Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is deur
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, is deur pres. Cyril Ramaphosa op spesiale verlof geplaas. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit kon nie op ’n slegter tyd kom nie, en die bewerings kon nie groter ontnugtering veroorsaak nie. Ons bevind ons midde-in ’n pandemie, die derde golf van coronavirusinfeksies is hier, en die inentingsproses verloop nog teen ’n slakkepas – en toe kom die bewering dat die minister van gesondheid by ’n tenderskandaal betrokke is.

En boonop dat geld wat gebruik moes word om die pandemie te bestuur moontlik ter sprake was . . .

Zweli Mkhize het erken die toekenning van die betrokke tender was “onreëlmatig”.

Pres. Cyril Ramaphosa het hom op “spesiale verlof” geplaas terwyl die bewerings teen hom ondersoek word.

Nou neem die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die leisels van die departement van gesondheid tydelik by hom oor – en dít terwyl die plaaslike toerismebedryf weens die inperking op sy knieë is.

Hoe het die jongste krisis ontstaan – en wat beteken dit?

Waaroor gaan die drama?

Die herrie het in Februarie begin met ’n verdoemende onthulling op die nuuswebtuiste Daily Maverick. Dit het die kollig laat val op Digital Vibes, ’n onderneming wat deur Mkhize se voormalige woordvoerder Tahera Mather en sy voormalige persoonlike assistent Naadhira Mitha begin is.

Hulle rol volgens die onthulling in die geld danksy ’n kontrak wat hulle in 2019 met die departement van gesondheid gesluit het om kommunikasiewerk vir die departement te doen.

Die kontrak is toegestaan om kommunikasiewerk oor die beplande nasionale gesondheidsversekeringsprogram te doen, maar dit het glo later kommunikasiewerk oor die covidpandemie ingesluit.

Dit beteken geld wat gebruik moes word om die pandemie te bestuur het moontlik in Digital Vibes se beursie beland.

Daar word beweer dat van hierdie geld boonop teruggevloei het na Mkhize se binnekring. Die kontrak is minstens R150 miljoen werd, maar dit lyk allesbehalwe na welverdiende geld . . .

Ondersoekbeamptes in die departement het trouens gevind dat ’n groot deel van die uitgawes “vrugteloos en ’n vermorsing” was.

  • Digital Vibes is ’n volle R3,6 miljoen betaal om in Desember vir die minister ’n onderhoud met die SAUK te reël waarin hy aangekondig het dat die tweede covidvlaag die land getref het.
  • In Mei het nog bewerings gevolg dat die onderneming minstens twee betalings aan ’n kontrakteur gemaak het vir werk aan ’n meenthuis in Bryanston, Johannesburg. En aan wie behoort die huis? Mkhize se ZLM Trust.
  • Digital Vibes het glo ’n tweedehandse Toyota Land Cruiser-bakkie ter waarde van R160 000 vir sy seun, Dedani (33), gekoop, en R300 000 is glo aan ’n onderneming betaal wat aan Dedani behoort.

EWN berig Mkhize het op 8 Junie op ’n mediakonferensie erken sy familie se verhouding met Digital Vibes was “onvanpas”.

Hy het ontken dat hy sy mag misbruik het, voordeel daaruit getrek het of dat daar ’n belangebotsing was.

Ramaphosa het Mkhize op spesiale verlof geplaas terwyl hy wag op ’n spesiale ondersoekeenheid se verslag oor die bewerings dat hy en van die mense in sy kring baat gevind het by die kontrak.

Dit beteken die gesondheidsminister wat die land tydens die grootste gesondheidskrisis in onlangse dekades moes lei, sit nou tuis met sy hande gevou.

President Cyril Ramaphosa.
President Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Wie moet nou die fort hou?

Ramaphosa het Kubayi-Ngubane, ons minister van toerisme, aangestel om as minister van gesondheid waar te neem terwyl die bewerings teen Mkhize ondersoek word.

Dié besluit het die oë laat rek, want die waarnemende minister weet glo weinig van gesondheid.

Op 43 is sy een van die jongste kabinetslede, en sy het al in verskeie portefeuljes gedien – van energie en kommunikasie tot wetenskap en tegnologie.

Sy is sedert 2019 die minister van toerisme.

Sy was ten spyte van haar moeilike grootwordjare en ’n tienerswangerskap die topleerder aan haar skool en het haar pad tot bo deur die ANC-jeugliga gekap.

Rapport berig haar aanstelling is bloot “seremonieel” aangesien dr. Sandile Buthelezi, direkteur generaal van gesondheid, die dag-tot-dag-bedrywighede van die departement sal hanteer tot die spesiale ondersoekeenheid se ondersoek na verwagting einde Junie afgehandel is.

Mkhize in Februarie toe hy sy inenting in Khayelit
Mkhize in Februarie toe hy sy inenting in Khayelitsha ontvang het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoe raak dit die stryd teen covid?

Mkhize, ’n voormalige mediese dokter wat ook al KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid was, het beswaarlik skitterend presteer sedert hy in 2019 minister van gesondheid geword het, meen die politieke ontleder Tessa Dooms, die direkteur van Jasoro Consulting.

As voorbeeld noem sy die beplande nasionale gesondheidsversekering waar daar “talle blokkasies en onderbrekings was wat sy vermoë betref om die belanghebbendes en die gevestigde belange daarrondom te bestuur”.

Die pandemie het hom die kans gebied om sy geloofwaardigheid ’n hupstoot te gee, sê Tessa, maar sy skielike vertrek kan die publiek se vertroue knou in ’n tyd dat mense na bestendigheid hunker.

Tog meen prof. Sethulego Matebesi, ’n politieke ontleder van die Universiteit van die Vrystaat, dis nie ’n algehele ramp nie. “Ek dink nie daar sal groot uitdagings wees as iemand anders die departement se werk voortsit nie,” sê hy.

Hy wys daarop dat al was Mkhize as minister die sigbaarste lid van die departement dit geen eenmanvertoning is nie – ’n nuwe minister sal toegang tot van die beste breine in gesondheidsorg hê.

Dit kan wel nog vertragings met die ontplooiing van die inentingsprogram meebring, want die nuwe minister sal eers op hoogte van sake moet kom.

Is dit die laaste sien van die gesondheidsminister?

Dit is onwaarskynlik dat Mkhize in sy pos as gesondheidsminister herstel sal word, sê die politieke ontleder Ralph Mathekga.

“Daar is geen manier dat hy gaan terugkom nie. Hy wou uitgestoot word. Hy wou nie bedank nie, want dit sou ’n skulderkenning gewees het.”

Selfs al word Mkhize van skuld onthef en kan hy op ’n manier na die regering terugkeer, sal die oordeelsfout ’n klad op sy rekord wees, voorspel Tessa.

“Ek dink net die persepsie dat hy by die wanbestuur van covidgeld betrokke was tydens ’n krisis wat soveel lewens verwoes het, sal ’n politieke klad wees wat hy nooit sal kan afskud nie.”

Hoekom is hy gouer gepos as ander omstrede politici?

Dit lyk dalk of Mkhize gou moes spore maak, maar kenners meen dit is net omdat Suid-Afrikaners al aan die gesloer gewoond geraak het voor daar teen ANC-politici opgetree word wat by korrupsie betrek word.

Die president moes Mkhize eintlik al in Februarie, toe die tenderskandaal onthul is, uit sy amp verwyder het, glo die politieke ontleder Sethulego Matebesi. Die erns van die bewerings teen die minister en die feit dat daar soveel bewyse was, het dit genoodsaak.

Hy skryf die tyd wat eers verloop het daaraan toe dat politieke oorwegings moontlik groter gewig as etiese oorwegings by Ramaphosa gedra het.

Met die ANC se nasionale verkiesingskonferensie wat volgende jaar gehou word en Ramaphosa wat homself vir ’n tweede termyn verkiesbaar wil stel, kan hy nie bekostig om te veel mense in die party te vervreem nie, sê Sethulego.

Hiermee stuur die president “ ’n uiters problematiese sein” uit, sê die politieke ontleder Tessa Dooms – “dat hy sterk politieke oorwegings in die oog moet hou en dat dit ten koste van die land gedoen word”.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga wys daarop dat Mkhize nie net ’n lid van die party is nie; hy is ook ’n senior figuur in die regering. “Dit beteken hy is onderhewig aan ’n etiese kode vir die uitvoerende gesag, ongeag van wat in die ANC gebeur.”


Wie gaan hom as gesondheidsminister opvolg?

Vier van Suid-Afrika se vyf ministers van gesondheid sedert 1994 was dokters – Mkhize, Aaron Motsoaledi, Manto Tshabalala-Msimang en Nkosazana Dlamini-Zuma.

Maar die politieke ontleder Ralph Mathekga wys daarop dat die minister van gesondheid nie ’n mediese graad hoef te hê nie. “Ministers word nooit bloot op grond van hul kwalifikasies aangestel nie.”

Tog meen kenners Ramaphosa sal dalk geen ander keuse hê as om Motsoaledi of Dlamini-Zuma weer in dié rol aan te stel nie. Albei dien tans in die kabinet – Dlamini-Zuma as minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, en Motsoaledi as minister van binnelandse sake; daarom sal dit bloot ’n herskommeling behels.

Die politieke ontleder Tessa Dooms reken Dlamini-Zuma sal die pos kry. Sy ken die portefeulje en speel sedert die begin van die pandemie ’n groot rol as die ondervoorsitter van die covidbevelsraad.

Dit is haar departement se verantwoordelikheid om toe te sien dat die inperkingsmaatreëls nagekom word.

EKSTRA BRONNE: DAILYMAVERICK.CO.ZA, NEWS24.CO.ZA, TIMESLIVE.CO.ZA
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.