’n Plaaslike platejoggie van die dorp het besluit om dorpenaars weer hoop te gee met ’n verskeidenheid van Christelike liedjies en tans luister selfs mense vanuit Kanada, Londen en Nieu-Seeland na sy speellys. 

Werner Malan en sy vrou, Maryna, het verlede jaar deur ’n besonderse moeilike tyd gegaan toe sy in Oktober in ’n winkelsentrum gegly het en haar enkel gebreek het. 

“My vrou het haar eie besigheid waar sy koeke bak en haar besering het veroorsaak dat sy nie meer gereeld aflewerings kon maak nie. Dit het ’n groot knou op ons finansies gehad.” 

Maar hy sê hulle het vasgebyt en op die Here vertrou. 

“Januarie het dit weer beter begin gaan en ek kon nuwe toerusting vir my platejoggie-besigheid aankoop. Ek het toe besluit ek wil die toerusting gebruik om vir die Here dankie te sê en ’n stadion uitboek en lofgesange daar speel, maar die virus het my planne in die wiele gery.” 

Werner het toe besluit om sy klanktoerusting buite sy huis op te stel en ’n Facebook-groep, Lofprysing in Lockdown, te begin. 

Platejoggie
Werner Malan van Middelburg het besluit om hoop vir die dorpenaars te bring. Foto: Verskaf

“Ek wou vir die boodskap daar buite bring dat God groot is en dat daar hoop is.” 

Die groep is Woensdag begin en Werner het binne 48 uur oor die 2 000 lede op die groep gehad wat elke aand om 19:00 saam na sy speellys luister. 

“Ons doen ’n live video op die groep waar almal hulle fone aan hulle klankstelsels koppel en op die gelyke tyd na liedjies soos Onse Vader en Juanita du Plessis se Christelike liedjies luister.” 

Hy sê daar is sowat sewe platejoggies in Middelburg en agt in Witbank wat ook 19:00 hulle klanktoerusting buite op stel en saam die speellys speel. 

“Ons het ook ’n WhatsApp-groep waar mense by kan aansluit. Ons deel daar die speellys vir mense.

“Ons het in hierdie tyd met die virus hoop meer as ooit nodig en talle mense het al vir my dankie gesê dat ons weer blydskap en genade na hulle huise toe bring.

”Die speellys verander daagliks en word aangestuur soos dit voltooi word.

  • Persone wat op WhatsApp bygevoeg wil word, kan Werner WhatsApp by 073463 5100.