Kruger millions man Nicolaas Fouche
Nicolaas Fouché van Meyerton in Gauteng beweer die Krugermiljoene is onder ’n vervalle ou huis op ’n hoewe buite dié dorp versteek. Hoe het hy die tergende raaisel opgelos? Speurwerk, natuurlik, en met die hulp van ’n ontslape vriend.

Die brandmaer man met die lustelose grys poniestert wat so op sy krukke aansukkel lyk allesbehalwe soos jou tipiese skattejagter. Om die waarheid te sê lyk dit nie of hy veel met ’n pik en graaf sou kon uitrig nie. 

Maar as ’n mens so na Nicolaas Fouché (63) luister het hy een van die tergendste geheime in ons land se geskiedenis opgelos, en is daar ’n fabelagtige skat hier onder ons voete op die kleinhoewe buite Meyerton, Gauteng. Hy moet dit net uit die grond haal . . . 

Sien, Nicolaas is oortuig daarvan hy het die legendariese Krugermiljoene opgespoor. Die einste goue ponde wat die bebaarde president van die Transvaalse Republiek glo laat versteek het voor hy en sy kabinet per trein landuit gevlug het met die Kakies kort op hul hakke. 

“Ek weet mense gaan sê ek’s mal,” sê Nicolaas terwyl hy met skrefiesoë deur sy sigaretrook na jou tuur. “Maar ek sê jou nou: Ek dink nie die skat is hier begrawe nie, ek weet dit is.” 

Talle fortuinsoekers soek al meer as ’n eeu lank vrugteloos na die legendariese goud en geldmunte van die destydse staatstesourie in Pretoria wat glo op Kruger se trein gelaai is voor dit na die Mosambiekse grens gestoom het. Boonop glo baie historici dis snert. 

Maar Nicolaas laat hom nie afskrik deur mense hier in die Vaaldriehoek wat glo hy is die kluts kwyt nie. “Ek hoor mos hoe hol die grond onder my voete is,” sê Nicolaas en stamp-stamp met sy kruk op die vloer van die huurhuisie waar hy “die sekuriteit” is. 

Hy dolwe nou al sowat een jaar lank die werf om op soek na die ondergrondse gange vol skatte wat hy glo hier is. En hy het immers spesiale hulp uit die Doderyk . . . 

Hy teug weer aan die sigaret wat permanent op sy lip hang voor hy verduidelik: Sy vriend Martin Erasmus is in Desember weens gangreen dood. Maar hy het nagelaat om Nicolaas, ’n opgeleide sweiser, te betaal vir al die los werkies wat hy deur die jare vir hom gedoen het.

“Ek dink Martin voel hy skuld my geld,” sê Nicolaas. “Dis dié dat ek sy geestestem so ’n paar maande gelede vir die eerste keer gehoor het. Hy het vir my gesê presies waar ek moet grawe.”

Sterk en gesond is Nicolaas nie meer nie, maar so sukkel-sukkel het hy al so 10 gate in en om die ou huisie buite Meyerton gegrawe. Dat hy nog nie ’n pennie daarvoor kan wys nie, skeel hom nie. 

“Martin het die anderdag vir my gesê waar nog ondergrondse gange is. Dis net ’n kwessie van tyd voor ek die geld opgrawe,” hou hy vol. 

En dan? Hy gee ’n stoute laggie voor hy antwoord. “Dan sal ons maar moet sien hoeveel die goewermint dink my toekom.”

Kruger millions man Nicolaas Fouche
Die vervalle huis is glo 151 jaar gelede gebou – drie dekades voor die Krugerponde glo op Kruger se trein gelaai is voor dit na die Mosambiekse grens gestoom het. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

‘Almal dink ek is mal’

Nicolaas loop met kort, moeisame treetjies tot in die hoek van die eenvoudige kombuisie. Dis hier waar hy vermoed iets is onder die huis versteek. 

Hy woon eintlik ’n paar erwe hiervandaan in ’n woonwa, maar tree op as “veiligheidswag” sedert daar laas jaar hier ingebreek is. Die eienaar woon elders, maar wil nie sy naam bekend maak nie. Ook die huurder wat tans hier woon, wil niks sê nie. 

“Kyk,” sê Nicolaas geesdriftig en stamp weer met sy krukke op die novilonvloer. Hy loop al jare met krukke nadat hy as kind polio gehad het. “Hoor jy? Dis hier waar ek die eerste keer besef het die grond is hol.” 

Hy doen dieselfde in die eetkamer en toe in die leefkamer. “Die gewone ou sal dit nie hoor nie . . .  Maar ek hét.”

Aanvanklik het hy nie veel gedink van die “hol geluide” onder die betonvloer nie, erken Nicolaas. Maande en weke het verbygevlieg. Toe gaan Martin dood . . . en toe gebeur dit.

“Ek het hier in die kombuis gesit toe ek die eerste keer ’n stem hoor. Eers het ek nie geweet wie of wat dit kan wees nie, maar ek het gou besef dis Martin. Sy stem klink soos dié van ’n regte mens, en hy het gesê daar is meer agter hierdie ding as wat ek vermoed.” 

Hy steek nog ’n sigaret op. “Ek weet almal dink ek is mal,” sê hy en verstik aan die bolle rook soos hy lag. “Ek sou seker ook so dink as ek die storie van iemand anders moes hoor. Maar dis waar, sê ek jou. Almal sal sien.” 

Krugermiljoene
Een van tientalle gate op die erf wat Nicolaas gegrou het op soek na die Krugermiljoene. Die gate is almal weer opgevul. Foto: Skermskoot/Christiaan Cloete/Vaalweekblad/YouTube

Martin het hom vertel van ’n holte aan die buitekant van die kombuis. Met ’n vierpondhamer en graaf het hy begin soek. Niks. Nog nie . . . 

Maar hoe meer hy grawe, hoe meer tekens is daar, beweer hy. Riviersand onder die fondasie, spoelklippe in en om die erf. “En toe vind ek so ’n paar maande terug uit die huis is 151 jaar gelede gebou. Dit het dus al hier gestaan toe die goud versteek is. Alles dui daarop dat ek reg is.” 

Hy wys ons sy belangrikste vonds op die erf. Vir jou lyk dit dalk soos ’n gewone gat, maar vir hom is dit “iets soos ’n valdeur”. Hy glo die ondergrondse gange lê dieper, maar hyself kon nog net so diep soos sy eie skouerhoogte grawe. 

“Weet jy hoe moeilik is dit vir my om te grou? Ek is oud en kruppel. Sommige dae pyn my lyf net te veel. Maar op dae wat dit goed gaan, grou ek heeldag. Dis hier waar ek gaan aanhou grou, want ek weet dit gaan die moeite werd wees.” 

En as hy nie reg is nie? Hy lag weer. “Ek is daarvan seker soos ek seker is ’n mens moet asemhaal om te bly leef. Dis ’n feit,” hou hy vol. 

“Martin wou my altyd so graag ’n geldjie gee vir my werk. Ek het altyd gesê dis nie nodig nie, maar hy het volgehou hy sal my eendag betaal. 

“Nou, met hom aan die anderkant, kom hy sy woord na.” 

Kruger millions man Nicolaas Fouche
Talle fortuinsoekers soek al meer as ’n eeu lank vrugteloos na die legendariese goud en geldmunte van die destydse staatstesourie in Pretoria. Foto: Gallo Images

‘’n Paar miljoen vir my moeite, asseblief’

Die legendariese Krugerponde is nie al wat hier onder ons voete lê nie, glo Nicolaas. 

“As ek eers op die regte plek grou gaan ek selfs diamante, vuurwapens en ander goudstawe hier opgrawe. Ek kan dit voel.” 

En die huurder van die sogenaamde skattehuis?

“Ek weet nie. Almal hier dink hy is stapelgek. Ek het ook,” antwoord sy huiwerig. “Maar nou . . . Jong, ek weet nie. Dit wil klink of sy sommetjies sin maak.” Ander hoewebewoners skud hul kop in ongeloof maar wil nie aangehaal word oor die koddige skattejag in hul midde nie. 

Nicolaas lag dit alles af. “Mense sukkel om dinge te glo wat hulle nie kan sien nie. Maar ek weet ’n mens kan sien met soveel meer as net jou oë. Eendag, baie binnekort, gaan hulle jammer wees hulle het gedink ek is die kluts kwyt.” 

Maar wat dan gebeur? 

“Nee, dan moet die goewermint maar sê,” sê Nicolaas. “Ek is 63 en kruppel, ek gaan nie nou tronk toe nie. Maar ek dink hulle sal verstaan dat ek minstens ’n paar miljoen verdien . . . “

En hy proeslag weer so tussen die rookbolle deur terwyl hy sy kop effens skeef draai so half asof hy Martin se bemoedigende stem daar van die anderkant af hoor.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe