“Dit is die soort mens wat my pa was. Hy het altyd teruggegee en nooit iets in ruil verwag nie,” sê Dirkie Rademan (21). 

Dirkie se pa, Dirk (46), het sowat drie weke gelede positief getoets vir die virus en is na die Life Midmed-hospitaal in Middelburg geneem nadat sy suurstofvlakke gedaal het.

“Dit het goed gegaan met my pa. Sy suurstofvlakke het verbeter en ons het gedink hy gaan deurdruk.” 

Maar toe ervaar Dirk ’n terugslag. 

“Hy het my verlede week gebel en gesê hy het nie ’n goeie naweek gehad nie.” 

Dirkie se ma, Jackie, kon vir Dirk verlede Woensdag in die hospitaal gaan kuier. 

“My pa het vreeslik gesukkel. Sy suurstofvlakke het weer gedaal, en die Donderdag het dokters vir ons gesê hy gaan na die intensiewesorgeenheid geskuif moet word.” 

Dirk het egter geweier om oorgeplaas te word. 

“My pa wou nie, al het ons gesoebat en gesê hy het hierdie kans. Daar is ’n bed beskikbaar. Hy moet dit vat sodat hulle hom kan help. 

“Maar my pa wou nie. Hy het gesê daar is baie ander mense wat ook sukkel en wat die bed nodiger het as hy.” 

Dirkie sê dis hoe sy pa was. “Hy het altyd ander mense se behoeftes bo sy eie gestel. Hy sou by die plaaslike ouetehuis gaan help met herstelwerk en hy het nie ’n sent daarvoor gevra nie. Die oumense sou gereeld vir hom melktert bak om dankie te sê.” 

Dirk is verlede week op 23 Junie in die hospitaal oorlede. 

“My pa was steeds positief al het hy nie die bed in die ICU gevat nie. Hy het gesê hy gaan aanhou baklei, maar dit was nie genoeg nie.” 

Volgens Dirkie het ’n man met onderliggende gesondheidsprobleme Dirk se bed in die intensiewesorgeenheid gekry. 

“As dit dalk nie vir my pa was nie, het die man dit nie gemaak nie. Dit gaan baie goed met die man. Hy het amper ten volle herstel en gaan hierdie week ontslaan word.” 

Verwyt Dirkie sy pa dat hy nie die bed gevat het nie? 

“Glad nie. Dit was my pa se tyd. Hy het geweet die Here gaan hom kom haal, en hy het voor sy dood ’n laaste goeie gebaar gehad en iemand anders se lewe bo syne gestel.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.