Jana Jansen
Jana Jansen sê daar is een maand nadat haar man, Clyde, in ’n tref-en-trap ongeluk betrokke was, steeds geen prognose oor die pad vorentoe nie. Foto: Verskaf

Sy het gedink haar man is dood toe sy hom in die pad sien lê oomblikke nadat hy die slagoffer van ’n tref-en-trap-ongeluk geword het, sê Jana Jansen (48) van Meyerton in Gauteng.

Jana en haar man, Clyde (51), was op 4 April op pad na die Panorama-vlooimark in die suide van Johannesburg toe ’n motoris oor ’n rooi lig jaag en teen Clyde se motorfiets bots. Jana was meters agter hom – ook op haar motorfiets – en het gesien hoe hy deur die lug geslinger word. 

Die ongeluk het op die hoek van Swartkoppiesweg en Kliprivierrylaan – by die Mall of the South – gebeur.

Jana Jansen
Die motorfietswrak. Foto: Verskaf

Meer as ’n maand ná dié ongeluk is Clyde steeds in die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park – en kon dokters steeds nie ’n prognose maak oor hoe die pad vorentoe lyk nie. Niemand is al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Ek is woedend. Nee, verby woedend,” sê Jana vandag. “Dis ’n maand later en steeds is daar gaan leidrade oor die bestuurder nie. As hy maar net besef wat hy aan my man gedoen het.”

Sy onthou elke oomblik van die ongeluk in die fynste besonderhede. Dis immers dieselfde toneel wat in haar nagmerries aanhou draai.

“Ons het by ’n rooi lig stilgehou en weggetrek die oomblik toe dit groen word. Toe kom ’n kar uit ’n aankomende baan en tref Clyde teen ’n hoë spoed,” sê sy.

Jana Jansen
Wrastukke van Clyde se motorfiets lê oor die pad verstrooi. Foto: Verskaf

Sy het soos ’n “besetene” geskree, vertel Jana. 

“Ek onthou hoe hy deur die lug getrek het; hoe die motorfietsparte in honderde stukke deur die lug gevlieg het. Ek het stilgehou en na hom gehardloop – ek het gedink hy is dood. Bloed het uit sy neus en mond gestroom. Ek kon dadelik sien sy linkerbeen is gebreek; so ook sy regterarm- gewrig- en middelvinger. Dit het gelyk of hy nie asemhaal nie.” 

Die wrakstukke van Clyde se motorfiets het oor die pad gestrooi gelê. 

“Ek onthou hoe ek histeries na my man gehardloop het, maar ook hoe die motoris doodeenvoudig weggejaag het. Toe het ek nog gedink ek gaan hom nie nou agterna sit nie – nie terwyl ek nie eens weet of my man leef nie.” 

Jana Jansen
Clyde is steeds in die Netcare 911 Rehabilitasie-hospitaal in Auckland Park. Foto: Verskaf

Clyde is na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton geneem. Hy was drie dae lank onder verdowing en is later geopereer om onder meer sy  gebreekte bobeen en gewrig, sy arm en neus asook sy skouer en elmboog te herstel. Dokters moes selfs ’n pen in sy regtermiddelvinger laat sit – die enigste ander opsie was ’n amputasie.

Clyde is sedertdien na die Netcare-rehabilitasiehospitaal in Auckland Park oorgeplaas, maar ’n lang herstelpad lê nog voor.

“Dís wat my so woedend maak,” sê Jana. “Om te dink die man wat dit aan hom gedoen het, het bloot van die toneel weggejaag en doen glad nie verantwoording vir sy daad nie.

“Hy sien nie dat my man steeds nie kan loop nie, hy weet nie hoe hy moes veg vir sy lewe nie. In hierdie stadium is dit nie eens duidelik of Clyde binne die volgende ses maande weer sal kan loop nie. Dit maak mens verbitterd.” 

Jana Jansen
Jana en Clyde saam met hulle kleinseun, Kylo. Foto: Verskaf

Sy en haar man was altyd kranige motorfietsryers, sê Jana. Maar nou is sy selfs besig om haar eie motorfiets te verpand.

“Ons het altyd met elke geleentheid op die motorfietse gespring om êrens heen te ry. Maar nou, met al Clyde se beserings, weet ek nie of dit ooit weer moontlik gaan wees nie. Ek weet ek wil nie – ek kan nie eens vir die motorfiets kyk nie,” sê sy.

Sy troos haar hieraan, sê Jana: Haar man is sterk en sal terugbaklei – al is sy herstelpad ook hoe moeilik.

“Een ding is seker: Ja, dis vir ons moeilik en goor, maar ons gaan lê nie. Hy leef en dis die belangrikste. Nou hoop ons net dat die polisie iemand sal vastrek nie – nie omdat ons wraaksugtig is nie, maar omdat iemand verantwoording moet doen.” 

  • ’n Klag van roekelose en nalatige bestuur is by die polisie in Mondeor geopen, sê kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die saak word tans ondersoek.”  
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe