Daar is na bewering ’n bom in die moskee geplant en daarna het die aanvallers met vuurwapens op die Soefi-moskeegangers en ambulanse losgetrek.

Aanvanklik is die dodetal op 155 geskat, maar sedertdien het dit volgens die staatstelevisiediens tot minstens 200 gestyg. Dit is een van die dodelikste aanvalle op burgerlikes in dié land die afgelope paar jaar. Dat die dodetal nog verder kan toeneem, word nie uitgesluit nie.

Pres. Abdel Fattah el-Sisi het ’n noodveiligheidsvergadering byeengeroep.

Skokkende beeldmateriaal is die wêreld ingestuur wat toon hoe tientalle bebloede lyke binne in die moskee verstrooid lê.

Die moskee is in die Sinai-provinsie in die noorde van Egipte geleë.

Tot dusver het niemand verantwoordelikheid vir die aanval probeer neem nie. Die afgelope drie jaar is daar intense gevegte teen die magte van die terreurgroep Islamitiese Staat gevoer.
SOEFISME
  • Dit is 'n mistieke vorm van Islam waar volgelinge na goddelike waarheid en liefde soek deur regstreekse ontmoetings met God.
  • Die naam Soefi is waarskynlik afkomstig van die wolklere wat hulle as simbool van hul verwerping van wêreldse goed dra.
  • Tradisioneel lê hulle 'n eed van armoede en selibaatheid af.

Bykomende bronne: hurriyetdailynews.com, patheos.com