verwag dat jy enige oomblik sal ophou asemhaal. Ek weet nie wanneer my laaste dag is nie, maar ek is ’n mamma van twee – ek moet sterk bly vir hulle en hoop dat ek hierdie nare ding kan oorwin,” sê sy.

Onlangs het nóg ’n terugslag die gesin getref: Dokters het bloedklonte by Sonia opgemerk en Braam, wat met die vervaardiging van masjinerie werk, is sy inkomste kwyt.

“My man doen sy absolute bes en ondersteun my soos niemand anders nie, maar hierdie was die heel laaste ding wat ons nodig gehad het. Want benewens die feit dat ek ernstig siek is, word die skuldlas net erger en erger. Ons is reeds ons motor en huis kwyt en woon tydelik by vriende wat ons bystaan. Dis moeilik om te probeer positief bly,” sê Sonia.

Maar sy doen, verduidelik sy – vir haar kinders. 

“Ek weet die noodlot het ons nou onder ons voete uitgeslaan, maar ek glo ons sal weer opstaan. Ons sal veg en seker maak ons kom deur hierdie ding, ons het nie ’n keuse nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe