“Ek is so bly hy kom volgende week na ons toe,” vertel Lexi Austen, die stigter van die dierehawe All Hearts Foundation SA naby Hartebeespoortdam, waar Shimbungu nou "vir altyd" gaan bly.

“Hy land volgende week,” vertel sy opgewonde. “Toe ek die video sien, het hy my aan die hart gegryp. Daar was een of twee ander mense wat hom ook ’n tuiste wou gee, maar omdat ons hier baie met getraumatiseerde diere werk, sal ons beter na hom kan omsien,” sê sy aan Huisgenoot.

Haar organisasie sonder winsbejag huisves veral eksotiese troeteldiere – soos wolwe – wie se eienaars hulle nie meer kan of wil versorg nie. Met Shimbungu (wat hiëna in Oshiwambo beteken) het mense hul harte en beursies oopgemaak.

Sy vlug deur Air Namibia is verniet – en onder andere ’n veearts, vervoermaatskappy en  vervaardigers van kratte het ook gratis betrokke geraak om te sorg dat hy veilig in Suid-Afrika aankom.

Ruan du Preez van Ortho Pets Africa in Kaapstad maak vir hom ’n unieke harnas wat sy agterbene oplig as hy vir stappies gaan. “Dit sal help om sy voorbene oefening te gee,” verduidelik Lexi.

“Hy is gewoond aan woestynsand, maar hier by ons kan die sleep van sy agterbene skaafplekke en sere veroorsaak,” voeg sy by. Ruan-hulle gaan ook teen kosprys vir hom ’n spesiale honderolstoel bou.

“Hy sal die res van sy lewe doeke moet dra,” sê Lexi. “Dis ’n baie uitputtende proses om hom te versorg. Binne ses of sewe maande sal ander dalk moeg raak daarvoor om sy doeke te vervang. Hier sal hy die sorg kry wat hy nodig het.”

Shimbungu is ’n Africanis-hond van sewe maande. Hy is in die laaste week van Desember in die klein dorpie Oshikuku in die Omusati-streek deur ’n motor raakgery, vertel Wilmarie Horn, ’n prokureur betrokke by die Oshana Dierebeskermingseenheid (DBV) in Namibië.

’n Inwoner van Oshikuku het op 5 Januarie die hond gesien wat sy agterlyf so oor die sand sleep. Die volgende dag het Nathan en Amore Flutow asook De Wet en Juanita Kruger in die woestyn na hom gaan soek.

’n Tweede span – Wilmari en Gert Bronkhorst – het ook na hom gaan soek, maar hom nie gekry nie. Hulle het wel oral op die dorpie die sleepmerke gekry. En nog ’n inwoner het kom vertel hy het in ’n kanaal geval en iemand het hom gered.

Maandag 7 Januarie het die Otto-gesin dit hul doelwit gemaak om hom te kry. Jannie, Nicolla, Alexander, Yoshua en Louisa het vroegoggend in twee voertuie en met ’n motorfiets begin soek.

Alexander en Joshua Otto saam met Shimbungu nadat hulle hom help red het. Foto: Oshana DBV

Om en by vyfuur die middag het hulle hom by sy eienaar se huis gekry – onder ’n karwrak op die hoofpad na Outapi. Hy het sy lyf meer as 5 km ver gesleep en amper verdrink om weer huis toe te kom.

Die Otto’s was net betyds om hom te red. Shimbungu was vreesbevange en wou enigiemand byt wat aan hom probeer vat het.

Shimbungu onder die wrak waar hy gevind is. Foto: Oshana DBV

’n Veearts van Grootfontein, dr. Lindsay Scott, se hulp is ingeroep om hom in te spuit sodat hy rustig kon word. Inwoners het gehelp om die wrak op te lig en Shimbungu uit te kry, en die eienaar het hom aan die DBV oorhandig.

Nadat X-strale geneem is, kon hulle vasstel sy rug is tussen die L5- en L6-werwel gebreek.

Lexi beloof hy sal baie liefde kry en gelukkig wees by hulle.