Die ski-ongeluk het tydens 'n gesinsvakansie by Combe de Saulire in die Franse Alpe gebeur toe Michael en sy seun, Mick, saam gaan ski het. Die ski-helling word as een van die bestes ter wêreld beskryf en die Schumachers het jaarliks hul Kersvakansies daar deurgebring.

Maar op daardie byna noodlottige oggend het hy en Mick afgewyk van twee roetes, waarskynlik om die vars sneeu te takel.

Die Mauduit- rooi roete en die La Biche-roete bied albei 'n stewige uitdaging aan ervare skiërs, soos Michael en Mick. Vars sneeu kan die Mauduit hobbelrig maak en La Biche is weer plek-plek baie styl en vinnig.

Om 11:16 het die Schumachers se lewe onherroeplik verander toe Michael val en 'n rots tref. . .

Michael het twee lewensreddende operasies in die Grenoble-hospitaal ondergaan en is vier maande lank in ’n medies geïnduseerde koma gehou. Dit het die hart van sy aanhangers wêreldwyd gebreek.

'Michael veg steeds'

Maar die voormalige Ferrari-baas Jean Todt het onthul Michael (48) “veg steeds”.

“Ons mis Michael. Hy is steeds hier, veg nog,” het Todt op ’n plegtigheid gesê ter bekendstelling van die Internasionale Automobiel Assosiasie (FIA) se heldesaal om renjaerlegendes te vereer, berig The Express.

“ ’n Stryd is aan die gang. Michael is baie spesiaal, baie spesiaal vir motorsport. Hy is ook spesiaal vir my; hy is ’n vriend.”

Volgens Daily Mail het die Formule 1-kampioen se bestuurder, Sabine Kehm, bygevoeg: “Ons almal weet Michael moet hier wees, en ek is seker hy sou graag wou. Hy het altyd die uiterste respek vir almal in dié vertrek gehad. Hy sou baie geëerd gewees het.

“Wat Michael so spesiaal gemaak het en wat hom so suksesvol gemaak het, was sy liefde vir die sport. En dit verbind hom aan almal hier.”

‘ ’n Lang en moeilike pad vorentoe’

Michael is in April 2014 uit die koma gebring en na ’n hospitaal in Switserland verskuif voor hy in September 2014 na sy gesinshuis aan die meer van Genève teruggekeer het.

“Van nou af sal Michael se rehabilitasie by sy huis plaasvind,” lui ’n verklaring wat die familie destyds uitgereik het.  

“Met inagneming van die ernstige kopbeserings wat hy opgedoen het, is vordering in die afgelope weke en maande gemaak.

“Maar daar lê nog ’n lang en moeilike pad voor.”

 ‘ ’n Duidelike streep tussen die openbare en privaat lewe’

Volgens The Mirror het Michael se prokureur, Felix Damm, in 2016 in die hof gesê sy kliënt “kan nie loop nie”.

Dit was tydens die hofverrigtings nadat die Schumacher-familie die Duitse tydskrif Bunte gedagvaar het, want hulle het in Desember 2015 berig die voormalige kampioen kan weer loop.

The Express berig die publikasie is nou beveel om skadevergoeding van €50 000 (sowat R825 000) aan die Schumachers te betaal.

In Desember 2016 het Michael se agent, Sabine Kehm, die familie se wens herhaal om sy toestand privaat te hou.

“Michael se gesondheid is nie ’n openbare kwessie nie; daarom sal ons aanhou om geen kommentaar in daardie verband te lewer nie.

“Michael het konsekwent ’n duidelike streep tussen die openbare en privaat lewe getrek, wat altyd deur die aanhangers en die media aanvaar is.

“Die besluit om sy privaatheid teen die publiek te beskerm, is in Michael se belang nagekom.”

Sy vrou, Corinna (48), het vir die eerste keer sedert die ongeluk gepraat toe sy op 14 November vanjaar ’n verklaring uitreik waarin sy die erns van haar 48-jarige man se besering uitdruk.

“Die besluit om sy privaatheid teen die publiek te beskerm, is in Michael se belang geneem. 

“Ons het dit duidelik gemaak iets ernstigs het gebeur.”

In sy pa se voetspore

Michael se seun, Mick, was die middelpunt van belangstelling by die Belgiese Grand Prix in Augustus vanjaar toe hy ’n paar demonstrasie-rondtes om die Spa-Francorchamps-baan ry ter viering van die 25ste herdenking van sy pa se eerste oorwinning.

The Telegraph berig Mick (18) het voet in die hoek gesit in dieselfde 1994 Benetton Ford B194 wat Michael in 1991 bestuur het.

“Dit was wonderlik. Dit was vir my ’n plesier om te bestuur en dit was emosioneel en pret en fantasties. Daar’s baie geskiedenis daaraan en ek is baie bly ek kon dit bestuur,” het Mick agterna aan die BBC gesê.

Volgens The Express het die tiener ’n pasgemaakte helm vir die geleentheid gedra.

Die helfte was versier met die kleure wat sy pa gedra het toe hy vir die Benetton-span gejaag het, terwyl die ander helfte Mick se eie ontwerp op gehad het.

“Ek skat dis net goed om albei kante op te hê. Ons het steeds ’n groot stuk geskiedenis daarmee en om dit op my helm te kan sit, is nog ’n stap,” het hy gesê.

Nog 'n wenner uit die Schumacher-stal

Terwyl haar broer gek is oor meganiese perdekrag onder die enjinkap, is Gina Maria Schumacher (20) gek oor regte perde, net soos haar ma. Sy is 'n amateur-kampioenruiter.

In Augustus vanjaar het sy 'n goue medalje tydens die Internasionale ruiter-federasie (FEI)-wêreldkampioenskap in Parys met haar ruiterkuns gewen.

Sy het die hoogste puntetelling onder al die ruiters behaal in 'n kompetisie wat nie net op die fynere kunsies van dressage fokus nie, maar ook die ratsheid van perd en ruiter beoordeel. Met finesse gedoen, natuurlik!

Haar ma en broer, asook haar grootouers, was teenwoordig toe sy haar indrukwekkende vertonings lewer.

Die Schumacher-kroos volg nie net in hul pa se kampioen-voetspore nie; hulle doen dit met oorgawe.

Power?? is the most persuasive rhetoric #keepfighting #woodybesthorse #loveforeveryone

A post shared by Gina Schumacher Offical (@gina_schumacher) on

Twee pragtige oomblikke tussen pa en dogter.

MICHAEL SCHUMACJER
  • Michael was ’n omstrede jaer wat F1-aanhangers in hoofsaaklik twee kampe verdeel het – óf jy was ’n Michael-aanhanger óf nie.
  • Die tragiese ongeluk wat Michael (toe 44) in ’n koma gelaat het, het op 29 Desember 2013 plaasgevind toe hy en Mick (toe 14) by Combe de Saulire gaan ski het.
  • Die impak waarmee hy die versteekte rotspunte getref het, was intens genoeg om sy valhelm te kraak.
  • Dit sou volgens verskeie medici juis die valhelm wees wat Michael se lewe gered het.
  • Die daaropvolgende jaar het valhelmverkope - iets wat 'n dekade gelede nog afgelag sou word - die hoogte ingeskiet. 'n Geraamde 80% skiërs en sneeubord-geesdriftiges het valhelms begin dra.
  • Met sy 46ste verjaardag het die Italiaanse dagblad Corriere della Sera berig: “Michael se oë is oop, maar hy staar dikwels in die niet. Die afgelope tyd herken hy die bekende gesigte van sy gesin, maar hy kan nie met hulle kommunikeer nie.”
  • In dieselfde berig is genoem dat Michael huil wanneer hy sy kinders of sy vrou se stem hoor.
  • Weinig of geen nuus oor Michael se toestand is bekend. Sedert sy ongeluk is nog geen foto van hom uitgereik nie.
  • Op 4 Desember 2017 word Michael Schumacher vereer deur by die Internasionale Automobiel Assosiasie (FIA) se heldesaal in Parys ingelyf te word. Sabine Kehm het die prys namens hom ontvang.
  • In die sosiale media is ’n veldtog van stapel gestuur om die voormalige kampioen aan te spoor om te bly veg. #KeepFightingMichael


SABINE KEHM

Op die dag van Michael se ski-ongeluk was Sabine by haar ouers. Toe bel 'n Franse joernalis haar oor die ongeluk en wou bevestiging by haar daaroor verkry.

"Ek het besef dis baie ernstig en was die volgende oggend by die hospitaal in Grenoble," vertel sy.

Dit was egter die fiasko wat by die hospitaal op haar gewag het, wat haar tot die uiterste beproef het.

"Dit was soos jag-koors. Een joernalis het voorgegee hy is 'n priester, die ander een dat hy Michael se pa is."

Hoe voel sy oor Mick (18)?

"Mick doen dit perfek, hy doen dit op sy eie manier en daar kan nie druk op hom uitgeoefen word nie. Dit neem tyd om 'n volwaardige renjaer te word."

#KeepFightingMichael

Bronne: f1i.com, bernerzeitung.ch, parismatch,com, express.co.uk, mirror.co.uk, telegraph.co.uk