Dis genoeg geld om te waarborg hy kan vir die res van sy lewe reis en al sy drome waar maak, maar daar is een ding wat Craig Coley nié sal kan doen met die R289 miljoen vergoeding wat ’n hof onlangs aan hom toe­gestaan het nie: die 37 jaar van sy lewe terugkry wat van hom gesteel is. 

Craig (72) kon nooit trou of ’n pa en ’n oupa word nie, en hy moes met die seer saamleef dat sy ouers met ’n diepe skaamte oor hom na hul graf is – en dit alles omdat hy amper vier dekades ge­lede lewenslank tronk toe gestuur is vir ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. 

In 1980 het ’n jurie in Amerika hom aan die grusame dubbele moord op sy eksmeisie, Rhonda Wicht (24), en haar vierjarige seun, Donald, skuldig bevind.

Hulle is in haar woonstel in Simi Valley, ’n distrik van Los Angeles, dood gekry. Sy is aangerand, verkrag en verwurg en haar kind is in sy bed versmoor.

hegtenis,moorde,onskuldig,tronkstraf
Craig is in hegtenis geneem vir die dubbele moord op sy eksmeisie, Rhonda Wicht, en haar seun, Donald, in 1978. Foto's: SVPD

Baie mense was bly om te sien Craig word tot lewenslange tronkstraf sonder parool gevonnis. Maar toe skokkende nuwe bewyse twee jaar gelede aan die lig kom, het dit geblyk die verkeerde man is destyds tronk toe gestuur. 

Craig was 33 toe hy sy tronkstraf begin uitdien het en 70 toe hy teen die einde van 2017 eindelik vrygelaat is. Hoe vergoed jy ’n man vir so baie verlore tyd? 

Sy onlangse uitbetaling van R289 miljoen deur die distrik van Simi Valley is die grootste wat nog in Amerika vir wederregtelike gevangen­skap toegeken is.

Maar al het Craig die skikking aanvaar, sê hy geen hoeveelheid geld kan hom ooit vergoed vir die “nag­merrie” van 13 991 dae in die tronk nie.

Nadat Rhonda en Donald se lyke in November 1978 ontdek is, is Craig, ’n Viëtnamveteraan, binne ure in hegtenis geneem. 

Bure het gesê hulle het halfvyf die oggend ’n struweling gehoor en een het gesê sy het Craig in sy bakkie sien wegry.

Hy het twee jaar met Rhonda, ’n kelnerin en skoonheidstudent, uit­gegaan, maar hulle was “in die proses van uitmaak”. 

Rhonda is verkrag en met ’n macramé-tou verwurg, en haar seun is versmoor, vermoedelik om te verhoed dat hy die moordenaar uitken.

Daar was geen teken van gedwonge toegang tot die woonstel nie en die polisie het gemeen iemand het die misdaadtoneel soos ’n inbraak laat lyk. 

Al kon Craig, die seun van ’n veteraanspeurder van Los Angeles, ’n waterdigte alibi verskaf – dat hy tydens die moord saam met vriende partytjie gehou het –  het hy die hoofverdagte gebly.

Hy het steeds sy sleutel vir Rhonda se woonstel gehad, en toe die polisie sy huis deursoek en ’n kind se T-hemp en ’n bebloede handdoek kry, is hy in hegtenis geneem.

Eers later het dit geblyk die slagoffers se DNS was nie op die items nie.

onskuldig,tronkstraf
Craig Coley is in hegtenis geneem en tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moorde wat hy nie gepleeg het nie. Foto: SVPD

Van dag een af het Craig volgehou hy is onskuldig.

“Toe hulle my in hegtenis neem, het ek gesê: ‘Kyk, doen wat julle wil aan my, maar hou aan soek; moenie ophou nie – julle het die verkeerde man.’”  

Kort voor lank was hy in die hof op aanklag van moord.

Die bewyse was so wankelrig dat die jurie in die eerste verhoor in 1979 nie op ’n beslissing ooreen kon kom nie. Maar in nog ’n verhoor die volgende jaar is hy skuldig bevind.

In 1989 was daar egter ’n wending.

Mike Bender, ’n speurder van Simi Valley, het deur ou lêers gewerk toe hy van Craig se saak lees. Hy het teenstrydighede gesien en dit by sy base ­geopper.

Toe hulle hom ignoreer, het hy die ondersoek op sy eie voortgesit. Amper drie dekades lank het hy staats­wetgewers, vele goewerneurs en kongreslede versoek om die saak te laat heropen. 

“Dit het my gemotiveer dat daar niemand anders was om dit te doen nie,” sê Mike (61). “Ek was daarvan oortuig ’n onskuldige man is in die tronk.”

onskuldig,tronkstraf,moord
raig saam met die speurder Mike Bender (regs) en sy familie ná sy vrylating. Foto: Facebook/ Craig Coley – The Truth Set Him Free

Nadat hy Craig in 1991 die eerste keer besoek het, het sy seniors hom voor ’n ultimatum gestel om sy ondersoeke te staak of die risiko te loop om sy werk te verloor.

Hy het toe uit die polisie bedank sodat hy kon aanhou om vir Craig se vryheid te veg. Sy deursettingsvermoë het eindelik vrugte afgewerp.

In 2016 is speurders wat aan onopgeloste sake werk, toe­gewys om weer na die saak te kyk.

Hulle het die laken waarop Rhonda se lyk gekry is, ondersoek met forensiese tegnologie wat nie in 1978 beskikbaar was nie.

Dit het nie die geringste spoor van Craig se DNS getoon nie. Wat dit wel bevat het, was duidelike bewyse van die sperma en moontlik speeksel van ’n ongeïdentifiseerde man.

Hulle het toe die woonstel besoek van die buurvrou wat beweer het sy het Craig se bakkie gesien.

Toe hulle by die venster uitkyk, het hulle gesien sy sou geen voertuie wat buite geparkeer was duidelik kon sien nie, nog minder die mense wat dit bestuur.

onskuldig,tronkstraf
Craig geniet ontbyt as ’n vry man. Foto: Facebook/ Craig Coley – The Truth Set Him Free

Craig is vrygespreek danksy die oorweldigende bewyse – net betyds om Dankseggingsdag saam met Mike en die Benderfamilie deur te bring. 

In ’n gesprek met joernaliste het Craig dit as “die dankbaarste dag van my lewe” beskryf.

Dit het boonop aan die lig gekom hy was ’n modelgevangene. Hy het hom aan godsdiens gewy, twee universiteitsgrade behaal en aan sy meestersgraad begin werk.

Hy het later onthul een van die eerste dinge wat hy ná sy vrylating gedoen het, was om sy ouers se grafte te besoek. “Ek wou hulle laat weet hulle kon steeds op my trots wees.”

Mike het onthul Craig wil al sy ver­goedingsgeld gebruik om plekke op sy emmerskoplys te besoek en ander ­gevangenes te help wat wederregtelik skuldig bevind is. 

Maar die een ding wat hy vasbeslote is om nie te doen nie, is om tyd te mors op verwyte oor al die onregte wat hy verduur het.

Hy wil net met sy lewe aangaan sonder om bitter te wees.

“Hulle het vier dekades van my lewe gevat en ek gaan hulle nie die res daarvan laat vat nie,” sê hy.

“Ek gaan vorentoe beweeg.”

En die ware moordenaar? Dié is intussen óf dood óf steeds op vrye voet.

Bronne: washingtonpost.com, cnn.com, latimes.com